25 April 1940 – 1 Oktober 2024
Met die dood op 1 Oktober 2024 van dr Frits Gaum (84) weens kanker in die Netcare-hospitaal in Kuilsrivier, verloor die NG Kerk een van sy bekendste en by tye omstrede predikante. Hy was nie net teoloog nie, maar ’n prominente kerkleier wat as uitvoerende hoof van Bybelkor, redakteur van Kerkbode en as skriba van die Algemene Sinode en moderator van die Sinode van Wes- en Suid Kaapland, deeglik sy teologiese stempel dekades lank afdruk het. Hy het nooit kop gegee in ’n debat nie en volhard in ’n saak waarin hy rotsvas geglo het. Maar hy was ook groot genoeg om van standpunt te verander, as hy anders oortuig sou word en dit was selde. Tot kort voor sy dood het hy as skrywer in die openbare pers sy stem oor ’n wye verskeidenheid sake laat hoor, ook met blitsvinnige e-posse landswyd. Hy het die keuse uitgeoefen om nie op te roes nie, maar opgebruik te word.
Luister ook Kerkbode se laaste onderhoud met dr Frits Gaum:
Dr Frits het nooit sy lus vir die lewe verloor nie, ook nie toe kanker se tentakels hom gewurg het nie. Gaum was ’n vegter en absoluut toegewyd aan sake waarin hy geglo het. Hy was nie net ’n kerklike denker nie, maar ook ’n doener wat moedig sy kritiese stem laat hoor het op die soms harde kerklike speelveld. Sy liefdeskritiek vir die NG Kerk was eg en sy roeping kristalhelder.
Frederick Malherbe Gaum is op 25 April 1940 gebore in Germiston. Sy ouers was Andrew Hurtley Gaum en Magdalena Leonora Malherbe. Die jong Frits matrikuleer in 1957 in Germiston en is hoofseun van sy skool. Frits voel geroepe om predikant te word en behaal in 1960 die BA-graad aan die Universiteit van Pretoria en in 1961 ’n Honneursgraad cum laude. Hierna vertrek hy na die Teologiese Seminarium op Stellenbosch, waar hy en Piet Meiring ’n interfakulteitsblad begin wat die Teologiese Fakulteite op Stellenbosch en Pretoria ’n stem gee. In 1964 is hy redakteur van Polumnia, jaarblad van die kweekskool en in 1965 redakteur van Die Matie, studentekoerant van die Universiteit Stellenbosch. Hy bly studeer en behaal saam met sy teologiese opleiding ook die MA-graad in Afrikaanse Letterkunde met prof Dirk Opperman as studieleier. Hier word Frits aan die einde van 1965 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer. Een van sy klasmaats is die latere prof Pieter Potgieter, in 1990 moderator van die Algemene Sinode, met dr Frits wat as skriba sy deel bring in die moderatuur.
Prop FM Gaum word op 30 Januarie 1966 leraar in die NG Gemeente Kuruman en trap nie net diep spore in die sand van die Kalahari nie, maar in die harte van lidmate. Hy trou op 3 Junie 1966 met Henda Botha, dogter uit die pastorie van dr Laurie Botha. Op 15 Maart 1969 verwerf ds Frits Gaum die DLitt-graad (Departement Afrikaans), aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, met prof Gerhard Beukes as promotor. Kort daarna vertrek die leraarspaar na die NG Gemeente Wynberg, waar hy op 9 Augustus 1969 bevestig word.
Aan die begin van 1971 is dr FM Gaum ’n gerekende en bekwame jong teoloog, wat met die hand uitgesoek word om Bybelkor te vestig. Hy word direkteur van die NG Kerk se eie Bybelkorrespondensie- en skolingskursus op Wellington. Dit is sy breinkind en ’n eerste in Afrikaans, wat die NG Kerk se gewone lidmate bemagtig in die hantering van die Bybel. Hier aan die voet van Groenberg, gaan dr Frits en Henda deur donker dieptes in 1975, toe ernstige kanker by die 35-jarige leraar gediagnoseer word. Menslik gesproke was sy lewe verby, maar hy beleef na gebed Goddelike genesing, net soos die bekende dr Andrew Murray in Wellington destyds. Dr Frits skryf hieroor ’n boek, Nie van hoorsê nie, Here, waar hy in duidelike taal sy belewenis en die geestelike krag beskryf toe die Here God hom ’n tweede kans gegee het. Die gevreesde kanker het na veertig jaar weer teruggekeer, wat sy dood op ’n geseënde ouderdom veroorsaak het.
