Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Vakature: Voltydse leraar
Upington-Moedergemeente glo daaraan dat elkeen spesiaal is en probeer elke lidmaat, van die jongste tot oudste, bedien. Ons glo dat as jy in die kerk is, is jy deel van ons familie.
Ons kinders is baie belangrik en word altyd betrek in eredienste. Ons is ’n dinamiese, diverse en inklusiewe gemeente. ’n Meelewende kerkraad en gemeente met ’n sterk leierskorps stuur die gemeente met diep dankbaarheid en hunkering na God se wil. Ons glo dat God ons gestuur het en elkeen van ons daagliks gebruik om ’n verskil te maak – daar waar jy is met jou eie besonderse gawes.
Upington is ’n pragtige dorp in die hart van die Noord-Kaap wat ’n mens onmiddellik tuis laat voel. Dit is ’n veilige, gemeenskapsgeoriënteerde plek waar mense mekaar ken en omgee, en waar jy kinders in ’n gesonde, rustige omgewing kan grootmaak. Die skole is van uitstekende gehalte, en daar is volop ruimte vir kinders om buite te speel en steeds daardie “plattelandse vryheid” te geniet wat so skaars raak in groter stede. Upington is die perfekte plek om te bly, te werk en ook om jou gesin groot te maak. Upington beskik oor ’n goedtoegeruste Mediclinic privaat hospitaal.
Ons nooi jou graag om aansoek te doen om voltydse leraar van ons gemeente te word.
- Ons wil hê ons leraar moet van binne na buite leef. Ons soek geloofwaardigheid.
- Ons soek nie ’n volmaakte mens nie, maar ’n eerlike en positiewe mens-mens.
- Ons leraar mag nie bang wees om dapper, kreatief, vernuwend en toekomsgerig te dink en doen nie. Tog is tradisie vir ons belangrik.
- As jy ons beter wil leer ken en verstaan, kyk na ons roepingsverklaring. Dit is beskikbaar by ons skriba en sy sal dit graag vir jou e-pos. Ons sal van jou verwag om by hierdie lewende en groeiende dokument in te koop en daaraan deel te neem.
Help ons om jou te leer ken deur ’n CV te stuur na:
moedergemeenteupington@gmail.com.
Die sluitingsdatum vir die ontvangs van jou CV is 31 Oktober 2025. Ons mag dan besluit om jou te nooi vir ’n onderhoud. Diensaanvaardingsdatum is onderhandelbaar.
Ons sal jou graag materieel versorg met ’n onderhandelde pakket vergelykbaar met die sinodale riglyne. Dui vir ons aan met jou aansoek of jy in ons pastorie wil woon of eerder ’n huissubsidie wil ontvang.
Jy is welkom om navrae doen by Jaco van den Heever, ons voorsitter (082 558 7182) of by Izell Riley, ons skriba (066 125 3600/082 374 7979).
Die gemeente behou die reg voor om nie noodwendig ’n aanstelling te maak uit die aansoeke ontvang nie.
