Die NG Kerk het ’n fossiel geword! So skryf ’n leser onlangs op ’n mediaplatform. Hy verwys dan na die kerk se hart van klip omdat die kerk die Bybel kwansuis nie ernstig opneem nie, want meen hy, die NG Kerk laat vroue toe om predikante te wees. Hierdie uitspraak is waarskynlik gemaak teen die agtergrond van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika se besluit om nie vroue in die amp van ouderling of predikant toe te laat nie.
LEES OOK | GKSA: Lidmate besin saam oor ’n besluit wat hulle voor moeilike keuse stel
Hoewel sulke opmerkings in die media eintlik nie ’n antwoord waardig is nie, het die onsteltenis van ’n vroulike kollega oor die opmerking gemaak dat dit nie sommer geïgnoreer kan word nie. Om vroue op die kansel toe te laat, is nie ’n besluit wat sommer lukraak op die ingewing van die oomblik geneem is nie. Deeglike studie van die Bybel deur bekwame gelowige teoloë het die sinodes gehelp om so te besluit.
Vroue is vir die eerste keer in 1982 in die NG Kerk as diakens toegelaat. Die amp van ouderling en leraar was vroue egter nog nie beskore nie. Agt jaar later, in 1990 het die Algemene Sinode erken en besluit dat die ampte gelyk is. As vroue goed genoeg was om diakens te wees, was hulle goed genoeg om ouderlinge en leraars te wees. Dit het nog vier jaar geduur voordat Gretha Heymans in 1994 as eerste vroulike leraar in die Vrystaatse gemeente Kovsiekampus georden en bevestig is.
Twee en dertig jaar later beleef die kerk eerstehands wat prof Christina Landman profeties reeds in 2002 geskryf het, naamlik dat vrouepredikante van die NG Kerk ’n nuwe stem en ’n unieke styl die kerk binnebring waarby “die liggaam van Christus luisterryk en kleurryk baat”.
Die onheiligheid wat prof EPJ Kleynhans in sy intreerede sien kom het as vroue moontlik predikante sou word, het helaas toe nie gebeur nie. Om saam met vroulike kollegas in gemeentes, ringe en sinodes te werk, was nog altyd net ’n voorreg. Die feit dat vroue ’n groot rol in die leierskap van die NG Kerk speel getuig verder van bekwaamheid en fyn aanvoeling. In die akademiese wêreld is die werk wat hulle as dosente en navorsers doen voortreflik.
Miskien wys die besluite van die verlede en die rol wat vroue in die NG Kerk speel daarom nie op ’n hart van klip nie, maar juis op die sagte hart van die kerk wat warm klop vir alle lidmate, meer spesifiek vir vroue wat ’n roeping van die Here van die kerk ontvang het om die evangelie te verkondig. Miskien moet ons saam dankie sê dat die NG Kerk kon wegbeweeg van ’n kerk wat vrouelidmate reduseer tot koeksister- en pannekoektannies, saam dankie sê vir die geskenk van vrouepredikante.
Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.
