Die pad met kanker is sleg en onbekend, maar hulle ervaar dat God saam stap, vertel Haneli van Tonder vanuit die Kalahari.
Haar man Kobus het in Julie vanjaar die nuus gekry dat hy nierkanker het wat na sy longe versprei het. Die dokters het medikasie voorgeskryf waarmee hy reeds twee maande besig is. Die mees effektiewe behandeling gaan immunoterapie wees wat die gesin hoop hy volgende jaar mee sal kan begin. Dit kos meer as R500 000 vir ses behandelings waarvan sy mediese fonds, selfs al is hulle vanaf 1 Januarie op ’n meer omvattende opsie, slegs gedeeltelik die onkoste sal dra.
Hulle gemeente NG Vanzylsrus wou graag help en gesels toe met Christo Jonck, predikant in sinodale diens by die NG Kerk in Noord-Kaapland. Hulle wou weet wat hy dink van ’n backabuddy-veldtog. Hy het gehelp om ’n publieke insamelingspoging met die naam Kobus se kankerbehandeling te begin en dadelik het mense begin bydra.
In net vyf dae is net oor R100 000 ingesamel. Die teiken is R500 000.
Kobus lei hierdie sinodale streek se gemeenteversorgingstaakspan wat ’n paar jaar gelede miljoene help insamel het vir droogtehulp en deesdae doenig is met werkskepping vir ’n Portugese NG gemeente op die ou weermagbasis Pomfret in verre Noordwes (sien video oor die begin van hierdie hulpproses onder).
Nou is die Van Tonders aan die ontvangkant. Haneli vertel dit is vir hulle as gesin ’n emosionele ervaring. “Ons is verbyster deur mense se goedheid. Mag ons meer en meer erkenning gee aan God wat ons so duidelik kan ervaar die pad met ons stap,” sê sy.
