Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Die kuratorium van die vier (noordelike) sinodes het op 6 November 2025 veertien (14) kandidate met volle leraarsbevoegdheid gelegitimeer en vyf (5) met diensleraarsbevoegdheid. (Afwesig op foto: Chérie van de Venter). Foto: Verskaf

Beroepbare proponente en diensleraars: Ontmoet UP se klas van 2025

Op 6 November 2025 by die NG Universiteitsoord het die kuratorium van die vier (noordelike) sinodes veertien (14) kandidate met volle leraarsbevoegdheid gelegitimeer en vyf (5) met diensleraarsbevoegdheid.

PROPONENTE

Lelanie Behr is gebore op 10 Augustus 2000 en matrikuleer aan die Hoërskool Zwartkop in 2018. Sy verwerf kwalifikasies aan AVCASA (SAAHA Basic Animal Health Course, 2019) en aan die Universiteit van Pretoria – BDiv (2023), MDiv (2024) en BThHons (2025). Sy het by Obaro Wonderboom gewerk as voorraadbestuurder van die kioskafdeling en daarna as ontvangsdame by Eyeland se Loftuspark-tak.

By Universiteit Pretoria (UP) was sy klasverteenwoordiger en werksaam by Ooskerk tydens 2021-2025 in familie-, tiener-, studente-, jongwerkende-, belydenis-, deernis- en Bybelstudiebediening. Sy was betrokke by Badseloop-jeugkampe en skoolverwisseling- en Survivorkampe. Lelanie stel belang in alle ouderdomsgroepe, maar spesifiek bejaardes. Haar skripsie van 2024 se titel was, “Mythological concept of ‘chaos’ in some Psalms: Psalm 74 and 93 as case studies” oor hoe die konsep van chaos in die Psalms handel en hoe ons dit in ons tyd en konteks kan verstaan, en 2025 “Die kontemplatiewe spiritualiteit as missionale kapasiteit in NG Kerk Pretoria-Oos”. Lelanie is beroepbaar en kan gekontak word by 067 607 7089 / lelaniebehr@outlook.com.

Lelanie Behr.

Alicia Bosman, gebore op 19 September 1998, ongetroud, het in 2016 aan die Hoërskool Wagpos gematrikuleer. Sy voltooi haar BDiv in 2023, MDiv in 2024 en BThHons wat spesialiseer in Bediening in 2025 aan die Universiteit van Pretoria. Voor haar teologiese studies het sy twee jaar onderwys studeer aan die NWU en daarna as ’n fasiliteerder by ’n veldskool gewerk. Sy het uitgebreide gemeente-ervaring by NG Lynnwoord en NG Universiteitsoord wat bediening, uitreike, kampe en verskeie leierskapsposisies insluit. Haar bedieningsbelangstelling lê veral by die jeug en intergenerasionele geloofsvorming. BDiv en MDiv skripsies is albei in Praktiese Teologie gedoen en handel afsonderlik oor die “Nagmaal as uitnodiging tot gemeenskap”. Vir BTh-Honneurs was dit “’n Missionale ondersoek van die Alpha-kursus: ’n Gevallestudie van NG Kerk Universiteitsoord”. Sy woon op Brits, haar selnommer is 083 488 4641 / e-pos aliciabosman19@gmail.com.

Alicia Bosman.

Ilsé-Mari Coetzee is in 2001 op 4 Mei in Potchefstroom gebore. Sy het onlangs verloof geraak met die voorneme om middel volgende jaar te trou. Sy was in Hoërskool Brits en het daar in 2019 gematrikuleer. Sy het haar BDiv-graad in Teologie, MDiv in Teologie asook haar BThHons in Bediening by die Universiteit van Pretoria voltooi. Ilsé-Mari het die voorreg gehad om vir vier jaar in Asterhof-dameskoshuis te kon bly tydens haar studiejare, waar sy vir die termyn 2022-2023 as eerstejaarsvoog op die HK gedien het en was vir 2023-2024 primaria van die koshuis. Sy het ook in die eerste twee jare vir UP netbal gespeel. Ilsé-Mari was van haar eerste jaar af baie betrokke by Universiteitsoordgemeente waar sy op die koshuis se wykskomitee asook op die SR gedien het. In haar vyfde jaar het sy by Waterkloofrif as jeugwerker gewerk, en in haar finale jaar haar gemeentejaar by Meyerspark gedoen. As sy twee aspekte van die bediening moet uitlig waar haar belangstelling lê, is dit seniorbediening en erediensbeplanning. Haar skripsietema was “Making sense of life: a systematic theological exploration of how we use our senses to experience ourselves and God”. Dit het gehandel oor ons ervaring van God wat baie meer eksplisiet deur ons fisiese sintuie geskied as wat ons dink. Ilsé-Mari se selnommer is 076 954 9456, e-posadres ilsemaricoetzee2@gmail.com.

