Ons kan die beste materiaal, die mooiste lokaal en die mees kreatiewe aktiwiteite hê — maar sonder opgeleide en goed toegeruste leiers is kategese in gevaar. Aan die hart hiervan bly hierdie waarheid: die gehalte van ons leiers bepaal die gehalte van ons vorming. Hierdie artikel gee vir gemeentes ‘n eenvoudige padkaart om leiers toe te rus vir effektiewe bediening, skryf Francois Lamprecht in die tweede aflewering van hierdie reeks.
1) Begin met ’n eenvoudige leiers profiel
Skryf ’n kort, konkrete profiel vir ’n kategese leier. Iets in die lyn van:
- Karakter (Watter tipe mens is dit): betroubaar, wysheid, leerbaarheid; ’n gesonde gebedslewe.
- Vaardighede (Wat moet hulle kan doen): goeie Bybel kennis, goeie begrip van gereformeerde standpunte, kan ’n gesprek fasiliteer, kan veilig met tieners werk.
- Verhoudings vaardig: kan verhouding bou met kinders en ouers.
- Verantwoordbaarheid: bereid om te werk in ’n span, werk saam tot opbou van gemeentelike visie.
Hierdie profiel gaan help om makliker die regte mense te identifiseer in jou gemeente. Wanneer jy hulle nader om deel te word sal hulle ook meer geneig wees om in te stem as hulle sien dat die gemeente weet wie hulle soek en waarom jy juis vir hulle vra om betrokke te raak.
2) Ontwerp ’n jaarlikse opleidingsplan
In plaas van een lang sessie aan die begin van die jaar (of dalk geen sessie nie!) bou ’n eenvoudige opleidings plan wat reg deur die jaar strek. Dit kan byvoorbeeld een sessie per kwartaal wees:
Kwartaal 1: Visie & veiligheid: waarom kategese saak maak; basiese kinder-/jeugbeskermings reëls en wat verwag word van leiers. (Maak seker dat jou leiers weet wat die kinderwet verwag van die gemeente.)
Kwartaal 2: Bybelvaardighede & les hantering: hoe om ’n teks te lees; kernboodskap vas te maak; hoe om die gemeente se materiaal te gebruik en hantering van moeilike vrae.
Kwartaal 3: Gespreksfasilitering: hoe om groepe aan die praat te kry; hantering van stil of dominante leerders; praktiese wenke vir moeilike situasies in groepe.
Kwartaal 4: Terugvoer & opvolg: hoe om die sukses te meet van ’n groep, kommunikasie met ouers en gepaste manier om ‘n dieper verhouding te bou met groeplede.
Hierdie sessies moet lekker prakties wees: demonstreer ’n mini-les; laat elke leier oefen; gee kort notas uit wat hulle huis toe kan neem. Hierdie opleiding hoef nie van elke leier ’n super- mentor te maak nie, dit moet net leiers toerus om ’n sinvolle groep te kan aanbied.
3) Maak die diep kant vlakker deur mentorskap
Wanneer ’n lidmaat hand opsteek om ‘n leier te wees vergeet ons soms wat ‘n groot uitdaging dit vir hulle kan wees. Iemand wat vir die eerste keer aanmeld om ‘n groep aan te bied pak ‘n groot onsekerheid aan. Maak seker dat dit ’n goeie ervaring is deur hulle van die begin af te help.
- Leer eers: laat ’n nuwe leier eers insit by ‘n ervare leier se groep om te sien hoe hulle dit doen.
- Gee terugvoer: waar moontlik laat ’n ervare leier insit by die eerste les wat ‘n nuwe leier aanbied om hulle te ondersteun en terugvoer te gee oor hoe hulle vorder.
- Gereelde ondersteuning: loer in by ’n nuwe leier deur vir die eerste paar weke net nou en dan te vra hoe dit gaan en waarmee die gemeente hulle kan ondersteun.
Met hierdie tipe van mentorskaps-kultuur kweek jou gemeente betroubare leiers wat weet dat hulle ondersteuning het.
