Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Henk Zeeman skryf: Oor ons Christelike roeping tot vurige voorbidding teenoor vreesbevange #Islamofobie!
’n Fobie beteken letterlik om ’n irrasionele vrees te dra. Maar ons besorgdheid gaan nie oor ’n blote vrees vir Islam as sodanig nie, dit gaan oor die geweld, ekstremisme en vervolging wat in die naam van Islam gepleeg word. Dít is geensins ’n irrasionele bekommernis nie, maar ’n verantwoordelike morele reaksie op die werklike lyding wat die wêreld tans onder Islamitiese geweld beleef.
Christene in dele van Afrika, die Midde-Ooste en Asië ly ontsettend onder die hand van jihadistiese bewegings. Dit is verstaanbaar dat trauma, verdriet en verontwaardiging die houding van baie gelowiges teenoor Islam beïnvloed. Maar hoe behoort ons as Christene hierdie emosies te hanteer?
Die Christelike morele kompas keur haat in geen vorm goed nie. Tog vra sy Gees ons om dapper te getuig van die waarheid van die Bybel, om die waarheid te praat en die verdruktes te verdedig, maak nie saak waar hulle is nie. ’n Christen móét Islamitiese ekstremisme ten alle koste veroordeel, maar terselfdertyd eerlik met die Islamitiese wêreld in gesprek tree oor hierdie bose olifant in die vertrek.
’n Volwasse Christelike reaksie sou die volgende wees:
- Erken eerlik die gevare van radikale Islamisme.
2. Tree in voorbidding vir vervolgde Christene én onskuldige Moslems.
3. Soek deeglike begrip, nie leë naïwiteit oor hierdie verskynsel nie.
4. Raak betrokke in hierdie geestelike stryd, maar weier om die gif van haat in te neem wat die groei van Christus se natuur in ons lewe teenstaan.
Dit is verstaanbaar dat ’n Christen vrees of bitterheid kan ontwikkel te midde van werklike geweld. Maar nee, ons mag nie toegee aan ’n irrasionele Islamofobie nie. Ons moet dit doelbewus en met geloofsonderskeiding konfronteer!
Christus self was duidelik in sy Bergrede, soos opgeteken in Matteus 5:43-44: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir die wat julle vervolg, sodat julle kinders van julle Vader in die hemel kan wees.”
En in sy Veldrede, soos oorgelewer in Lukas 6:27-28, voeg Hy die praktiese implikasie by: “Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word.”
Dissipelskap vra ’n duidelike, dapper en deernisvolle reaksie op die Islam!
My gebed? Hemelse Vader, beskerm ons teen ’n vreesbevange kompromie wanneer ons hierdie beker in die hande moet neem wat soveel broers en susters wêreldwyd reeds gedwing is om te drink. Laat u koninkryk kom, in Jesus Naam!

Hierdie is só ‘n sinvolle verduideliking en opheldering op ‘n algemene gevoel onder gewone gelowiges wanneer ons die woord “Islam” hoor of sien! Baie dankie daarvoor, Henk Zeeman.
My krag en sterkte in hierdie wêreld lê immers in die oorwinning wat Christus reeds behaal het. Wat Hy van my vra is inderdaad net om sy liefde teenoor alle mense te leef deur respek en agting en medelye.
Die vyand van God is ook my vyand.
Kan nie meer saamstem nie . ‘n Klompie radikales kaap die situasie en ewe skielik mag ons ( christenne ) nie meer dapper optree en sê tot hiertoe en nie verder nie . Ek het persoonlik etlike Moslem vriende en het in ‘n sterk Joodse omgewing grootgeword in die vyftiger-en sestiger jare in die Kaapse Noordelike voorstede . Ons klompie sien mekaar nog gereeld en deel ons lief en leed , juis omdat daar wedersydse respek en agting is .
Die probleem ontstaan altyd by die radikalisme en dit het ons jong predikant van die Groote Kerk nie heeltemal lekker verstaan nie
Ek wonder of hy die moed van sy oortuiging sal hê om sy Palestynse stola af te gooi ,’n Joodse jarmoelke op sy kop te sit en op te stap na die Joodse ‘holocaust’ museum wat geleë is in St Johnsstraat , ‘n paar honderd meter vanaf sy kerk in Kaapstad ( “Holocaust : a great destruction and the loss of many lives sp. by burning ; period of killing and cruel treatment “)
Hoe lank moet die Jode nog die ander wang bly draai ? Die oggend in Oktober 2023 toe Hamas se eerste barbaarse aanvalle rugbaar gemaak is op RSG , het ek vir my wederhelf gesê dat hierdie keer gaan daar geen keer aan die Joodse reaksie wees nie .
My Moslem vriend se reaksie daarna : “One must understand the Jewish reaction .. the world has gone crazy “