Ilsé-Mari Coetzee.

Dhaniel Francois Gouws, gebore 2 September 1999, slaag matriek aan die Hoërskool Hugenote Springs in 2018. Hy behaal sy BDiv in 2023 en MDiv in 2024 en BThHons in 2025 aan die Universiteit van Pretoria. Hy het in 2023 saam met Universiteitsoord en ander studente van UP ’n fietstoer gedoen vanaf Pretoria tot by Gaborone in Botswana waar hulle verskillende uitreike gedoen het. Hy doen sy praktiese jaar by NG Ashton waar hy ’n positiewe ervaring gehad het – hy voel dit is sy hartsmense. Dhaniel stel belang in prediking en sy skripsietema was “’n Strategiese besigheidsplan vir die NG Kerk” – hy het ’n besigheidsplan geskryf wat kerke kan gebruik om ekstra fondse in te samel vir bedieningsdoeleindes. Dhaniel is beroep na Ashton Gemeente, maar is nog in die proses om te aanvaar. Sy selnommer is 073 748 7803, e-posadres gouwsdhaniel@gmail.com.

Dhaniel Francois Gouws.

Sheldon-Hugh Grahan, gebore 1 Februarie 2001, matrikuleer in 2019 aan Afrikaanse Hoër Seunskool. Hy is verloof aan mede-proponent Karla Smit en hulle trou 23 November 2025. Hy voltooi sy BDiv, MDiv (cum laude) en BThHons in 2025 aan die Universiteit van Pretoria. Sheldon stel veral belang in Nuwe Testament Wetenskap en die politieke motiewe in Paulus se briewe. Sy skripsietema was “The political motives behind Paul’s writing of 1 Thessalonians 5:3”. In sy skripsie ondersoek hy of Paulus moontlik verwys na ’n bekende Romeinse slagspreuk, εἰρήνη καὶ ἀσφάλεια (“vrede en sekuriteit”), en dit gebruik om teenspraak te maak teen die Romeinse Ryk en hulle propaganda. Sheldon het sy gemeentejaar by NG Alberton-Suid gedoen en het waardevolle blootstelling aan alle aspekte van die bediening verkry. Hy geniet dit om met die jeug te werk en vorm goeie verhoudings met junior en senior jeug. Hy is passievol oor gesinsbediening en benader dit kreatief. Sheldon is beroep na NG Gemeente Elarduspark. Kontakdetails: 067 429 1401 / shelgrahan@gmail.com.

Sheldon-Hugh Grahan.

Stéfni Jacobs is op 14 November 2000 gebore en matrikuleer in 2018 aan die Hoërskool Zwartkop, waarna sy aan die Universiteit van Pretoria (UP) begin studeer en die grade BDiv, MDiv (met lof) en BThHons slaag. Sy het gedien op die studenteraad van die Teologiese Fakulteit by UP in 2019-2020 in die portefeuljes van eerstejaarsvoog, sowel as akademiese ondersteuningsbeampte. Tydens haar studentejare was sy by verskeie gemeentes en in verskillende kapasiteite betrokke. By Universiteitsoordgemeente dien sy op die Amicus wykskomitee wat hulp verleen het vir die reël van spesiale eredienste, funksies en die eerstejaarskamp elke jaar. In 2022 het sy as intern by Ooskerk gewerk met die fokus op jeug- en familiebediening. Vanaf 2022 tot op hede is sy by NG Kameeldrif betrokke waar sy as teologiese student en jeugwerker namens die kerk by Jakaranda- en Louis Botha Kinderhuis betrokke is en by die gemeente by hulle kategese, musikale bediening, en lei met geleentheid eredienste. Sy sluit haar studies af met haar gemeentejaar by NG Gemeente Jan Niemandpark. Stéfni is veral passievol oor jeugwerk en pastorale sorg, hoewel prediking ook vir haar lekker is. Haar meesterskripsie, “Van Naomi tot Mara: Pastorale benadering tot post-traumatiese groei”, kyk na Naomi se verhaal in die boek Rut deur die lens van trauma-teorie om te wys hoe haar ervaring van verlies en herstel as post-traumatiese groei verstaan kan word. Dit kombineer Bybelse en sielkundige insigte om te wys hoe antieke verhale mense vandag kan help om trauma en rou te verwerk. Haar BTh Honneursskripsie, “Kenotiese roeping: Die missionale identiteit en diens van ouer lidmate in NG Jan Niemandpark” wys hoe ouer lidmate steeds deel is van God se sending deur eenvoudige dade van geloof en diens. Deur die lens van kenotiese roeping word hulle broosheid en ouderdom gesien as maniere waarop God se liefde sigbaar word. Stéfni is verloof en trou in Mei 2026 en is beroepbaar. Sy woon te Spruitstraat 111, Hennopspark, Centurion en kan gekontak word by 079 969 9659 / stefni.jacobs14@gmail.com.

