Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Diens op afgeleë plekke: Die energieke pioniersgees van ‘Suster Kockie’ behendig beskryf in boek oor haar lewe

Sister Kockie: A full life in service deur Annalette Perold

Uitgewer: CLF, 2025

Resensent: Elna Mouton

 

Of ’n mens die nimlike Suster Kockie persoonlik geken het óf deur hierdie boek ontmoet, haar energieke pioniersgees en kinderlike vertroue is ewe oorweldigend. Haar pad loop na afgeleë plekke in die Oos-Kaap en destydse SWA, toe telefone en antibiotika nog nie beskikbaar was nie …

Rene de Kock (1923-2021), gebore op Caledon, was vroeg reeds oortuig dat God haar vir kruiskulturele dienswerk afsonder. Te midde van die Tweede Wêreldoorlog doen sy haar verpleegopleiding by Groote Schuur- en Boksburg-Benoni-hospitaal, gevolg deur ’n kursus vir sendelinge op Wellington.

In 1947 vertrek Kockie per trein na Umtata. Haar bagasie: ’n fiets en naaimasjien. Sy oriënteer by Isilimela-hospitaal en word as enigste verpleegster na Rietvlei-kliniek gestuur. Sy vertel boeiend van haar sewe pioniersjare hier, veral om mense se vertroue te wen en soms te perd na nood-kraamgevalle te ry.

Ná ’n onderbreking keer Kockie in 1960 terug as eerste matrone van die nuwe TB-hospitaal op Cala. Sy bring ses gelukkige jare hier deur, en vind groot bevrediging in die opleiding van verpleegsters en vestiging van ’n mobiele kliniekdiens.

Hierna word sy na Sterkspruit-hospitaal naby Lesotho oorgeplaas. Sy beskryf die twaalf jaar wat sy hier werk as die mees uitdagende tyd van haar 26 jaar in die Oos-Kaap.

Dan volg ’n ingrypende wending as Kockie op 55 geroep word om die nuwe hospitaal op Opuwo te vestig – digby Angola waar ’n oorlog woed, tussen mense van ánder kulture, in die warm, droë klimaat van Kaokoland! Soos in 1947, vertrek sy weer per trein na ’n onbekende land – dié keer met ’n huisorrel en VW-Beetle. Sy sou vir sewe jaar hier werk, met vele noue ontkomings.

Die vrolike, veelsydige Kockie was lief om mense te laat sing, briewe te skryf, en aan kinders Bybelstories te vertel. Opregte dank aan Annalette Perold wat haar verhaal opgeteken en Danielle James wat dit vertaal het. Die uitgewer huldig Kockie se gebruik om altyd CLF-literatuur in haar handsak gereed te hou …

Solank dié merkwaardige vrou onthou word, leef sy as inspirasie voort!

 

Beskikbaar by CLF.

 

Prof Elna Mouton is voormalige dekaan van die Fakulteit Teologie by die Universiteit Stellenbosch. Haar loopbaan begin in 1975 as kerklik-maatskaplike werker in die destydse Transkei.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top