Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Doodsberigte so dié was vir dekades 'n groot deel van Kerkbode se inhoudsaanbod. Maar mettertyd het ook die uitdrukking van rou en verlies na die digitale sfeer verskuif, berig Le Roux Schoeman. Foto's: Kerkbode-argief

In die media: Sterf doodsberigte uit? 

Hoe en hoe gereeld daar in Kerkbode oor dooies gepraat word, is deel van ’n veel groter mediastorie.

 

Nes die sportskrywer sit die skrywer van die doodsberig met die uitdaging om terselfdertyd met twee aparte gehore te praat. Naamlik dié wat óók die wedstryd gesien het / die oorledene geken (of ten minste van hom / haar geweet het). En die res. 

Wanneer ek in die Economist ’n doodsberig oor Sen Genshitsu lees, moet die skrywer ruimte skep vir iemand wat nou vir die eerste keer van dié Japanse tee-ghoeroe hoor asook dié wat deur die jare gevolg het hoe dié vir koningin, pous, kanselier en politikus tee-seremonies aangebied het. En wanneer ek in Kerkbode ’n doodsberig oor Wilhelm Jordaan lees, moet die skrywer aanvaar dat sommige vir drie dekades dié denker se rubrieke in Afrikaanse dagblaaie gelees het, of pas van hom kennis geneem het. 

Wat word verswyg?

Hierdie private uitdaging van die skrywer lê ’n dieper, publieke waarheid oor veral doodsberigte bloot: Daar is met dié artikelsoort veel meer sosiale kragte aan die werk as blote oordrag van ’n nuusgebeurtenis. Wie se dood is nuuswaardig? Watter taal en kodes word ingespan om ’n lewe te beoordeel? Watter nuuskonvensies waak teen die mededeling van watter soort inligting? Het die “behaling” en inhoudelike aard van ’n doodsberig in die koerant ’n uitwerking op hoe die oorledene onthou word? En watter uitwerking het doodsberigte op die leser?

Hierdie soort vrae word verder gekompliseer deur die verminderde status en interne kapasiteit van hoofstroomkoerante wat tot relatief onlangs via In Memoriam-afdelings ’n soort “derde ruimte” gebied het waar dooies gehuldig kon word. Meer publiek as ’n private boodskap en minder beheersd as ’n amptelike verklaring. Die beduidende spasie tussen ’n Whatsapp aan familielede en ’n staatsbegrafnis, dus. 

 

Doodsberigte deur die jare in Kerkbode

Kerkbode is 176 jaar gelede geskep om godsdienskennis te versprei in ’n wêreld honger vir inligting. Wat lewer ’n mini-steekproef uit ons argief op wanneer ’n mens sou kyk na hoe daar oor / met dooies gepraat word in die blaaie van dié kerkblad? Kom ons fokus op die jare 1934, 1964 en dan rondom die 1994 verkiesing en dan 2004. En kom ons hou die bogenoemde merkers ingedagte: watter insig bied ’n ligte diskoersanalise van die tekste en hoe rysmier of vervang sosiale media vermoedelik die rol wat obits in die hoogbloei van papierkoerante gespeel het?

‘Ons teerbeminde’ 

Die oorkoepelende storie van Kerkbode se doodsberigte blyk in twee bane te loop. Eerstens was daar strykdeur die tyd van kleinadvertensies die funksie van vermelding van iemand se dood en die gesin se openbare oordra van privaatgemis. “Sag ontslape op 15 Desember te Vryburg, ons teerbeminde en geliefde moeder en eggenote, in die ouderdom van 77 jaar 4 maande en 19 dae.” Die taal is dikwels eenvormig, altyd formeel en soms roerend. Sy / haar plek is dikwels leeg, haar /sy stem is dikwels stil en die skrywes word ingestuur deur die treurende gesin. In vandag se taal, user generated content. Maar in dieselfde jaar (1934) is daar, naas die doodsberigte wat lesers instuur, doodsberigte waaraan veel meer plek afgestaan word en wat nie op die adververtensieblaaie verskyn nie, maar meer prominent vanuit ’n redaksionele hoek beskou. Wanneer Ouderling Kachelhoffer sterf word daar plek afgestaan aan sy karakter, dade, houding en selfs voorkoms. “Die kerk was by hom nommer een,” leer die leser, maar die skrywer voeg by “hy was nie oor ’n groot deel van Suid-Afrika bekend nie … ” Laasgenoemde sit die vinger op juis die ding wat weldra in Kerkbode sou verander. Teen 1994 is dit bitter selde dat ruimte aan ’n “onbekende” ouderling of kerkfiguur se dood afgestaan word, met die uitsondering van gevalle waar dié ’n slagoffer van misdaad was. ’n Skuif is sigbaar in die toepassing van “nuuswaardes” in die rigting van prominensie en konflik: Gesienes wat sterf of iemand wat vermoor word, eerder as ‘n ouderling op Reddersburg wat getrou op die kerkraad gedien het. 