Stefni Jacobs.

Ziandri Jacobs is gebore op 7 September 2001. Sy het in 2019 gematrikuleer aan Hoërskool Zwartkop in Centurion en daarna haar BDiv (2023), MDiv (2024) en BThHons (2025) aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Sy het ’n besonderse belangstelling in gemeentebediening, veral in die leiding van eredienste, prediking en pastorale versorging. Haar hart lê ook by bediening aan kwesbare groepe, soos mense wat deur egskeiding gaan, diegene wat rouverwerking beleef, en kinders en tieners wat met krisisse worstel. Haar meestersnavorsing het gefokus op “Gemeentebestuurders: ’n Kerkregtelike dilemma vir die Nederduitse Gereformeerde Kerk”, en het ondersoek hoe kerkordelike riglyne hierdie leemte kan aanspreek om beide die gemeente en die persoon te beskerm. Kontak Ziandri by ziandri@mrj.co.za / 079 368 9191. Sy is beroep na NG Gemeente Kerk-in-Suid en is in die proses om te aanvaar.

Ziandri Jacobs.

Théan Meiring is gebore op 26 April 2000. Hy matrikuleer aan Hoërskool Garsfontein in 2018 en behaal sy BDiv, MDiv en BThHons grade aan die Universiteit van Pretoria – gedurende hierdie tyd het hy ’n CUM Stigtingsbeurs ontvang en ’n uitnodiging gekry om aan te sluit by die Golden Key International Honour Society. Hy het drie jaar by Specsavers gewerk voor en tydens sy studies. Hy en sy broers het ook ’n suksesvolle troeteldieroppasbesigheid gehad vir vyf jaar. Hy het oor die afgelope paar jaar waardevolle gemeente-ervaring by NG Faerie Glen opgedoen. Sedert 2018 dien hy as deeltydse koster en klankman, vanaf 2021 is hy betrokke by jeugbediening en hy voltooi ook sy gemeentejaar daar. Hy was ook verder betrokke by verskeie vakansieprogramme by Lux Mundi gemeente. Sy spesiale belangstelling in die bediening lê by pastorale sorg – hy glo dat ware bediening begin by die vermoë om met mense saam te leef in hulle pyn, vreugde en alledaagse uitdagings, die skep van ruimtes waar mense gehoor, gesien en ondersteun voel, en waar die liefde en teenwoordigheid van God konkreet ervaar kan word. Hy vind besondere betekenis daarin om mense te begelei deur moeilike tye en om saam met hulle te ontdek hoe God selfs in broosheid en gebrokenheid aan die werk is. Sy doel met sy skripsie, “Die noodsaaklikheid van missionale en liturgiese aanpassings vir kerklike hernuwing: Gevallestudie van NG Faerie Glen” is om met missionale en liturgiese aanpassings gemeentelike vernuwing te kan bevorder met spesiale fokus op hierdie gemeente se raamwerk op hulle huidige praktyke, en uitdagings en potensiaal binne die veranderende sosiale konteks. Théan is beroepbaar en woon te Myrastraat 506A, Moreletapark, 061 148 0451 / thean.meiring@gmail.com.

Théan Meiring.

Roelof Johannes Nel, 43, voel hy is geroep om die Bybel te verkondig op ’n innoverende en relevante wyse. Hy verwerf sy BTh en MDiv grade (Stellenbosch) en MTh in Spiritualiteit (Vrystaat). Nadat hy Nuwe Testament doseer op Morgenster Sendingstasie (Zimbabwe), dien hy tien jaar as leraar by Mosaïek. Hy woon in Randburg met sy vrou Marelize en het drie kinders (vyf, agt en elf). Wanneer hy nie vir Comrades oefen nie, spesialiseer hy in menslike hulpbronbestuurstrategieë. Sedert 2019 werk hy as gesertifiseerde SAP-konsultant en sisteem-argitek op globale projekte vir Deloitte, PWC en EPI-USE. Hy bedien steeds (tentmaker) by verskeie NG gemeentes en Mosaïek. Roelof kan gekontak word by 072 432 4736 / roelof.j.nel@gmail.com.