4) Versterk die band met ouers
Help leiers om goeie bande te bou met hul groep se ouers. Op hierdie manier word hulle meer effektief as leiers, maar ook brug bouers tussen die gemeente en huis. Hier is wat die gemeente kan doen:
- Stel hulle voor: die predikant of ander toepaslike leier moet ouers nooi na ’n geleentheid (dit kan net ’n koffie na kerk wees) waar hulle die kinders se nuwe leier kan ontmoet. Dit stuur ’n duidelike boodskap: ons vertrou en ondersteun hierdie leier.
- Ouer vrae: nooi ouers om oop en eerlik te kommunikeer met leiers. Dis belangrik dat ouers en leiers weet dat die eerste plek waar ’n ouer kontak maak oor iets rakende die leier is met die leier self. Dit skep ’n dissipline van oop en eerlike kommunikasie. Dis net waar hierdie kommunikasie nie help nie wanneer ’n ouer met die dominee kom praat “oor” ’n leier.
- Beskerm leiers: ouers is soms onredelik met leiers. Daar is baie wonderlike ouers in gemeentes wat die beste geloofspad vir hulle kinders wil hê, maar daar is ongelukkig ook ouers wat dink die kerk bestaan om hulle kind te bedien op die kind se terme. As ’n ouer onredelik is met ‘n leier moet groter leierskap intree om sake reg te stel. Leiers moet weet dat hulle gemeente agter hulle staan.
5) Sorg vir jou leiers
Moeë leiers skep moeë groepe. Dit is gelukkig maklik om kategese leiers te help om entoesiasties te bly:
- Skep ritmes van dankbaarheid, erkenning, gebed, ontlading, en toerusting wat regtig help.
- Laat kinders van alle groepe een keer per jaar ’n geleentheid hou waar hulle positiewe terugvoer gee vir hulle leiers.
- Hou een keer per jaar ’n geleentheid waar die gemeente tydens ’n erediens erkenning gee aan die leiers wat met hulle kinders werk.
- Waar moontlik- eet saam! Dit bly ’n wonderlike manier om iemand gewaardeerd te laat voel.

6) Sinvolle materiaal
Wanneer leiers toegerus, entoesiasties en gefokus is kan hulle vir jong gelowiges wonderlike ervarings skep, maar die inhoud van hierdie ervarings moet sinvol wees. Gemeentes moet verseker dat leiers toegerus word met sinvolle materiaal waarmee hulle kinders kan begelei.
- Bybel gesentreerd: materiaal moet ’n baie duidelike Bybelse vertrekpunt hê wat kinders ‘n liefde leer vir God se Woord.
- Belydenis gefokus: wat jou gemeente glo is nie ’n kantaantekening nie, dis die middelpunt van wat ons jongmense leer. Maak seker materiaal is getrou aan die belydenis wat jou kerk bely EN dat kinders dit weet. Hulle moet nie eers in die laaste jaar van hul kategese hoor daarvan nie.
- Relevant: materiaal moet duidelik toepasbaar wees op hul lewens. Die inhoud en aktiwiteite moet gepas wees vir hul ouderdom en leefwêreld anders verloor hulle vinnig belangstelling.
- Verantwoordbaarheid: die inhoud van materiaal maak saak. Anders sou al die moeite van kategese groepe, byeenkomste en leiers onnodig gewees het. Maak dus seker dat kinders verantwoordbaarheid leer daarvoor. Niemand wil hê kategese moet soos nog ‘n dag van skool voel nie, maar as niemand verwag dat hulle werklik die materiaal deurwerk nie, dan het dit geen waarde nie.
Die skrywer is leraar by Pellissier Gemeente in Bloemfontein. Hy skryf: Die doel van kategese is nie om kinders net te vermaak nie. Dis ook nie om ’n sesde dag skool in te werk nie. Die doel daarvan is om jongmense voor te stel aan die lewende God, die Een wat vir hulle oneindig lief is. Leiers moet hulle begelei om dieper in hulle verhouding met Hom te groei. LigApp Kategese se leuse is “Relevant, Bybels, Betrokke”. Dis ’n program wat leiers goed voorberei vir ‘n goeie groep byeenkoms waar kinders werklik dieper kan delf in materiaal wat op eietydse manier gebou is op die Bybel en gereformeerde belydenisskrifte. Ons skep ook gratis hulpmiddels vir gemeentes en leiers wat hulself beter wil toerus hiervoor. Loer gerus in by ligapp.co.za se “Gratis Hulpmiddels” afdeling.

