Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Kategese wat werk (Deel 1) | Ouers as Medeleiers: Volhoubare Vennootskappe vir Volhoubare Geloofsgroei

Kinders se geloofsgroei is belangrik. Daaroor kan enige leier in die kerk saamstem en die grootste geleentheid wat enige gemeente het om dit te koester is kategese.Francois Lamprecht vertel meer. 

 

Maak nou nie saak hoe jy daaroor voel of hoe goed dit in jou gemeente gaan nie, kategese is die plek waar jou gemeente die heel meeste groei kan help fasiliteer in jong gelowiges se lewens. En met goeie rede! Dit was nog altyd die punt gewees van kategese – dat dit ’n ruimte is waar gelowiges vir God al hoe beter kan leer ken en al hoe dieper groei in hul geloofslewe.

Wanneer dit kom by jong gelowiges kan geen predikant, kategeet of program die invloed van ’n ouer vervang nie. Jou grootste vennoot in die geloofsgroei van kinders is betrokke ouers—selfs al beteken “betrokke” net ouers wat bewus is, wat saam gesels of bid vir hulle kinders. Gemeentes kan hierdie vennootskap struktureer sodat dit lig voel vir ouers en tog groot effek het vir jongmense. Hier is ’n paar wenke om vennootskappe met ouers te help skep.

Vir meer inligting oor LigApp Kategese gaan na www.ligapp.co.za

Waarom “bewus” reeds betrokkenheid is

Baie ouers is oorlaai. Hulle tyd is beperk, die druk is aan. Party wil help, maar weet nie waar om te begin nie. As ’n ouer net drie dinge weet – tema, sleutelvers en wat om te vra – kan hulle betekenisvolle gesprekke voer met hulle kinders. Dis al klaar ’n groot skuif.

Wat kan die gemeente doen?

  1. Kwartaalkaart: Skep een blad met fokus, sleutelverse, en ’n paar vrae vir die huis. E-pos dit, whatsapp dit, wat ook al solank die ouers dit kry.
  2. Sondag boodskap aan ouers: Twee sinne na elke les: “Hier is die kern van vandag se les; vra gerus jou kind vanaand daaroor!”
  3. Mini-ritmes vir huise: Stel voor dat hulle die temas gebruik om een aand ’n week na ete daaroor te gesels en te bid.
  4. Vroeë terugvoer: As ’n tiener rukkerig bywoon of sukkel, stuur ‘n vriendelike whatsapp –  “Ons mis vir “…” Hoe kan ons help dat hy/sy meer gereeld bywoon?”
  5. Oueraande as toerusting, nie skuld:  Skep ’n 60 minute, praktiese opleidingsessie vir ouers. Hou een per semester. Wys ouers hoe die kategese werk en hoe hulle dit kan toepas in die huis. Help hulle met praktiese riglyne om kinders te leer bid en lees.

Hoe kry jy hulle om in te koop?

  • Erken die werklikheid van moegheid en tydsdruk. Maak die boodskap duidelik: “Dis nie altyd maklik nie, maar jou kind se pad met God is só belangrik dat ons graag saam met jou wil werk daaraan.”
  • Normaliseer vrae en twyfel by tieners; ouers hoef geen druk te ervaar om “al die antwoorde” te hê nie. Leer hulle hoe goed dit is om saam met jou kind te soek na ’n antwoord.
  • Maak die ondersteuning tasbaar. Ouers moet verseker wees daarvan dat hulle ’n oop kommunikasie kanaal het na hul kind se leier en die predikant. As hulle vrae het moet hulle dit enige tyd kan vra en reaksie kry.

Rol van kategete/leiers

Kategete of leiers is die brugbouers tussen die gemeente en gesinne. Moedig hulle aan om kort boodskappe huis toe te stuur. Gee positiewe terugvoer oor kinders en bou verhoudings met ouers.  Leiers is die eerste kontakpunt vir ouers wat vrae het oor hulle kinders se kategese. ’n Goeie leier is goud werd vir ’n gemeente. Waardeer hulle en wys dit vir die gemeente.

Suksesmerkers vir predikante

Dis belangrik om te weet waarvoor ‘n gemeente mik met kategese en om vordering te vier. So wat wys vir ‘n gemeente dat die verhouding met ouers gesond is?

  • Kinders wat opdaag! Betrokke ouers gaan moeite doen om hulle kinders betrokke te kry.
  • Huishoudings wat getuig van een weeklikse gesprek/gebed. (Vra nou en dan sommer ’n ouer om te getuig daarvan in die gemeente – dit help ander ouers inspireer.)
  • Verhoogde reaksie op klas-boodskappe. Minder boodskappe wat ouers lees en nooit antwoord nie.
  • Minder krisisse wat eers laat opduik omdat ouers en leiers vroeër met mekaar kommunikeer. Dit help nie jy vind eers aan die einde van die jaar uit dat ‘n kind amper nooit by kategese was nie.


Waar gemeentes ouers as medeleiers intrek, toerus en eer, verander kategese van ’n geïsoleerde uur na ‘n gedeelde reis deur die week. Wanneer ouers van registrasie af ingesluit word en gereelde, eenvoudige vorderings-terugvoer ontvang, word hierdie vennootskap natuurlik en volhoubaar. Hulle weet van dag een af dat hulle deel is van hulle kinders se geestelike groei.

Hierdie is net een van die eienskappe van LigApp Kategese wat help om kategese meer relevant en betrokke te maak. Ouers is deel van die registrasie proses op die app en die gemeente kan outomaties deur ons platform met ouers kommunikeer oor hulle kinders se vordering en betrokkenheid.

Vir meer inligting oor LigApp Kategese gaan na www.ligapp.co.za


Ds Lamprecht is leraar by Pellissier Gemeente in Bloemfontein

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top