Roelof Johannes Nel.

Wilma Stefani Nel, noemnaam Stefani, is op 31 Oktober 2001 gebore en is verloof aan Joshua Wilson. In 2019 het sy gematrikuleer aan Hoërskool Hugenote (Springs) en het daarna aan die Universiteit van Pretoria haar BDiv (2023), MDiv (2024) en BThHons (2025) voltooi. Haar MDiv-skripsie, “Community-based trauma intervention: An ecumenical missiology, diakonia and inter-denominational co-operation”, ondersoek hoe geloofsgemeenskappe saam kan werk om trauma binne gemeenskappe te verlig. Haar BDiv-skripsie het dieselfde temas van ekumeniese samewerking en diakonaat verken. Sy is jeugwerker by Roodekrans-gemeente (2024-2025) en stel in besonder belang in sending, gesinsbediening, pastoraat, prediking en musiek. Stefani kan gekontak word by 082 871 2993 / stefaninel.sn@gmail.com.

Wilma Stefani Nel.

Marno Albertus Plaisier, gebore op 29 Julie 2001, is verloof aan Schuné du Plessis. Hy voltooi matriek aan Afrikaanse Hoër Seunskool in 2019 en verwerf sy BDiv en MDiv en BThHons aan die Universiteit van Pretoria as topstudent van sy klas in van hierdie grade. Gedurende sy BDiv I-graad ontvang hy die vise-kanselier en hoofmedalje, asook die Anton en Huberte Rupert-beurs vir BDiv prestasie. Hy het vir twee jaar by Spectacle Warehouse Atterbury in reseptering en bestellings gewerk. Sedert 2022 is hy betrokke by NG Rietfontein-Suid as jeugwerker waar hy met alle ouderdomme, insluitend jong volwassenes en gesinne, werk. Hy stel in meer doelgerigte liturgiese gebruike/elemente en betrokkenheid asook die geloofsontwikkeling by families belang. Sy skripsietema was “Van liturgie na lewe: ’n Ondersoek van die gemeente NG Rietfontein-Suid”. Dit handel oor hoe die liturgie en prediking van die gemeente, beskou deur die Teodrama-lens, lidmate missionaal roep en vorm tot diensbaarheid in die gemeente, gemeenskap en samelewing. Marno is beroepbaar. Hy woon te 16e Laan 518, Rietfontein, Pretoria, selnommer 079 510 3148, e-posadres marnoplaisier4@gmail.com.

Marno Albertus Plaisier.

Karla Smit is gebore op 10 April 2001. Karla trou op 23 November met Sheldon-Hugh Grahan, ook ’n proponent. In 2019 matrikuleer sy aan die Hoërskool Montana. Sy voltooi haar BDiv, MDiv (cum laude) en BThHons in Teologie aan die Universiteit van Pretoria. Karla stel veral belang in himnologie, die teologie wat ons sing. Haar skripsietema was “‘Goeie musiek’ in die gereformeerde erediens: op soek na kriteria”. Die doel van die skripsie was om navorsing te doen oor die liedere wat die NG Kerk sing, en daar word gekyk na die teologie, die musikale waarde, die liturgiese funksie, kategetiese funksie en na funksie van gemeentebou. Die vraag is om te bepaal “kan daar bepaalde kriteria identifiseer word vir liturge om te gebruik om goeie oordeel te vel oor watter musiek in ’n gereformeerde erediens gesing kan word?” Wat duidelik na vore getree het is die belangrikheid van musiek in die erediens, en die woorde (wat ons bely in ooreenstemming met die geloof) wat ons sing. Karla het vanjaar haar gemeentejaar in NG Montana gedoen en het waardevolle blootstelling aan alle aspekte van die bediening verkry. Sy geniet dit om met die jeug te werk en vorm goeie verhoudings met junior en senior jeug. As deel van haar gemeentejaarkontrak het sy ook by twee aftree-oorde gewerk en dit geniet om met die senior lidmate van die gemeente te werk. Daarom het haar gemeentejaarskripsie gegaan oor die bediening aan senior lidmate en die betrokkenheid van senior lidmate weer in die gemeente self. Vir meer inligting, kontak haar by 076 201 6646 / smitkarla161@gmail.com. Sy is beroepbaar.

