God gevind: Nagedink oor geloof in ’n taai tyd deur Frits Gaum
Resensent: André Bartlett
Die nuutste boek van Frits Gaum, God gevind: Nagedink oor geloof in ’n taai tyd, wat eers ná sy dood gepubliseer is, is uit ’n persoonlike krisis gebore.
Vir ’n tweede keer in sy lewe is hy met kanker gediagnoseer, dié keer sonder dat daar eintlik veel daaraan gedoen kon word. Die dag nadat hy die diagnose ontvang het, het hy begin om hierdie boek te skrywe.
LEES OOK: ‘Ons sal mekaar waarskynlik nie oortuig nie, máár …’ – Frits Gaum
Soos in talle van die boeke wat gedurende sy loopbaan as predikant, later direkteur van Bybelkor (tans Bybel-Media) en nog later redakteur van Kerkbode en LiG, die lig gesien het, hou hy hom weer besig met die vraag: Wát glo ek?
Opvallend is die wyse waarop die titel bewustelik aansluit by dié van ’n vorige boek van Gaum, God op soek? Oor geloof in ’n taai tyd. Die “taai tyd” van die vorige boek was meer algemeen ’n verwysing na die moeilike tye waarin ons leef , terwyl die verwysing nou in die nuutste boek spesifiek betrekking het op die persoonlike konfrontasie met siekte en die naderende dood. Die vraag van die vorige boek se titel word nou verander na ’n stelling wat troosvolle sekerheid verwoord: Die God wat dikwels vir mense op soek raak, is gevind.
LEES OOK: In memoriam | Frits Gaum – gewaardeerde vegter-teoloog sterf – Gerdrie van der Merwe
Soos in van sy vorige boeke, is Gaum se ingesteldheid op gesprekvoering duidelik in die opset van sy boek: agt gesprekke met prominente openbare en kerklike figure (onder andere met Willie Jonker oor sy destydse verklaring oor die kerk en apartheid by die Rustenburg-beraad) word in die boek opgeneem, asook vier ope briewe wat hy voorheen geskryf en gepubliseer het.
Die voorwoord deur sy seun Laurie, asook waarderende bydraes oor sy nalatenskap as kerkman, kerklike mediaman en familieman, en ten slotte ’n nawoord deur kollega en vriend Chris Jones, dra daartoe by om ’n meer volledige blik op hierdie merkwaardige persoon se lewe te kry.
Beskikbaar by CLF.
Dr André Bartlett is predikant by die NG Kerk Riebeek-Wes.
