“Waarom doen jy dit?” vra ’n besoeker. Sy was ’n welaf vrou, onthou ek, uit die Ooste van Pretoria.
En ’n mens kan haar vraag verstaan. Dit was waarskynlik moeilik om te glo dat iemand doelbewus sal kies om dié tipe lewe te leef. Sané het in ’n huis saam met tienermeisies in nood gewoon. Nagte sonder slaap, min privaatheid, baie konflik …
“Ek doen dit nie om geseën te word nie,” het sy gesê. “Ek doen dit omdat ek so geseënd is! Ek het wonderlike grootwordjare gehad en die Here is nog altyd goed vir my.”
Dit is nou jare later, maar Sané Leach se lewe is steeds allesbehalwe vervelig.
Dis asof sy moeilikheid aspris opsoek om juis op donker plekke ’n lig te wees, merk een van haar vriendinne op. En om alles te kroon is sy getroud met ’n dominee!
Hulle het lank in Indië gewoon; onder andere ’n bediening gehad onder mishandelde vroue en ’n kerk geplant in Kalkutta. “In Indië het ons ’n kerk begin bloot deur heeltyd mense te nooi vir ete. Ek het liters en liters kerrie gemaak!” sê sy. “Mense is eensaam, en die kerk kan ’n wonderlike gemeenskap wees waar almal welkom voel en deel word van ’n familie.”

Vandag woon hulle in Rustenburg. Haar man EJ is predikant by NG Proteapark, en Sané ’n maatskaplike werker. Hulle huishouding klink “heel normaal”, maar net tot jy van nader kyk.
“Dis ek, EJ, die agtmaandeoue Edward en vierjarige Tara, wat in Indië gebore is. Haar naam beteken ‘ster’ in Hindi, en ons bid dat sy soos die ster die wyse manne gelei het, ook mense na Jesus toe sal lei. Tans is daar ook twee babatjies by ons in plek van veiligheid, die een vier maande oud, en die ander een net oor ’n jaar. Dit is nogals ’n skouspel rondom badtyd in die aande!”
Deur die dag werk Sané as maatskaplike werker by Charitas Social Care; die NG Kerk se statutêre maatskaplike organisasie in Rustenburg. Sy het ook onlangs Kind Culture begin, wat die res van haar tyd in beslag neem.
“Ons het baie planne vir Kind Culture, allerhande projekte wat ons gaan aanpak, maar vir nou leer ons om lief te wees vir die een voor ons,” sê sy. Hulle bied reeds musiekterapie, gesins- en huweliksberading en andere terapeutiese dienste aan van die mees weerlose mense in die gemeenskap.
LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Sanré Benadé, die dominee wat groot dinge met min regkry
Ek vra oor haar tipiese dag.
“Nie een dag lyk dieselfde nie, en ek hou daarvan,” sê sy.
Ek vra waar alles begin het. Wat was die groot draaipunte in haar lewe wat tot hier gelei het?
Sy vertel van haar kinderjare: “In graad 3 was ek saam met my ouers op ’n uitreik iewers in ’n informele woonbuurt en ’n meisie het vir my kom vra of ek saam met haar kan bid, in Engels. Ek het so ’n gebroke gebedjie uit my hart gebid maar ek het daar besef ek wil graag God se liefde kan deel met almal. Ek het daardie aand vir my pa gevra of hy vir my ’n Engelse gebedeboekie kan koop, en die volgende week toe ek van die skool af kom toe lê daar ’n Engelse boek met “prayers for children” op my bed. Ek onthou ook een aand toe ek nog in die laerskool was, het ek ’n boekie iewers gekry met die naam “Samie se hande”. Dit het gegaan oor ’n seuntjie in ’n kinderhuis met ’n stompiearmpie wat gedink het God hoor hom nie, want hy kan nie sy hande saamvou om te bid nie. Ek kan onthou hoe ek snot en trane in die bed gelê en huil het daardie aand. Ek dink dit was dalk die eerste keer wat God my hart so ’n bietjie gebreek het vir dinge wat sy hart breek.”

Daar was ook groot draaipunte in haar studentejare en in die tyd daarna.
“Ek onthou ’n spesifieke aand toe ek as student in ’n huis vir meisies in nood gebly het. Middernag het ek en ’n vriend in die middestad se strate gery het op soek na ’n 16-jarige meisietjie wat op heroïen was met wie ons ’n pad gestap het. Ek dink aan daai keer in Matlala-hospitaal toe ons almal in stilte gestaan en huil het oor die klein gebrande babatjie vir wie niemand kom kuier het nie. Of ek dink aan die vreugde op die gesigte van kindertjies in die slums van Indië oor die eenvoudige oorwinning in die maak van ’n vlieër uit ’n broodsakkie wat die hoogte in skiet.”
Destyds in Indië het hulle dikwels Sister of Mercy besoek waar Moeder Teresa gebly het.
“Daar is ’n eenvoudige museumpie, dit lyk asof iemand hom sommer so aanmekaar ge-plakboek het. Maar elke liewe keer as ek daar deurgeloop het, het ek in trane uitgeloop en besef ons kan en moet beter kinders van die Here wees,” sê sy.
Sy vertel van haar ouers se groot invloed op haar lewe. Haar pa, Chris Lötter, is dominee op Rayton en haar ma, Sandra, ’n engel met die mooiste omgeehart. “Compassion is contagious,” het Moeder Teresa gesê. En duidelik oorerflik!
Behalwe vir al die ander goed waarmee Sané besig is, is sy ook ’n gekwalifiseerde musiekterapeut. Sy sing graag en skryf liedjies. Haar album Lullabies is op Spotify, Apple Music en YouTube.
Wat is daar wat min mense van haar weet? vra ek.
“Ek word so ’n bietjie lewendiger as ek in rowwe natuur soos sterk wind of wille branders is! Ek ervaar nog altyd God se grootheid so tasbaar in die rofste toestande,” lag sy. “Dit klink dalk na ’n cliché, maar ek dink God het iets in my hart geplant wat smag na donker plekke om juis daar ’n lig te wees. ’n Tipe dringendheid om liefde en lig te probeer leef in ’n wêreld waarin soveel donker en hartseer is.”
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeugbediening en die NG Gemeente Villieria.