Karla Smit.

Roy Henré Stewart, gebore op 24 Desember 2001, is die afgelope September getroud met Marlize. Nadat hy matriek slaag aan die Hoërskool Pietersburg, handel hy sy studies aan UP af, vir sy BDiv, MDiv en BthHons-grade. Hy was in 2023 Ienkvoog van Huis Mopane waar hy vir ongeveer 100 eerstejaars leiding moes gee, en hy was die uitreikleier van Universiteitsoord se Tshipise-uitreik in 2023. Roy is die afgelope twee jaar by NG Valleisig in Faerie Glen ingeskakel as student waar hy spesifiek onder die senior jeug gewerk het. Hy weet dit klink soos ’n cliché, maar hy is gaande oor Woordverkondiging en om in die oorspronklike tale ondersoek te doen. Gelykstaande daaraan stel hy ook belang in musiekbediening en hoe dit benut kan word om geloofsvorming en groei te bevorder. Sy skripsietema was “Resonant of dissonant: Liturgiese musiek se rol in geloofsvorming”. Dit ondersoek hoe liturgiese musiek ’n aktiewe rol speel in geloofsvorming binne die kerk se praktyk. Deur te kyk na verskeie teoloë se siening oor musiek is daar ook gekyk na die drie bene van geloofsvorming – etos, patos en logos – en hoe elk van die sieninge bydra tot beter benutting van musiek tydens liturgie. Roy woon te Lindrosstraat 705, Wingatepark, Pretoria, selnommer 072 333 0869 en e-pos roystewart1224@outlook.com.

Roy Henré Stewart.

DIENSLERAARS

Deon Shorné Hendry Brand is gebore op 7 Augustus 1997 en matrikuleer aan die Hoërskool Florida in 2015. Hy het sy diploma vir tekenwerk gekry aan die Academy of Advanced Technologies en daarna vir vier jaar gewerk as ’n tegniese ontwerper vir ’n maatskappy wat hoëgehaltekombuise vervaardig het. Hy het in Februarie 2025 as student by Quellerinagemeente begin waar hy deel van die bedieningspan geword het – hy het sy eie preekstyl ontwikkel onder mentorskap van twee leraars. Sy groot droom is om die kerkbanke te vul met mense van alle ouderdomme en hy stel veral belang in jeug- en kinderbediening. Deon kan gekontak word by 065 687 3592 of brandd199@gmail.com.

Deon Shorné Hendry Brand.

Lizanne Noeline Campbell, wat op 9 September 1989 gebore is en in 2007 aan die HTS Klerksdorp gematrikuleer het, is getroud met Egon Campbell en hulle het twee dogters. Sedert 2010 werk sy as oftalmiese assistent. Sy is ’n lidmaat by NG Doringkruin in Klerksdorp en is betrokke by JWL en is as kerkraadslid verkies. Sy het ook by die tienerbediening as groepleier en spreker gedien. Berading is waar haar hart lê en dit is vir haar ’n groot voorreg om die Here se genesing te fasiliteer. Sy wil graag die predikante in hulle omgewing ondersteun deur berading en aflospreke te behartig. Sy woon in Karobstraat 15, Doringkruin, Klerksdorp. Lizanne is beroepbaar as diensleraar en kan gekontak word by 079 445 7651 / lncampbell01@gmail.com.

Lizanne Noeline Campbell.

Angelique Deiner, wat gebore is op 13 Maart 1991 en matriek slaag in 2009 aan die Hoërskool Generaal Hertzog in Witbank, Mpumalanga, is getroud met Lionel en hulle het drie kinders. Sy het haar pastorale begeleiding en psigologiegraad by NWU in Potchefstroom in 2014 verwerf. In haar tweede jaar was sy SOS-portuurhelper wat studente in moeilike omstandighede en in trauma bygestaan het. Sy het ook as groepleier by verskeie eerstejaarskerkkampe gedien, sokker gespeel en was deel van die debatspan, ser en toneel. Sy was op verskeie uitreike na Mosambiek en Botswana. Daarna doen sy haar Honneurs in Teologie en voltooi dit in 2016. Haar eerste gemeente was vir haar baie spesiaal – die Gereformeerde Gemeente Hoëveld in Witbank. Sy het die jeugwerkersposisie gehad en het die kinderliteratuur daar ontwikkel, verskeie jeugkampe aangebied en reeds op universiteit saam met die gemeente koningskinderskampe aangebied. Angie stel veral belang in pastoraat, is baie lief vir die kerk maar ook vir die gemeenskap. Sy is tans NG Suidkerk se bestuurder van die pastorale sentrum waar sy saam met ’n span beraders werk. Sy doen ook spelterapie met ’n Christelike fondasie want daar is slegs genesing deur Jesus Christus, en speel is kinders se eie taal. Haar meestersgraadskripsie se titel was “Restoring your God-given identity after trauma”, wat gehandel het oor kinders se spiritualiteit en om kinders as individu op ’n geestelike vlak te bedien en nie net as ’n geheel in byvoorbeeld kinderdienste nie. Angie is beskikbaar en beroepbaar. Haar selnommer 071 311 6184 / en e-posadres is angie@midsuid.co.za.

