Hendrico Ockhuys is deesdae ietwat van ’n legende in die Kaapse kerkomgewing, ’n mens loop hom orals raak.
“Ek woon in Ysterplaat by Isibindi. Ons ‘huis’ is uniek, want dit is gebou op die verhoog van die kerksaal, my kamer is agter die verhoog in die aantrekkamers – omdat ek te dramaties is om op die stage te bly,” lag hy.
Hendrico is ’n leier by die koshuis op die terrein vir jongmense in nood, help by die nasorgprojek en is verantwoordelik vir die hawelosebediening. Onder andere. Hendrico is ’n besige man!
Behalwe vir sy werk by Isibindi, is hy hoofouderling by NG Ysterplaat.
“Ons kerkraad werk lekker saam,” sê hy, “Sondae maak ons saam kerkbroodjies, spring in by basaars en allerhande ander goed wat die kerk aanpak. Dit is ’n arm gemeente, maar ek dink ons kerk is eintlik nogals ’n voorbeeld vir ander ryker gemeentes van wat dit beteken om hande en voete van Jesus hier op aarde te wees.”
In 2018 het hy ’n predikingkursus gedoen. Sy proefpreek was by die erediens van ’n ouetehuis waar hulle betrokke is. Later studeer hy by Hugenote Kollege en word ’n bedienaar met pastorale sorg as fokus. Meer onlangs voltooi hy die leierskapsontwikkelingsprogram van die Pinnagon Foundation.
Een van sy groot drome is om eendag ’n maatskaplike werker te word. “Een wat nie net so tussen die papiere in ’n kantoor sit nie, maar hands-on met mense in nood werk,” sê hy.

Ek vra hom oor sy grootwordjare.
“Ek is ’n boorling van Kliprand, ’n baie klein dorpie op die grens van die Noord- en die Wes-Kaap. My ma was ’n huisvrou. Sy het vyf van ons kinders grootgemaak. Sy het ons versorg, discipline gehandhaaf (dis hoekom ek so goed uitgedraai het!) en sy het my leer kosmaak. Geleer brood bak, skoonmaak, was en stryk. Mamma was baie streng. Even nou nog as ek gaan kuier, sê sy, onthou jy is onder my dak! Maar sy is vol liefde met min woorde.”
Sy oorlede pa het op die myne gewerk. Hy was baie weg, maar Hendrico sê hy onthou net mooi dinge.
“My pa was my hero. Hy was liefdevol, saggeaard en motiverend. Hy het ons grootgemaak in die kerk; hy was ook ’n ouderling. By hom het ons geleer van Jesus se liefde en iets van community wat ek vandag nog met my saamdra.”
In 2016 het Hendrico Kaap toe getrek. In sy woorde was hy ’n “jongklong wat van ’n plaasdorpie af kom waar daar net drie ligpale en stofstrate is”.
Sy pa het gesê hy moet so gou moontlik inskakel by ’n kerk in die stad. Dis hoe hy afgekom het op die gemeente in Ysterplaat. Later het ds Niel Steyn en ds Scherlize van der Merwe, wat aan die stuur van Isibindi staan, hom gevra om meer betrokke te raak en in te trek. Vandag is hy deel van die leierspan.

Oor Scherlize sê hy: “Net ná ek haar ontmoet het, het ons saam begin draf en vriende geword. Haar preke raak my altyd aan. Elke keer sal ek ná die diens na haar toe gaan en vir haar sê, jy het weer vanoggend vir ons met ses kante gegooi! Maar sy leef wat sy glo, en haar liefde vir mense en community is aansteeklik.”
Lees ook: Jaco Strydom gesels met ds Scherlize van der Merwe van Ysterplaat
’n Paar dinge frustreer hom oor die kerk in Suid-Afrika. Dinge soos die gebrek aan eenheid tussen die NGK en die VGK, kerke wat dit vir LGBTQ-mense moeilik maak en wat sê hulle gee om, maar bitter min doen.
Aan die ander kant is hy baie positief oor die kerk. Hy het ook al gemeentes teëgekom wat rêrig omgee en moeite doen, kerkmense wat hulp aanbied waar daar nood is, wat help om mense bymekaar te bring en die gemeenskap help genees.
Hierdie kerke gee hom hoop vir Suid-Afrika.
Wat is daar wat min mense van jou weet? vra ek.
“Ek kan hekel en ek kan suurdeeg maak, van scratch af! En ek kan nie swem nie – dis een van my groot drome om eendag te leer swem.”
Soos ’n mens jou kan indink het hy daagliks te doen met groot uitdagings. Daar is soveel nood in die Ysterplaat-gemeenskap, waar erg uiteenlopende mense van ’n legio kulture en sosio-ekonomiese agtergronde weekliks saam eet en aanbid. En in die Isibindi-gemeenskap waar hy op Ysterplaat-gemeente se kerkterein, saam met jongmense in nood woon met die hoop om hulle ’n kans te gee op ’n nuwe begin. Waaraan hou hy vas wanneer hy moeg, moedeloos en gefrustreerd raak?
Hendrico sê hy het geleer om aan Jesus vas te hou in rowwe tye en wanneer dit goed gaan. “Sy liefde is nie net mooi nie, dis dapper!” sê hy. “En Jesus se liefde is altyd daar, selfs al gaan jy deur donker tye. Ek het ook geleer dat die mense hier regtig omgee en dat ek nie alles alleen hoef te doen nie, dat ek vir hulp kan vra.”
Iemand het een keer gesê, ’n teken van ’n saint, is dat jy altyd beter oor die lewe en oor jouself voel as jy klaar met hom of haar gepraat het. Hendrico Ockhuys is een van dié rare mense, iemand wat oral waar hy gaan presies dít regkry.
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeuggemeenskappe en die NG Kerk Villieria.
