Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Resensie: Doel met boek oor moord op dominee is nie klokhelder

Die moord op Liezel de Jager deur Anena Burger

Uitgewer: LAPA, 2025

Resensent: Rethie van Niekerk

Sjoe. Ek weet regtig nie hoe om Die moord op Liezel de Jager te resenseer nie. Na die eerste twaalf bladsye, moes ek eers ’n breek neem. Na nog ’n paar bladsye, weer.

Ek het die hele tyd bly wonder: Hoekom? Wat is die doel met die skrywe? Anena Burger skryf dat geregtigheid vertraag geregtigheid is wat ontsê word. Moontlik is hierdie boek ’n poging om iets van daardie geregtigheid te laat geskied. In die bedankings noem Burger dat sy Liezel de Jager se nagedagtenis wou bewaar en koester. Burger hoop dat die boek ’n laaste eerbetoon is wat ander in soortgelyke omstandighede kan help.

Met Suid-Afrika se vlakke van geslagsgebaseerde en huishoudelike geweld asook vrouemoord, is dit belangrik dat verhale soos dié van Liezel de Jager vertel word. Ook nou, te midde van die Sestien Dae van Aktivisme Teen Geslagsgebaseerde Geweld.

Tog bly ek wonder: Hoe moet hierdie verhale vertel word? Dit is duidelik dat Burger poog om Liezel de Jager se verhaal op ’n menswaardige manier te vertel. Dit is waarskynlik ’n bykans onbegonne taak om dit te doen op ’n manier wat nié sensasioneel klink nie.

Sou dit my help as die vertelling van hierdie gebeure ingebed was in die kompleksiteit van sosiale verwagtinge, godsdienstige oortuigings en Suid-Afrikaanse geweld teen vroue en kinders, as dit die verhaal van Liezel de Jager was, eerder as die moord op Liezel de Jager? Ek weet nie.

Beskikbaar by die meeste boekwinkels.

Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top