Frits Gaum gesels met Kerkbode oor die hof, die kerk en kanker.
Deur ’n veiligheidshek, verby ’n rolbalbaan en in by die smal sitkamergedeelte van die kommunale eetsaal by ’n aftree-oord in die noordelike voorstede van Kaapstad. Daar tref ’n mens hom aan. Donsveerbaadjie, sweetpakbroek. Afgetrede dominee, die 17de redakteur van ’n 175-jarige kerkkoerant, en die prominentste lid van ’n groep lidmate wat die NG Kerk in 2017 hof toe gevat het. Hy sit met sy rug na die muur. Oë stip op die deur waar hy sy onderhoudvoerder verwag. Op 84 is Frits Gaum nog oorgehaal. “Apartheid het meegebring dat die (NG Kerk) baie stommer raak. Hy doen dalk meer wat ’n kerk behoort te doen as in die verlede, maar die kerk is nie so erg betrokke by die politiek as wat dit ’n tyd lank die geval was nie,” sê Gaum. En dit pla hom. “Die feit is, die kerk het besluit om liewer sáám met ander kerke te praat en nie ’n eie stem te laat hoor nie.” Hy voeg by dat ds Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode, se onlangse bydraes op RSG se aktualiteitsprogramme bemoedigend is.
Die onderhoud met Gaum voel skielik soos ’n 800 m-wedloop wat teen die tempo van ’n 400 m gehardloop word. Dit is 21 minute sedert my aankoms by die aftree-oord en drie goed figureer reeds sterk met ’n vierde wat wag:
- Bogenoemde punt oor die NG Kerk se post-apartheid-stilte.
- ’n Mededeling oor slegte mediese nuus. “Op die oomblik is my gesondheid nie so goed nie en en my vrou het verlede week geval,” vertel Gaum. “Sy was in die hospitaal. So ons gaan deur ’n moeilike tyd om verskillende redes.”
- Dan is daar ’n bestelling van twee koppies tee waarna daar herhaaldelik verwys word maar wat eenvoudig nie uit die lawaaierige kombuis manifesteer nie.
Die vierde punt is die hofsaak wat Gaum en 11 ander in 2019 teen die NG Kerk gewen het. Die dispuut was oor besluite by die buitengewone sinode van 2016. Dit hou verband met kerkreg, met hoe die Bybel gelees en verstaan word, met die regte van gay mense binne die NG Kerk … En dit is tot vandag ’n onderwerp wat die NG Kerk polariseer. Gaum bied ’n oorsig: “Kyk, ons is baie kwalik geneem dat ons na die hof gegaan het. Dit was ’n uiters ongewilde ding … en niemand wou dit graag doen nie … Wat ek nooit kon begryp nie, is dat mense nie die verband kan sien tussen die kerk se optrede teenoor gay mense en Apartheid nie. Dit gaan oor onreg, meen hy. “Op die ou end was daar nie ’n keuse (anders as regsaksie) eintlik nie.
“Die kerk het draaie gegooi en draaie gegooi. En toe het ons hof toe gegaan met die hele besigheid en uiteindelik die saak gewen. Wat goed is en ek dink dit het die kerk twee keer laat dink oor die hele besigheid. En nou is daar besluite geneem oor die gay-kwessie wat beter is, maar ook nog nie heeltemal wys dat die kerk positief praat (oor homoseksualiteit) en sê dit is normaal, dis ’n manier van lewe, en as jy nou mooi kyk na die Bybel en wat die Bybel alles wel sê oor verskillende verhoudings is dit beslis ook in lyn met dit wat die Bybel uiteindelik sê: jy moet jou naaste liefhê soos jouself, om dit nou maar so te stel.”
Terugblik en refleksie
Indien ’n mens ’n volstrekte Sinatra-agtige I did it my way-roetine in ’n gesprek met Gaum verwag het, sal hy jou verras met ’n eerlikheid oor beide prestasies en tekortkominge. As jong dominee op Kuruman was hy té seker … dit weet hy nou, sê Gaum. Hy herroep dadelik sy koerantdae by Kerkbode as ’n mens hom vra na arbeidsgenot: ’n Onderhoud met ’n intens teenwoordige Desmond Tutu, en ’n wonderlike gesprek met Cecile Cilliers … PW was moeilik en Mandela se dagboek het bitter min tyd toegelaat, onthou Gaum oor sy ander groot “onherhaalbare” gesprekke met mense wat nou al saliger is.
