Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Woordmens Wilhelm Jordaan in Strooidakkerk vir sy dapper vrae en skeppende taal gehuldig  

Wilhelm Jordaan was ’n “man for all seasons”, wat mense beïnvloed het soos winterreën wat saggies aanhou val. 

Só het ds Danie du Toit Donderdag (28 Augustus) tydens ’n dankdiens in die Paarl vir die lewe vir sy jarelange vriend gesê.

“(Wilhelm) het in sy skryfwerk geworstel met die moeilikste vrae oor geloof, die lewe, oor God … En nooit gehuiwer om die diepste, riskantste vrae te stel nie,” het Du Toit gesê in ’n huldiging en kort preek wat diep uit die skryf- en dinkwerk van Jordaan geskep het. “Maar hy het ook nie gehuiwer om met kinderlike oorgawe te leef en te sterf nie,” het Du Toit aan die sowat 250 kerkgangers in die Strooidakkerk gesê, tydens ’n diens wat ook aanlyn uitgesaai is. 

Jordaan, ’n voormalige professor in die sielkude, het vir dekades ’n dikwels filosofiese rubriek in Media24 se Afrikaanse dagblaaie behartig en op daardie wyse ’n reuse-gehoor in dié taal opgebou. 

Sy heengaan is wyd betreur, ook in kerkkringe, met prof Tanya van Wyk, die hoof van sistematiese en historiese teologie aan die Universiteit van Pretoria, in ’n onlangse rubriek op Netwerk24

Du Toit het Jordaan beskryf as woordmens en fyn waarnemer van gedrag wat “rekening kon hou met die mens se kompleksiteit en kon duik in die donker chaos van die lewe en met blink dinge terugkom.”

Du Toit het vriende en naasbestaandes by die diens herinner dat Jordaan versigtig was vir “dogma-dinge wat mens doodmaak binne”. Du Toit het die Tsjeggiese priester Tomáš Halík aangehaal met die stelling dat geloof “die moed (is) om die wolk van misterie binne te gaan. “Maar as jy dit doen, hoef jy nie bang te wees nie, want in die sentrum vind jy liefde.” 

Jordaan is op 23 Augustus oorlede. Hy was 82. Hy word deur sy lewensmaat Betsie van Niekerk, vier kinders en agt kleinkinders oorleef. 

 

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top