Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Julian Olivier van Groblersdal skryf: In die huidige gesprek oor vroue in die amp word baie gesê oor mag, uitsluiting en proses. Tog bly die werklike vraag dikwels onuitgespreek – die olifant in die kamer: Is die skeppingsorde normatief vir die kerk van alle tye, of is dit onderhewig aan voortgaande konsensus en hermeneutiese ontwikkeling?
LEES OOK | Brief: GKSA en die vrouedebat
Wanneer Paulus in 1 Timoteus 2 oor leer en gesag in die gemeente skryf, anker hy sy argument nie bloot in plaaslike wanorde nie, maar in Genesis: “Adam is eerste gemaak, daarna Eva.” Die motivering lê in skepping en sondeval. Die NG Kerk se eie besluit in 1990 het self erken: indien 1 Timoteus 2 op die erediens betrekking het, is die skeppingsargument nie tydgebonde nie. Die verskil hieroor is dus nie bloot oor waardigheid of deelname nie, maar oor hoe hierdie skeppingsankering verstaan moet word.
Die Nuwe Testament toon nêrens dat Christus skepping ontbind het nie. Inteendeel, Hy beroep Hom self op Genesis wanneer Hy oor die huwelik leer (Matt 19). Efesiërs 5 verbind man en vrou se verhouding weer aan Genesis 2. Herskepping hef dus nie skepping op nie; dit herstel dit tot God se goeie bedoeling. Genade vernietig nie orde nie – dit suiwer dit.
LEES OOK | Brief: Vroue-dominees in die Bybel
Dit beteken egter nie dat gesag onkrities hanteer mag word nie. Die misbruik van gesag is ’n werklikheid wat die kerk moet bely en aanspreek. Tog moet ons waak teen oorkorreksie. Jesus kritiseer die Fariseërs nie omdat hulle gesag het nie, maar omdat hulle dit misbruik het. Hy ontmasker skynheiligheid, nie gesag self nie.
Wat van vroue wat in die Bybel praat en profeteer? Debora, Anna, Filippus se dogters en die vroue by die graf getuig inderdaad kragtig. Maar die vraag is nie of vroue mag dien of getuig nie; die vraag is of profesie en getuienis gelykgestel kan word aan die leer- en regeeramp soos in die Pastorale Briewe omskryf. Die Nuwe Testament onderskei tussen gawes (charismata) en opsienerskap (presbuteros). Gelykwaardigheid beteken nie rolidentiteit nie.
Laastens moet ons ook nederig wees. Hierdie debat is nie uniek aan ’n ander kerkverband nie. Ons eie kerkverband worstel al dekades lank met dieselfde hermeneutiese spanning. Dit sou selfregverdig wees om met ’n morele vinger na ander te wys terwyl ons eie verstaan van Skrifgesag onder ’n vergrootglas is en spanning rondom sinodale besluite oor onder meer seksuele etiek duidelik wys hoe diep hierdie vraagstuk ons almal raak.
Die kernvraag bly dus eenvoudig: Is die skeppingsorde, soos deur Christus bevestig en deur die apostels toegepas, normatief vir die kerk? Of word dit heronderhandel binne voortgaande gesprek? Om dié vraag eerlik te stel, is nie vrees nie – dit is getrouheid aan die Woord waaronder ons almal moet buig.