In 1984 verwerf dr Frits Gaum die Meestersgraad in Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, met die bekende prof PJ (Piet) Cillié as promotor. Op 1 Augustus 1986 word hy redakteur van Die Kerkbode en van 1989 af die hoofredakteur van die NG Kerk se tydskrifte, die Kerkbode, Voorligter en die Jaarboek van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. In sy dienstyd bereik die Tydskriftemaatskappy van die NG Kerk besondere hoogtes, ook die stigting van Christen-Netwerk Media in 1993 waarvan hy as uitvoerende voorsitter gedien het. Die netwerk het Christelike programme oor die radio en televisie uitgesaai. Geskiedenis word gemaak toe ’n uitgawe van die Algemene Kerkbode, as bylae in die Afrikaanse dagblaaie gepubliseer word. Op dié wyse kom die kerkblad in nagenoeg ál die Afrikaanse huise in Suid-Afrika. In sy dienstyd by die Tydskriftemaatskappy, was hy gekoppel as leraar van die Groote Kerk in Kaapstad, die gemeente waar die eerste Kerkbode-redakteur, ds Abraham Faure in 1849, ook die gemeenteleraar was in die Moederstad.
Dr Frits Gaum was van 1990 tot 1998 skriba van die Algemene Sinode van die NG Kerk, en in 1995 moderator van die Wes-Kaapse Sinode. Hy was ’n moedige en kritiese stem in die oorgangsjare van ons land se demokratiese bestel, toe die kerk se profetiese stem gehoor moes word. Hy is die opsteller van die NG Kerk se “Getuienis en Belydenis” oor apartheid, ’n eerlike, verantwoordelike en gebalanseerde weergawe van die verloop van sake. Hierdie stuk het later ook op die tafel van die Waarheid-en-Versoeningskommissie beland. Nadat dr Frits in 2003 aftree vestig die gesin hulle op Glentana in die Suidkaap, wonderlike jare met ’n groot vriendekring. Hulle verhuis in die onlangse jare na Durbanville in Kaapstad.
Hy was tot met sy dood die hoofredakteur van die Christelike Kernensiklopedie en het die Pieter van Drimmelenmedalje daarvoor ontvang. Onder sy leiding word die Andrew Murrayprys in 1978 ingestel, waar hy 45 jaar lank as voorsitter leiding neem. In sy tyd word dit later die Andrew Murray-Desmond Tutu-prysfonds, waar pryse gegee word vir Christelike teologiese werke in al die amptelike tale van Suid-Afrika. Die hoogtepunt in sy skryfwerk is die toekenning van die Andrew Murrayprys vir sy boek: Fluit-fluit, die kerk is uit?
Dr Frits Gaum se aftrede in 2003 was eintlik ’n aantrede, want hy sou byna nog twee dekades lank ’n faktor bly in die NG Kerk. Hy het sy stem laat hoor, waarmee deeglik rekening gehou moes word as meningsvormer op voetsoolvlak.
Die besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudinge het die hele Gaum-gesin diep geraak en hulle lewe omgekeer. Hulle seun, ds Laurie Gaum, se lewensreis as gay leraar was op die spel en hulle het as ouers bankvas agter hom gestaan. Die selfdegeslagverhoudinge is ’n onderwerp wat die NG Kerk toe reeds en steeds polariseer, wat destyds momentum kry met die besluite van die buitengewone sinode van 2016. Die spreekwoordelike kat is in die kerklike duiwehok losgelaat.
Dr Frits Gaum en sy medestryders reageer heftig en dit loop uit op ’n opspraakwekkende hofsaak toe elf gelegitimeerdes in 2019 die NG Kerk hof toe neem. Dit hou verband met kerkreg en hoe die Bybel gelees en verstaan word, ook die regte van gay-mense binne die NG Kerk. Hulle wen die hofsaak, wat vereis dat predikante selibaat moet bly, wat met die hofsaak tersyde gestel word.
Maar dit bring emosionele letsels en bagasie vir die gesin, want dr Frits, Henda Gaum en ds Laurie word diep en intens geraak op vele vlakke. Ek was binne hoorafstand en het dinge met hulle meegeleef, veral op ’n pastorale wyse en gebedsondersteuning. Dit was ’n intense belewing, want na ’n hartsvriendskap van meer as veertig jaar, het ons mekaar se binneboeke geken en verstaan. Die feit dat ons van standpunte verskil, het ons nie uitmekaar gedryf nie, maar respek en agting vir mekaar met oorheersende Christelike liefde, het ons vriendskap net verinnig en versterk. Met my onlangse vierdubbele hartvatomleiding het die brood op die water na my teruggekeer, toe Frits my per selfoon ondersteun het met ’n kragtige en opregte gebed.
Met sy kanker het dr Frits Gaum moedig die stryd gestry, die geloof behou en nog voluit probeer leef, met sy oog gevestig op die lewende Here Jesus. Dit het moed en krag gegee tot sy laaste asemteug. Ons bid vir sy vrou Henda en sy kinders Andre, Laurie en Lina. Mag die troos van die Here hulle beskutting wees.
Wat dink, beleef en vra die Gaum-gesin? Dit is hulle hartsbegeerte dat hulle geliefde Frits se soeke na vrede, geregtigheid en die omhelsing van eenheid in diversiteit, sy grootste nalatenskap aan ons almal sal wees. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM
- Dr Gerdrie van der Merwe se pad met ‘In Memoriam’-sketse vir Kerkbode het in 1973 as student begin.
- Berig is aangepas na publikasie.