Lizelle de Bruin “bedien” tot 450 000 mense op ’n slag. Praat van ’n groot gemeente! Gewoonlik is sy aan die ander kant van die mikrofoon. Maar die keer kan ek die vrae vra.
“Wat weet min mense van jou?” vra ek.
“Ek het eers op 52 leer swem. En … ek weet nie of ons dit vir die mense moet sê nie? Maar ek kan belly-dans!” Sy lag en vertel hoe sy destyds belly-dansklasse geneem het.
Lizelle sê dit is ’n groot voorreg om te doen wat sy vandag doen. Veral haar radioprogram by RSG. Dit bied die wonderlikste geleentheid om haar roeping uit te leef.
Net nou die dag het ’n vrou weer vir haar ’n boodskap gestuur. “Ek sou dit nooit doen nie,” het die vrou geskryf. Maar sy was in haar motor op ’n afgeleë pad en het geen keuse gehad nie. Die radio wou niks anders opvang nie. “Ek was nie eintlik lus vir die Here nie, maar toe luister ek maar na Binnekamer,” het sy gesê. Op die ou einde het dit so baie vir haar beteken, dat sy elke week haar alarm stel om seker te maak sy mis nie die program nie!
Daar is natuurlik ook mense wat inbel of boodskappe van ontsteltenis stuur. Dit is moeilik om te glo, maar Lizelle sê sy kry byvoorbeeld vandag steeds elke nou en dan ’n boodskap van ’n oom wat beswaard is omdat ’n vróú ’n godsdiensprogram aanbied.

Een van die grootste uitdagings in radiojoernalistiek vandag is die toenemende tempo waarteen nuus beweeg.
“Luisteraars verwag onmiddellike nuus en vinnige reaksies, terwyl daar terselfdertyd ’n groot gevaar is vir oorhaastige of ongekontroleerde beriggewing,” sê sy.
’n Ander uitdaging is die oorvloed van stemme en platforms. Die voortdurende stryd om relevant en betroubaar te bly in ’n digitale wêreld waar sosiale media dikwels eerste is met nuus.
“Tog behou die radio sy unieke krag, dit bring mense nader aan mekaar. Die uitdaging is om geloofwaardigheid te beskerm, diepte te behou, en steeds vinnig en toeganklik te wees,” sê sy.
Lizelle het al diep spore in die mediawêreld getrap. Tans is sy en Niel Roux vennote in die mediamaatskappy, Wordwise Media, wat by ’n legio kreatiewe mediaproduksies betrokke is. Soms is sy strateeg of beplanner, soms regisseur, soms voor die kamera of mikrofoon.
Lees en kyk ook: VIDEO: Sondagjoernaal se Lizelle de Bruin oor dankbaarheid en hoop vir die NG Kerk
“Ek is mal oor my werk. Dis baie kreatief en stimulerend,” sê sy.
Ons gesels oor haar liefde vir kuns en skryf. Haar boek, My inspirasiejoernaal: Terapie vir die siel, is lankal reeds uitverkoop. Maar Lizelle sê sy hoop om in die nabye toekoms ’n nuwe weergawe van die joernaal en inkleurwerkboek die lig te laat sien. Kreatiwiteit is haar lewe, binne en buite die media-omgewing.
“Met my ma se dood het dit my lewe gered. Ek het my stem verloor letterlik en figuurlik en deur my hand elke dag op papier te sit het my stem kans gekry om terug te kom. Ek leer ook ander mense hoe om te journal; hoe om met ‘n doel te doodle en hoe om van perfeksionisme ontslae te raak.
Lizelle is in Durban gebore. As kind het hulle vir ’n tyd lank in Pietermaritzburg gewoon. In haar laerskooljare trek hulle na die Oos-Rand. Sy matrikuleer by Hoërskool Goudrif.
“My pa is oorlede toe ek 15 jaar oud was. Dit het ’n groot omwenteling in my lewe veroorsaak. Ek kon nie verstaan hoe die aarde aanhou draai terwyl hy weg is nie. En dit was in my ‘wilde’ tienerjare. My arme ma moes hare op haar tande hê.”
Na skool studeer sy vir ’n tyd lank onderwys by RAU (vandag UJ), maar besef gou dit is nie vir haar nie. Uiteindelik skryf sy in vir kommunikasie en joernalistiek by die Tswane Universiteit van Tegnologie, die destydse Pretoria Technikon, waar haar eintlike passie begin blom.
Na haar studies het sy vir vir ’n tyd lank vir die Altron-groep gewerk.
“Ons het onder andere die Altech-ope, wat deel was van die internasionale tennistoer, vir drie jaar gereël. Dit was nog in die tyd toe Pat Cash en Boris Becker kampioene was.”
Daarna werk sy vir verskeie advertensie-agentskappe, later onder andere ook by die SAUK se Filmdienste en by Mema-Media, ’n bediening van Bybel-Media.
Ek vra die vraag wat sy vir amper almal op haar program, Binnekamer, Sondagoggende vra: “Waarvoor is jy dankbaar?”
“Laat jy my nou giggel! Ek is dankbaar vir asem en oë wat kan sien. Ek is dankbaar vir elke tree wat ek kan stap. Met lupus, ’n outo-immuun-diagnose, is nie een van hierdie dinge ’n gegewe nie. Ek is dankbaar vir die lig van Jesus in my lewe dat ek die blink kant kan raaksien en bo hou. Ek is dankbaar vir die teenwoordigheid van die Gees, om nie na die geraas te luister nie, eerder te fokus op die spore wat voor my uitgegaan het.”
Lizelle sê haar bekering in 1989 was ’n draaipunt wat haar hele lewe verander het.
“Ek was letterlik die volgende dag ’n ander mens, wat natuurlik vir sy eie krisisse gesorg het, maar ek het nooit teruggekyk nie. Dit het die trajek van my lewe in ’n ander rat gesit en het ook gesorg vir my skielike verplasing Kaap toe. Dit was asof die Here my aan die voet van die berg in Franschhoek gaan neersit het sonder televisie, sonder vriende en familie met ’n wit skoon bladsy voor my om oor te begin.”
Sy het erg begin wonder hoe die Here haar wil gebruik. Moes sy dalk ook soos die dominees teologie gaan swot? Of moes sy dalk ’n sendeling word? Vandag ken ons almal die antwoord.
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeuggemeenskappe en die NG Gemeente Villieria.