 

Klem op wyer sirkel van rou

In die 1930’s word daar gereeld ’n nederige kransie op die graf van leraars gelê. Mediese besonderhede word nie “hoog in die berig” vermeld soos vandag dikwels die gewoonte is nie. Trouens, soms is daar misterie betrokke, soos wanneer die skrywer oor  wyle ds DJ Pienaar vermeld “(die leraar) was nooit eintlik krank nie. Hy het net verdwyn voor ons oë.” Dit word later tog vermeld dat kanker aan die lewer en bloedarmoede sy lewensdraad afgesny het, maar die klem val op die groot aantal kranse wat ontvang is – 70 – en die baie telegramme waarmee medelye betoon is. Dat die leraar deur mense in alle range en stande gemis gaan word, weeg klaarblyklik swaar en vorm deel van ’n patroon wat ’n mens by ons volgende halte baie duidelik sien: die wyse waarop spesifieke doodsberigte funksioneer as plek waar algemene deugde benoem word. Wanneer “tannie Joekie” byvoorbeeld in 1964 wegval, lees Kerkbode-intekenaars dat sy ’n tere en toegewyde “Christin” was wat haar Verlosser innig liefgehad het. Toe haar lyding erg raak, het sy vir die besoekende leraar gesê sy hoop sy is met sy volgende besoek al “in die hemel”. In relatief min ruimte leer ’n mens van haar “mooi huwelik”, ’n seun wat nou ’n dominee op Alkmaar is asook waar Joekie haarself stellig na haar dood bevind. In die konteks van Kerkbode, in die era van dié se swaar geestelike aksent, word ’n tweekolom-brokkie met ’n klein foto daarby iets wat herinner aan ’n “teachable moment” oor saligheidsleer, deugsaamheid en gender-rolle. 

Deugde, deugde, deugde

Broeders word onthou vir dinge soos diens aan die gemeenskap en “die groot werk wat hy gedoen het.” Indien nuanses en dubbelsinnigheid soms deurgeglip het, het hierdie leser dit misgekyk. Stryd met familie, foute gemaak, lesse geleer … Daai soort goed maak plek vir – hoogstens – ’n aardigheid of twee, soos die dominee wat die gewoonte gehad het om drie vingers op te hou wanneer hy in ’n preek vir een of ander rede na twee van iets sou verwys. Die diepe waardering vir die lewens van die mense en die hoop dat hulle deugde meer algemeen sal voortleef is die refrein wat ’n mens hoor. ’n Geseënde boer en sakeman met vele deugde (wat met ’n koeël uit die Tweede Vryheidsoorlog in sy been moes saamleef) het die dorp gedien as lid va die hospitaalraad, koshuisbestuur en burgemeester. Sy nederige omwandeling met blank en nie-blank word onthou; in Februarie 1964. 

Migrasie na Facebook

Dwarsdeur die daaropvolgende jare gedy ook die instuur van kort sterftebrokkies en herdenkings van sterfdatums in die kleinadvertensies – waarvan die laasgenoemde een van die vroeë en kritieke sterftes was toe die internet daardie dienste by papierkoerante weggerokkel het. Teen 2004 is die advertensielading laer en tekens van die komende kentering rondom doodsberigte sigbaar: die gesprek met en oor “gewone” geliefdes sal migreer na digitale platforms – vernaam Facebook – waar nuwe konvensies geld en wat die “legitimerende” rol van Kerkbode min of meer beperk tot die jaarlikse In Memoriam-oorsig wat die energieke dr Gerdrie van der Merwe al vir jare bybring.  

Meer interessant as die wyse waarop “nuus” van iemand se dood deesdae versprei, is wat geword het van die kollektiewe behoefte om iets breër aan die hand van ’n lewe te lees en te sê. Met sosiale media, waar privaat grootliks die nuwe publiek geword het, is jou eie Instagram-blad dalk op vreemde wyse die mees sinvolle plek om nuus van jou eie dood te breek. 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top