Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In Genesis 37 is dit Juda se idee om Josef as ʼn slaaf te verkoop. ʼn Paar hoofstukke later lyk dit of Juda ten goede verander het. In 43:8-10 is dit juis Juda wat aanbied om met sy lewe vir Benjamin “borg te staan”. In Genesis 44 is dit Juda se toespraak wat Josef vir ʼn derde en laaste keer laat huil. Uit die toespraak is dit duidelik dat Juda regtig omgee vir die hele familie insluitende Benjamin, Josef se volbroer. Juda het duidelik verander. Maar hoe?
LEES OOK: Nuwe Testament | Marius Nel: Die Bybel as getuienis van die transformerende krag van die evangelie
Om te verstaan wat met Juda gebeur het, moet ʼn mens Genesis 38 lees. Op ʼn stadium het geleerdes gedink dat die hoofstuk effens “buite orde” is in die Josefverhaal. Die hoofstuk vertel van Juda wat met ʼn Kanaänitiese vrou getrou het en drie seuns by haar gehad het. Sy oudste seun, Er, trou ook met ʼn Kanaänitiese vrou en haar naam is Tamar. Wanneer Er sterf, gee Juda, soos die Leviraatgebruik vereis (Deut 25), sy tweede seun aan Tamar as man. Sy naam is Onan en uiteindelik sterf hy ook, sonder dat Tamar ʼn kind in die wêreld bring. Die derde seun se naam is Sela en omdat hy nog te jonk is, gee Juda hom nie as man aan Tamar nie, maar beveel aan dat sy by haar ouers gaan bly tot Sela oud genoeg is. Maar Juda kom uiteindelik nie hierdie belofte na nie. Wanneer Juda se vrou sterf, neem Tamar die inisiatief en Juda maak haar uiteindelik self swanger, nadat sy haarself as ʼn prostituut voordoen. Beide haar optrede en Juda s’n is vanuit ʼn etiese perspektief problematies.
LEES OOK: DINKSTOF | Verstaan die Ou Testament: Josef en God se afwesigheid
Wanneer Juda uitvind dat sy swanger is, dring hy daarop aan dat sy doodgemaak moet word. In antwoord hierop lewer sy bewyse dat hy die vader is en dan erken Juda die volgende (Gen 38:26): “Sy is reg, eerder as ek” (2020 vertaling). In ʼn partriargale konteks waar vrouens weinig regte het, is dit radikale woorde. ʼn Man, ʼn patriarg, erken dat ʼn vrou reg is. Hier sien ons dat Juda verander het.
Die verlies van sy seuns en vrou en die gebeure met Tamar verander hom. In hierdie verhaal met twyfelagtige waardes hoor ons van die ontstaan van die stam Juda, uit wie Dawid later sou kom. Waar God in hoofstuk 37 afwesig was, is hy hier aktief besig. Die teks is duidelik dat God beide seuns laat sterf omdat hulle verkeerd doen in sy oë. ʼn Mens kry die indruk dat God besig is om Juda te vorm, sodat hy later ʼn rol kan speel in Josef se ommekeer. Hoekom? Sodat Jakob en sy familie kan oorleef. Sodat Egipte kan oorleef. Om dit reg te kry gebruik God ʼn Kanaänitiese vrou met die naam Tamar.
Prof Sias Meyer doseer Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria.
