Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: Oor eerbiedwaardigheid vir die nagmaal

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Henrietta Klaasing van Randfontein skryf: In ’n onlangse Rapport-artikel verdedig dr Christo Benade ’n “nagmaalsdiens” in Hermanus waar mense van verskillende gelowe teenwoordig was.

Ek lei af dat hy ’n “ruimer” tafel voorstaan. Blykbaar was dit om aan mense van ander gelowe te wys hoe word ’n gereformeerde Nagmaal gevier. Teologies was hierdie intergeloofs-“nagmaal” by die NG Kerk Hermanus problematies omdat die Nagmaal as sakrament bedoel is vir Christengelowiges.

Volgens 1 Korintiërs 11:23-32, is die Nagmaal ’n simboliese herdenking van Christus se offer, wat selfondersoek en begrip van sy liggaam en bloed vereis. Dit is nie bedoel vir nie-Christene of diegene wat nie hieraan voldoen nie.

Om ’n uitnodiging aan ander gelowe uit te brei en ’n “show” daarvan te maak, verdraai die betekenis daarvan, kompromitteer die Christelike identiteit en weerspreek die eksklusiewe aard daarvan as ’n teken van die verbond tussen Christus en sy volgelinge, wat die teologiese integriteit en Bybelse fondament daarvan ondermyn.

In die gemelde deel in 1 Korintiërs beklemtoon Paulus dat die gebruik van die Nagmaal op ’n onwaardige manier – sonder om die liggaam van Christus te onderskei – oordeel en selfs fisiese siekte of dood kan meebring. Die Roomse woord “eucharist” word deur die Anglikaanse priester gebruik en Roomse handbewegings word oor die tekens gemaak. Die ubun-Tutu gebed en res van die formulier is geheel en al vreemd aan die gereformeerde leer.

In artikel 35 van die NGB lees ons dat niemand na die Nagmaalstafel behoort te gaan as hy homself nie eers deeglik ondersoek het nie, sodat hy nie tot sy eie oordeel eet en drink nie. Vraag 81 van die HK vra: “Wie moet na die Nagmaalstafel van die Here kom?” En gee dan die antwoord: “Hulle wat vanweë hulle sondes ’n afkeer van hulleself het, maar tog vertrou dat dit hulle om Christus wil vergewe is en dat die swakhede wat nog oor is, met sy lyding en sterwe bedek is; en die wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter”. Was daar sodanige vooraf ondersoek by al die “nagmaal”-gangers?

Daar was ook twee jong kindertjies by Hermanus NG kerk aan die tafel. Selfondersoek behoort dus eerste te kom, en ’n mens kan dit kwalik van twee sulke jong kinders verwag.

By sy eerste mis as monnik was Martin Luther uiters bang en het so gebewe dat hy amper die brood en wyn laat val het. Hy was verskrik omdat hy geglo het dat hy die liggaam en bloed van Christus vashou. Hy het oorweldig gevoel en wou wegvlug, omdat hy gedink het dat hy te sondig en onwaardig was om daar te wees – net soos stof voor die lewende God. Hierdie eerbiedwaardigheid het volgens my ontbreek by die Hermanus-“nagmaal”.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

9 thoughts on “Brief: Oor eerbiedwaardigheid vir die nagmaal”

  1. Bernhard Ficker

    Baie dankie aan Henrietta wat as gelowige lidmaat die Bybelse insig het om te besef dat gesamentlike Nagmaal byeenkomste van die Bose is. Maar met die huidige ruim huis beleid van die NGK waar die grense al hoe wyer gestel word en ekumeniese riglyne alles oorheersend word, kan Henrietta niks anders verwag nie. Dankie vir jou skrywe Henrietta!

  2. Pieter Venter

    Henrietta Klaasing.

    Jy besef nie eers dat die woord nagmaal, nie eers die korrekte term is nie. Paulus gebruik die frase: Ete van die Here. Die liggaam van Christus is vir almal.

  3. Hi Pieter Venter

    Ek neem aan met jou “Die liggaam van Christus is vir almal” bedoel jy almal wat Hom aangeneem het, dus wedergebore is en glo dat Hy (Jesus Christus) die Enigste Velosser en Saligmaker is – God die Seun. D.w.s. dat slegs Hy en Hy alleen die Weg en die Waarheid en die Lewe is en dat niemand na die Vader kan kom behalwe deur Hom nie?

    1. Hoekom dan sal ons enigiemand weerhou wat vrywillig saamkom? Soos met die twee wat weerskante Hom gekruisig is, is ons nie die middellaars van verlossing in. Ons is self van die (on)genooides.

  4. Charles Wolfaardt

    Vir my is dit baie interesant dat sodra die predikant iets doen eat buite die ” gewone ” doen , dan is daar kritiek. Soos ‘n jong dominee sonder das sy preek gelewer het toe word hy afgekraak as oneerbiedig , of ‘n persoon dra kortbroek by ‘n nagmaal diens ” geen respek ” Dit wil voorkom of die Afrikaans sprekende Christen baie moeilik verandering aanvaar Nie lank gelede Kerkraad pak met wit das in die voorste banke Dames met hoede sykouse rokke ens Daardie selfde mense se kleredrag heeltemal verander Die predikant wat mense uitgenooi het na die nagmaal tafel , was Eerstens om te wys Christene is nie skaam om te deel nie Tweedens indien jy in jou hart en gewete voldoen aan die vereistes om deel te neem aan die tafel is jy welkom en Derdens Moenie rondkyk en oordeel aangesien jy het geen idee wat jou tafelgenoot dink of glo Geseende dag aan die leser

  5. Henrietta Klaasing, kan jy aan my verduidelik in die lig van jou bogenoemde argument, waar Judas Iskariot aan die nagmaal tafel van Jesus inpas?
    Wat leer ons by Jesus toe Hy die nagmaal ingestel het?
    Wie het gekwalifiseer om die genade maaltyd te ontvang?

  6. Judas was ‘n dissipel van Christus en was ‘n laaste kans gegee om te kies tussen sonde en nie sonde nie. Punt is, hy was ‘n volgeling van Jesus. Hoekom hom afsny vir sonde wat hy nog nie gepleeg het nie.
    Dit is nie wat in Hermanus gebeur het nie.

  7. Hi Johannes

    Ek dink jy mis die punt. Die nagmaal op sig self, bring nie verlossing nie, maar ware geloof (‘n genade gawe van God) doen wel. Soos ek dit verstaan is die nagmaal ‘n heilige instelling van Christus self vir die wat in Hom is (ware gelowiges) en nie vir elke Jan rap en sy maat wat dalk wil “toets” of Christus vir hom of haar is, al dan nie. Die nagmaal is die bevestiging en herinneing van die nuwe verbond, wat deur Christus se bloed beseël is. Hy/Sy wat dus nagmaal hou sonder om te besef dat dit die liggaam van die Christus is, bring daardeur ‘n oordeel oor homself/haarself.

Comments are closed.

Scroll to Top