Angelique Deiner.

Lourens Quinto Laureti, gebore op 28 Julie 1972, is getroud met Marie en hulle het drie volwasse dogters en ’n skoolgaande seun. Hy het matriek geslaag aan Vereeniging Tegnies in 1990 en het ’n BTh-graad in Teologie aan Noordwes-Universiteit behaal. Hy was ’n instrumentemeganikus by Sasol, jeugwerker, sendeling in beide Suid-Afrika en Papua Nieu-Guinee en is tans direkteur van Adullam-sending, ’n plaaslike sendingstasie, en bedien ook in verskeie gemeentes in die Govan Mbeki-distrik, waar hy onder meer help met prediking en pastorale ondersteuning. Lourens het vir ses jaar voltyds as jeugwerker in die NG Kerk Goedehoop gedien en saam met die leraarspan pastorale sorg in die gemeente verrig. Tydens sy 23 jaar as sendeling was hy betrokke by alle fasette van kerkplanting, pastorale begeleiding en die ontwikkeling van geestelike leierskap. Hy stel veral belang in Woordverkondiging, dissipelskap, berading en leierskapsontwikkeling. Sy kontakadres is Adullam-sending, Plaas Witkleifontein in Evander, selnommer 078 682 3211, e-posadres lourenslaureti2@gmail.com. Lourens is nie beroepbaar nie.

Lourens Quinto Laureti.

Chérie Marcélle van de Venter (néé Vermaak), gebore op 25 Januarie 1980, is getroud met Anton. Sy het gematrikuleer in Boksburg by Hoërskool Oosterlig in 1998 en ontvang haar PGCE deur Unisa, BMus, BA, BA-Hons (Filosofie), MMus en BTh-Hons aan die Universiteit van Pretoria (UP). Haar eerste werk was as administrateur by CIIMDA (Centre for Indigenous Instrumental Music and Dance in Africa), waarna sy 11 jaar Engelse Huistaalonderwyseres was by Boksburg High School tot en met 2019 en doen daarna afloswerk as taal- en/of musiekonderwyser waar nodig. As student het sy ’n internasionale musiek- en filosofiekonferensie (2004) geïnisieer, beplan en tot uitvoer gebring met die hulp van die Musiek- en Filosofiedepartemente op kampus. Tydens 2004 en 2005 was sy tutor by Filosofie waartydens sy ook klas gegee het in Besigheidsetiek. Tydens hierdie tydperk was sy ook die sekretaresse en sub-redakteur van SASGPH (The South African Society for Greek Philosophy and the Humanities) en hulle akademiese tydskrif Phronimon by die Filosofiedepartement. Vanaf Augustus 2001 tot Augustus 2003 was sy die UP Simfonieorkes se bestuurder. In 2003 en 2004 werk sy by die Musiekterapie-eenheid op kampus as administrateur. 2000 tot 2001 is sy klasverteenwoordiger in die Musiekdepartement; in 2003 in die Filosofiedepartement waarna sy in 2004 verkies is as studenteverteenwoordiger vir Filosofie. In 2002 is sy stigterslid en redakteur vir die MusTukkies, ’n departementele koerant by die Musiekdepartement. In 2022 word sy ’n jeugmentor by Sunwardpark Gemeenskapskerk en raak ook betrokke as komiteelid by die bejaardebediening ‘De Oude Jeug’. Einde 2022 word sy deel van die Inpas-bediening. Sedert einde 2023 is sy betrokke by die erediensbediening en Caregivers-bediening. In 2023 is sy ook deel van die pre-advieskommissie. Begin 2024 word sy verkies as ouderling. In 2024 loods sy die BRUG-projek waaronder daar verskeie projekte is en help ook met die jaarbeplanning vir 2025. Begin 2025 word sy formeel deel van die Musiekbediening. Chérie stel belang in die liturgie en hoe dit ons as lede van Christus se liggaam kan help en vorm na die beeld van God; hoe die liturgie ons spiritualiteit kan help ontgin sodat ons ’n ontmoeting met God Drie-enig kan hê en sodoende ook sy beeld na die wêreld kan uitdra. Haar skripsietema, “Exploring Imago Dei: Liturgical and ethical reflections in Wainwright’s theology and the Handleiding vir die Erediens”, handel oor die onderliggende gedagte dat “[t]rue worship occurs when human beings are restored to their original vocation and final end” (Wainwright 2006:9). Ons is gemaak vir gemeenskap met God, om sy beeld na die samelewing uit te leef, en om die aarde te versorg. Chérie is beroepbaar – sy woon in Sunwardpark, Boksburg, selnommer 083 747 6899, e-pos cherie.vermaak@gmail.com.

