Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Wat is die Bybelse argument vir of teen die erkenning van verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag? André Bartlett se standpunt.

DINKSTOF | Verstaan die Ou Testament: Josef en God se afwesigheid

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Families is veronderstel om veilige ruimtes te wees waar mense geborge en tuis kan voel. Dit moet ruimtes wees waar ons nie gedurig op ons hoede hoef te wees oor bedreigings nie. Maar as familieverhoudings skeefloop word dit plekke waar mense mekaar die seerste kan maak. Bybelfamilies is ook maar so.

LEES OOK: Verstaan die Ou Testament: Levitikus en die liefde (Deel 1)

Jakob se familie met vier vroue en twaalf seuns is indrukwekkend, dit is immers die bloudruk waarop die latere Israel gebou word, want uit die twaalf seuns ontwikkel die twaalf stamme. Daar is natuurlik ook Dina, die dogter van Lea, maar soos Genesis 34 vir ons vertel het sy nie ʼn gelukkige verhaal nie.

In Genesis 37 begin daar ʼn nuwe episode in die storie van Jakob se familie en dit gaan oor Josef. Hy was die witbroodjie omdat hy die seun van die geliefde Ragel was. Josef se verhaal is so bekend dat ons ʼn moderne musiekblyspel daaroor het met Tim Rice en Andrew Lloyd Webber se Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat. Ja, Josef se pa gee vir hom ʼn “kleurvolle rok” soos die voetnotas van die 2020-vertaling voorstel. Dit is gewone voortrekkery en die broers hou nie daarvan nie, wat te verstane is, want hoekom is hulle pa liewer vir Josef as vir hulle? Josef is ook ʼn klikbek wat stories oor sy broers aandra. En dan is daar die drome. Eers buig die gerwe van sy broers voor hom neer, dan die son, maan en elf sterre. Met hierdie laaste droom berispe selfs Jakob vir Josef.

LEES OOK: Die veelstemmigheid van die Ou Testament (Deel 2): die Sabbat

Die res van Genesis 37 is baie bekend, met Josef se broers wat uiteindelik ʼn kans kry om van hom ontslae te raak. Eers wil hulle hulle broer doodmaak, maar uiteindelik verkoop hulle hom as ʼn slaaf. Hulle bedrieg hulle vader met Josef se einste rok en ʼn bokram se bloed. Jakob die groot bedrieër van die voorafgaande hoofstukke word deur sy eie seuns bedrieg. Jakob is ontroosbaar.

Aan die einde van Genesis 37 is daar wel een vraag wat by ʼn mens spook: Waar is God? Blaai om na hoofstuk 38 dan is God aktief betrokke by Juda. Blaai terug na hoofstuk 35 dan verskyn God aan Jakob en gee sommer vir hom ʼn nuwe naam. Waar is God in hoofstuk 37? Waarom kyk hy toe terwyl hierdie verskriklike goed in Jakob se familie afspeel? Waarom lyk dit of hy Jakob se familie gelos het? Omdat ons die res van die verhaal ken, weet ons wat die antwoord op die vraag is. Die drome van Josef wat aan die een kant tot baie onmin lei, gee vir ons aan die ander kant ʼn blik op die toekoms en ʼn blik op wat God besig is om agter die skerms te doen. God is nie afwesig nie. God is besig met ʼn plan om Egipte en Jakob se familie te red.


Prof Sias Meyer doseer Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top