Is daar nog ’n plek vir Openbare Belydenis van Geloof soos meeste volwassenes dit ken? Of het ons as Kerk die punt bereik waar ons dit as outyds en onnodig moet sien? Dit sou seker afhang van die rede waarom ons in die eerste plek belydenisaflegging hou … Francois Lamprecht vertel meer in hierdie laaste aflewering van hierdie reeks oor kategese.
Lees die volledige reeks: Deel 1 | Deel 2 | Deel 3
Belydenis is in een of ander vorm van die begin van die kerk af deel van gelowiges se verhaal. Van Timoteus wat ons lees “die goeie belydenis voor baie getuies afgelê” het (1 Tim. 6:12) tot vandag se belydenis afleggings is dit in een of ander vorm vir honderde jare deel van die geloofspad van jongmense.
Vanaf die 16de eeu het die gereformeerde kerke dit as ’n belangrike deel van jongmense se reis gesien om te verseker dat hulle werklik verstaan wat hulle glo en Wie hulle God is. Met dit in gedagte is dit duidelik dat belydenisaflegging moeilik losgemaak kan word van kategese. Wat jy bely, is wat jy geleer het in kategese.
Kategese en belydenis?
Het kategese belydenisaflegging nodig? Nee, glad nie, maar dit help! Dis glad nie ideaal nie, maar in ’n wêreld waar ouers al hoe minder tyd spandeer aan die kategese en geloofsgroei van hul kinders, help belydenisaflegging om jongmense te motiveer tot kategese. So, “for better or for worse” dit help ons om kinders in kategese te kry. Sou ’n gemeente dan daardie geleentheid mis om hul kinders goed te onderrig oor die lewende God, dan is dit werklik ‘n tragedie.
Kategese is sonder twyfel een van die groot boublokke van jong gelowiges se pad met God en elke geleentheid wat ’n gemeente het om dit te versterk moet met albei hande aangegryp word. Die feit van die saak is dat baie gemeentes nie eers kategese sien as die noodsaaklikheid wat dit is nie. Sou belydenis heeltemal wegval, is die kans dat die gemiddelde ouer vreeslik gemotiveerd gaan wees om hul tiener na kategese te neem, baie skraal.
So wat is die punt?
As jy belydenisaflegging sien as ’n formaliteit of net nog ’n roetemerker wat eintlik saamval met ’n spesifieke ouderdom of oorgang in ’n kind se lewe, dan sou belydenis seker nie soveel sin maak nie. Ook nie as geleentheid wat iemand nou toelaat om nagmaal te gebruik nie. Maar as belydenisaflegging iets vier oor ‘n jong gelowige se verstaan van Wie God is, hoe die Bybel oor Hom praat, hulle betrokkenheid in die geloofsfamilie van God en die uitleef van ‘n verhouding met Hom, dan beteken dit ontsettend baie!
Alle gelowiges lees nie die Bybel op dieselfde manier nie. Gereformeerde gelowiges het vir 500 jaar ‘n sekere manier waarop ons die Bybel lees. Hierdie spesifieke manier waarop ons God verstaan is só belangrik dat derduisende van hulle hul lewens afgelê het daarvoor. Hulle was bereid om dood te gaan net sodat hulle getrou kan glo in God op ‘n spesifieke manier. Vir enige gemeente wat reken dat hierdie manier waarop ons God verstaan belangrik is, behoort kategese ‘n belangrike rol te speel. Met belydenisaflegging getuig die jong gelowiges dat hulle verstaan wat hulle kerk glo, dat hulle God op só manier ken en dat hulle deel gaan wees van hulle kerk. Die gemeente getuig daarmee dat hierdie geloof vir húlle belangrik is en dat hierdie jong gelowiges ’n waardevolle deel van die gemeente is.
So sou jou gemeente reken dat belydenisaflegging nog ’n plek het en dit regtig sinvol vir jongmense wil maak, hou die volgende in gedagte:
Maak dit waardevol
Die versoeking is altyd baie groot om almal in te sluit in die kerk, maar vir iets om waarde te hê, moet ons werk daarvoor. Stel standaarde soos bywoning, deelname, praktiese diens geleenthede ens. waaraan voldoen moet word. Belydenisaflegging gaan ook oor voorbereiding van gelowiges om werklik deel te kan neem in ’n geloofsgemeenskap. Daarvoor is diens en ’n mate van kennis noodsaaklik.
Dis nie vir almal nie
Nie elke kind wat wíl belydenis aflê, moet noodwendig nie. Ja, ek weet, ons wil nooit enigeen uitsluit nie, maar belydenis gaan nie oor wat jy wil doen nie, dit gaan oor eerlike beloftes wat jy maak. As ’n jong gelowige nie gereed is om dit te doen nie, moet hulle nie. Hul lewe moet weliswaar wys dat hulle verstaan wat dit behels. Dit sal ook baie help om die hele proses vir almal meer waarde te gee. Jong gelowiges wat regtig erns maak daarmee voel verneuk as hulle sien hoe kinders wat nooit opdaag nie, nooit deelneem nie, ’n grap daarvan maak.
Maak dit spesiaal
Gemeentes moet werklik alles moontlik doen om ‘n belydenisaflegging spesiaal te maak. Dis ’n geleentheid wat ’n geestelike oorgang in hul lewens beklemtoon en vier. Spandeer genoeg tyd daaraan, laat die hele gemeente deelneem daaraan. Doen ekstra moeite met die liturgie, die simboliek, die gelukwensing, gemeente leiers, die predikant, voorsitter van die kerkraad- almal moet daar wees! Die boodskap moet duidelik wees: hierdie is ‘n besonderse geleentheid. Bring die koeksisters en kuier! Laat lidmate van alle ouderdomme dit saam kom vier.
Maak dit die begin, nie die einde nie
Rig die hele proses van belydenis en aflegging só in dat kinders oor en oor die boodskap kry: hierdie is die begin van iets. Daar is baie kritiek teen belydenisaflegging omdat jongmense “weg raak” uit die kerk daarna. Maak seker dat daar saam met hul aflegging ‘n proses is waar hulle inskakel by bedienings, gee hulle ‘n rol om te vervul in die gemeente en hanteer dit as doodnormaal deel van die belydenis proses. “Maar hulle gaan nie tyd hê in matriek nie!” hoor ons baie. Hulle gaan nooit weer soveel tyd hê soos nou nie. Wanneer hulle studeer, werk en gesinne het is die tyd nog minder. Leer hulle om nou reeds tyd te maak vir aktiewe deelname dan leef hulle dit vir altyd.
Die toekoms van Belydenisaflegging
Gaan ons oor 10, 20 jaar steeds belydenisafleggings hou? Wie weet. Ons gaan wel moet uitmaak of dit wat ons kerk glo van genoeg belang is dat ons kategese en belydenis ’n werklike rol moet speel in die groei van jong gelowiges? Solank as wat ons dit nog het, sou gemeentes baat vind daarby om dit te vier as ’n sinvolle mylpaal in die leer en lewe van jong gelowiges. Dis veronderstel om meer te wees as ‘n ritueel van tradisie en kop kennis- dis ’n viering van nog ’n jong gelowige wat die ware Jesus leer ken.
LigApp Kategese kan gemeentes hiermee help deur les materiaal wat gebou is op gereformeerde belydenisskrifte. Dit word op só ‘n manier aangebied dat dit nie net kennis oordra nie, maar hierdie belydenis waarhede ook prakties deel van jongmense se lewens maak. Vir meer inligting kontak ons gerus by www.ligapp.co.za
Ds Francois Lamprecht is leraar by Pellissier Gemeente in Bloemfontein