Chérie Marcélle van de Venter.

Donovan Weber, gebore op 10 Oktober 1999, is van die Wes-Rand afkomstig waar hy matriek geslaag het aan Hoërskool Noordheuwel in 2017. Hy het ’n sertifikaat in pastorale narratiewe terapie by UP verwerf in 2023, het FET NQF 5 Teologie (TIT) en by Hugenote Kollege was hy die klasverteenwoordiger. Na sy studies is hy die eerste en enigste tutor van die Teologie Fakulteit by die Kollege. Hy het in verskeie gemeentes bedien waar hy betrokke was by die jeug, pastorale versorging asook administrasie van die jeug. Donovan stel veral belang in die pastorale bediening van die gemeente juis omdat ons in ’n wêreld leef wat seer is. Die jeug en jong volwassenes is vir hom ’n groot dryfkrag om hulle ’n veilige plek in die kerk te kan bied. Algehele gemeentebediening is vir hom ’n groot, vreugdevolle bediening, daarom is een van sy gawes om te kan dien. Hy het ’n passie vir mense en vir God se Woord. Sy belangstelling lê daarin om na mense se stories te luister, sodat hy meer van die wêreld, en van God se werk in mense se lewe, kan verstaan. Hy glo dat elke verhaal iets openbaar van genade en hoop. In sy vrye tyd geniet hy hardloop en musiek – hy speel kitaar, baskitaar en elektriese kitaar. Hy sien daarna uit om saam met mense te groei in geloof, wysheid en liefde vir God se skepping. Donovan en sy vrou woon te Rosestraat 55, Florida-Noord, Roodepoort. Sy selnommer is 079 860 8928, e-posadres weberdonovan99@gmail.com en hy is beroepbaar.

Donovan Weber.

Louinette Andrea Weyer (as diensleraar bevestig op 3 Augustus) is op 10 November 1986 gebore en het in 2004 by Hoërskool Zwartkop, Centurion, Pretoria gematrikuleer. In 2005 gaan studeer sy toerismebestuur aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie. Vir 15 jaar bestuur sy haar eie besigheid wat insluit die beplan en bemarking van funksies, troues en konferensies vir publieke, privaat en NGO-instansies. In 2021 tree sy in bediening as kinderbedieningskoördineerder by Kerksondermure in Pretoria. In hierdie tyd begin sy haar B-graad in Teologie by Hugenote Kollege op Wellington vir diensleraar.

Louinette is ma van drie seuns en getroud met Erik Weyer. Hulle geniet die buitelewe, stap en avonture aanpak. Sy is passievol oor gesonde gesinne en gesonde gemeenskappe en fokus tans op Jeug- en Gesinsbediening. Ekumene verhoudings, gebedsbediening en lofprysing is ook na aan haar hart. Met haar ondervinding uit die gasvryheidsbedryf as entrepreneur is besigheid, bemarking en bestuur vir haar tweede natuur. Louinette beoog om verder te studeer in Teologie aan Universiteit van Pretoria in 2026. Kontakbesonderhede: 060 988 7311 / louinette@ngelarduspark.org.za.

Louinette Andrea Weyer.

