Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: GKSA en die vrouedebat

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

André Mouton van Otavi skryf: Hierdie hele sage raak eers helder wanneer ’n mens dit nie vanuit eie logika of selfhandhawing lees nie, maar vanuit ’n posisie van Christusgesentreerde onderskeiding.

LEES OOK: Spanning loop hoog, maar leiers wil ‘openhartig’ gesels ná GKSA dié besluite neem op Potch

So is die vraag nie of die GKSA reg of verkeerd is of “Sal die hof ingryp?” nie. Dit is ook nie bloot: “Wie diskrimineer teen wie?” nie. Die dieper vraag is: Wat gebeur met ’n kerk wanneer sekerheid belangriker raak as teenwoordigheid, en orde belangriker as onderskeiding?

’n Christusfokus begin nie by die teks alleen nie, maar by die Lewende Woord. Christus staan nie buite hierdie dispuut as ’n neutrale verwysingspunt nie; Hy is self die hermeneutiese sentrum. En wanneer Christus die sentrum is, word magsvrae, ampsvrae en selfs gelykheidsvrae op ’n ander vlak geplaas.

LEES OOK | Kunsmatige Intelligensie: Opwinding word afgewissel deur vrae en omsigtigheid toe teoloë oor KI besin

In die Evangelies sien ons ’n konsekwente patroon: Jesus bevestig die Skrif, maar Hy weier om dit te laat funksioneer as ’n meganisme van uitsluiting. Hy ontmasker die manier waarop die wet gebruik word om identiteit te beveilig en grense te polisieer. Die spanning is dus tussen Skrif as lewende getuienis en Skrif as ’n geslote sisteem.

So gesien, word die indruk gewek van ’n kerk wat veiligheid soek in vaste kategorieë, eerder as vertroue in die teenwoordigheid van Christus deur sy Gees. Die probleem is nie dat ’n kerk tot ’n bepaalde verstaan van amp kom nie maar ontstaan wanneer daardie verstaan verhef word tot ’n eindpunt, eerder as ’n onderskeidende proses onder die Here van die kerk.

’n Christusgesentreerde derde dimensie erken dat die Skrif nie aan ons gegee is om finale beheer oor God se orde te verseker nie, maar om ons in te trek in God se voortgaande handelinge met mense. Dit beteken dat besluite voortdurend getoets word aan die vrug van die Gees en nie net aan die historiese kontinuïteit daarvan nie.

So gesien is dit ook duidelik waarom Christelike onderskeiding nie juridies afgedwing kan word nie. Die hof kan prosedurele reg beskerm; dit kan nie die kerk leer om te luister nie. Dit vra dat ampsverstaan nie as ’n grenspaal gebruik word om te bepaal wie “in” en wie “uit” is nie, maar as ’n diensvorm wat voortdurend aan Christus se selfgawe gemeet word.

Miskien lê die werklike toets vir die GKSA nie daarin of hulle die Grondwet kan oorleef nie, maar of hulle die versoeking kan weerstaan om sekerheid bo gemeenskap te verkies en vir kritici lê dit nie daarin om te bewys dat die kerk “verkeerd” is nie, maar om te vra of ook hulle nog glo dat die Gees werklik die kerk lei, selfs deur pynlike, onvoltooide gesprekke. Dit vra die moed om nie God se toekoms toe te eien nie, en tog nog getrou teenwoordig te bly, met mekaar, onder die Woord, in hoop eerder as beheer. Dalk is dit presies hier waar die hartsondersoek lê. Durf die kerk nog glo dat Christus self genoeg is om haar deur onsekerheid te dra?

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Brief: GKSA en die vrouedebat”

  1. Wat is die gevolgtrekking van die predikant? Lang omhaal van woorde, maar wat is die beginsel? Wie het boonop verwys na wat die hof sal besluit?

  2. Volgens Scriptura (‘n blog van GKSA predikante) is die vraag: het Christus, volgens die Skrif, susters dan geroep tot die besondere regeer- en leeramp?

    Daarop moet ons (die doppers), uiteindelik in nederigheid en eerlikheid, gehoorsaam antwoord: NEE.

    Geen Bybel verwysing word gegee nie.

    Die Ouderling amp is ‘n bedieningsamp en nie ‘n regeer amp nie. ‘n Klein gedeelte daarvan het wel ‘n regeer funksie wanneer kerkvergaderings, klassisse en sinodes bymekaarkom en besluite neem. Maar die doppers verhef nou hierdie vergaderings as ‘n regeer instansie of “Parlement” wat wette en regulasies links en regs uitvaardig aan alle dopper kerke, om ter wille van die “eenheid van kerke” gehoorsaam daaraan te wees. Dit is baie duidelik dat hierdie dopper kerkvergaderings nou die plek ingeneem het van die Bybel of gelyk is daaraan.

Comments are closed.

Scroll to Top