In sommige Westerse lande soos Swede is ’n opswaai in kerklidmaatskap en bywoning sigbaar na dekades van leë kerkbanke. Hierdie stand van sake het die Sweedse teoloog Joel Halldorf laat vra: Wat gaan aan?
Halldorf vertel in die 1970’s en 1980’s was dit die norm om nie kerk toe te gaan nie. “Ons het die hoogtepunt beleef van ’n kultuur wat oorgeloop het met sekulêre selfvertroue,” skryf hy in Not so secular Sweden, sy artikel wat 8 Januarie 2026 aanlyn verskyn het.
Hy sê as kind wou meeste ander skoolkinders verbysterd by hom weet of hy “die memo gemis het … dat godsdiens uitgedien is, wetenskap het bewys God bestaan nie”.
Halldorf verduidelik hierdie kultuurskuif het gekom na Swede aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog doelbewus gekies het weg te breek van konvensionele godsdienstige moraliteit. Die gevolge was oor die volgende dekades sigbaar in leë kerkbanke. Teen 2000 het skaars 5% van Swede kerk toe gegaan
Sedert 2010 het ’n nuwe kultuurskuif egter momentum begin optel. Dagblaaie het weer ook teoloë as rubriekskrywers gehad. Halldorf haal statistieke aan wat wys watter groei die land se grootste denominasie, die Sweedse Kerk (Svenska kyrkan), in die laaste jare gesien het in mense wat aansoek doen vir lidmaatskap sowel as in mense wat belydenis van geloof aflê. Onder hulle tel immigrante sowel as Swede. ’n Opname deur die SOM-instituut het in Maart 2025 gewys die aantal Swede wat kerk toe gaan het van tussen 2020 en 2024 verdubbel van 17% tot 24%. Die hoogste syfer vir kerkbywoning in byna twee dekades. Halldorf noem ’n ander jaarlikse Sweedse opname onder jongmense het in 2025 selfs vir Jesus die “Beïnvloeder van die Jaar” genoem.
Halldorf meen hierdie verandering in die godsdienstige landskap is te wyte nie soseer aan ’n terugkeer na die Christelike geloof nie maar volg op ’n “erosie van geloof in vooruitgang, rede en wetenskap as kwasi-heilige ideale”. Mense is weer nuuskierig oor spirituele sake.
Hy noem soortgelyke tendense is ook in van die ander Westerse lande sigbaar.