ARTIKULEER

Pieter Jacobus de Wet is gebore op 24 Junie 1991 en getroud met Surita. Hy slaag matriek aan die Hoërskool President Steyn in 2009. Pieter was ’n paneelklopper van 2010-2013 en is tans ’n motor- en nie-motorassessor. Gedurende hierdie tyd studeer hy BDiv aan die Universiteit van die Vrystaat 2018-2021. Pieter het sy MTh in September ingedien. Sy ervaring tydens sy MTh-studies was dat al die persone met wie hy in kontak gekom het goed opgelei was in wat hulle doen – dit sê baie vir hom oor die karakter by die Universiteit van Pretoria wat gehandhaaf word. Tans doen hy Woordbediening en gereelde huisbesoeke om die gemeente te leer ken. Pieter stel veral belang in Woord-, sakrament- en pastorale bediening binne die gemeente. Hy is oortuig dat die kerk nie net inwaarts moet fokus nie, maar ook uitwaarts. Hy is tans besig met sy MTh aan UP, waar sy skripsietema “Teologiese trauma in die boek Habakuk: ’n Strydgesprek tussen die skrywer en God” is. Die tema handel oor die identifisering van teologiese trauma in die boek Habakuk. Pieter is as diensleraar bevestig in November 2024 en artikuleer na volle leraar. Hy is beroepbaar en kan gekontak word by 081 779 5709 / p.dewet@yahoo.com.

Pieter Jacobus de Wet

Johan van Staden het grootgeword in Rustenburg, waar hy vroeg ’n passie vir die bediening ontwikkel het. Reeds in sy belydenisjaar het hy ’n belangstelling getoon om teologie te studeer, maar hy het aanvanklik ’n ander roete gevolg en begin met Ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit. Na ’n suksesvolle eerste jaar het hy egter besef sy hart lê by mense, geloof en die bediening. In 2018 het hy sy studies in Teologie aan die Universiteit van Pretoria begin, en in 2022 sy BDiv voltooi. In 2023 het hy sy MDiv-graad verwerf met ’n skripsie getiteld Die verband tussen geloofservarings en psigotiese episodes, waarin hy ondersoek ingestel het na die raakpunte tussen geestelike ervarings, delusies en geestesversteurings. Daardie selfde jaar is hy ook gelegitimeer as diensleraar in die NG Kerk en het sy bediening by NG Proteapark in Rustenburg begin. Johan het sy opleiding verbreed deur studies aan die Theologische Hochschule Ewersbach in Duitsland, waar hy blootstelling gekry het aan ander kontekste, tale en kulture. Hierdie onkonvensionele roete het hom nie net toegerus met die formele kwalifikasies wat ’n leraar benodig nie, maar ook met ’n breër perspektief op kerkwees en bediening in ’n diverse wêreld. Vandag leef Johan met ’n oortuigende roeping, ’n passievolle hart en ’n vaste geloof dat God hom roep om in die bediening te staan en ’n verskil te maak – waar ook al die Here hom stuur. Hy is jonk, energiek en vasbeslote om die bediening met toewyding en entoesiasme aan te pak. Johan kan gekontak word by 073 576 0277 / e-posadres johan.vanstaden16@gmail.com.

Johan van Staden.
  • Wat is ’n diensleraar?

DIENSLERAARS is ’n kategorie van predikante wat in 2019 deur die NG Kerk ingevoer is. Diensleraars is persone wat om welke redes ook al nie die volle predikantsopleiding deurloop het nie. Hulle moet wel teologiese opleiding ook hê, maar kan ook ander kwalifikasies hê wat nie deel is van die gewone predikantsopleiding nie. Diensleraars word georden en beroep vir ’n spesifieke aspek van die bediening (soos jeugwerk of pastoraat) in ooreenstemming met hulle kwalifikasies. Die instelling van kategorie diensleraars maak toegang tot die kerklike bediening moontlik vir geroepe lidmate wat dit andersins nie sou hê nie. Dit maak dit ook moontlik vir gemeentes om iemand vir ’n spesifieke aspek van die bediening te beroep sonder dat hulle die koste van ’n volle predikantspos hoef aan te gaan. Daarby kan dit die gemeentebediening verryk met vaardighede wat gewone predkante nie het nie. Diensleraars is een element van ’n groter raamwerk waarmee die bediening in die NG Kerk uitgebou word. Ander elemente van dié raamwerk is bedienaars (ouderlinge of diakens wat ’n diploma verwerf het en spesifieke dienswerk in ’n gemeente doen), standplaasleraars (leraars wat vir een baie spesifieke bediening, byvoorbeeld aan Dowes, opgelei en beroep word), en voltydse leraars. Bron: elektroniese Christelike Kernensiklopedie

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top