Nou, aan die ánder kant van die stem-opnemer, laat Gaum die gesprek toe om wyd te draai, ook by vrees, geloof, twyfel. En by die kanker wat onlangs by hom gediagnoseer is. “Ek het slegte nuus gekry, ek het nou kanker. En dit lyk my nie daar is veel aan te doen nie. Ek het nie so baie tyd nie, lyk dit vir my.”
Oor invloed
Gaum het in 1986 as redakteur by Die Kerkbode (deesdae net Kerkbode genoem) ingeval. Hy het gehou van sy voorganger (“hy was ’n liewe oom, maar nie ’n redakteur nie”), maar was diep onder die indruk van die vele maniere waarop Die Kerkbode sou moes verbeter. Kleur, uitleg en opinie. En die grootste hiervan was opinie. Oor sake van die dag. “Wat sê die kerk oor …” klink vir ten minste hierdie leser op as ’n soort refrein in die koerant se blaaie gedurende Gaum se termyn as redakteur, wat in 2005 afsluit. “Dit was vir my belangrik, Kerkbode sê sus of só,” bevestig Gaum. En daar was inderdaad “hot takes” op als van Sondagsport, Apartheid, WVK, porno, perdewedrenne, evolusie en orrelmusiek. Later in sy lewe sou Gaum daardie kernoortuiging ten opsigte van debat en polemiek so verwoord: Kerkleiers moenie alle lewensterreine verkerklik nie, maar wel verkoninkryk.
Nou voeg hy by oor die koerantwese: “Jy moenie jou invloed onderskat nie, maar ook nie oorskat nie.” Hy haal die prominente oud-redakteur van Die Burger, wyle Piet Cillié, aan, wat ’n storie vertel het van die redakteur van ’n blaadjie iewers in die Weste van Amerika wat (tydens die Tweede Wêreldoorlog) verwoed in die nuuskantoor gesit en tik het totdat iemand hom vra waaraan hy dan so woes werk: “Ek gee vir Hitler hel,” was die skrywer se antwoord! Gaum lag. “Jy moet weet jy het ’n bydrae om te lewer, maar jy moet ook beskeie wees.”
Baie vermag, maar te veel probeer doen
Frederik Malherbe Gaum is in 1940 in Germiston gebore en studeer eers aan die Universiteit van Pretoria voor hy sy teologiese studie aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Later, tydens ’n MA in Joernalistiek, onder bogenoemde Cillié, spits Gaum hom toe op wat spesifiek kerkjoernalistiek moet wees – en gaan bestudeer die wyse waarop kerkkoerante in die VSA en die Engeland dit benader. Veral die kwessie van joernalistieke onafhanklikheid het hom geïnteresseer. En vrae soos: Is dit “die kerk se stem” of “’n stem in die kerk” het ’n dringendheid gehad wat dekades later ietwat vreemd op die oor val in die kleiner en polities minder magtige NG Kerk.
Gaum was Bybelkor (vandag Bybel-Media) se eerste uitvoerende direkteur. Die groot besigheid van kursusboeke versprei, van tydskrifte (Die Voorligter, wat later omskep word in die tydskrif LiG), en van die NG Kerk se Jaarboek. En dan Die Kerkbode wat onder sy leiding op ’n kol as invoegsel binne Media24 se koerante (Beeld, Volksblad, Die Burger) verskyn en op daardie manier ’n pieksirkulasie bereik.
Hieronder is ’n paar blaaie uit die Kerkbode-argief van 1990, toe Gaum redakteur was.
Maar Gaum was nie ’n buitestander soos joernaliste soms is nie. Hy was ook “ingebed in die sinodale strukture van die NG Kerk,” skryf die teoloog prof Johan Buitendag in die kort voorwoord tot Gaum se boek Kerk oor die muur of oor die rubicon? (Naledi, 2020). Gaum dien as skriba en moderator van die Wes-Kaapse sinode van die NG Kerk en van 1990 tot 1998 as skriba van die Algemene Sinode, lees ’n mens in die elektroniese Christelike kernensiklopedie (eCKE), waarvan Gaum nog in sy agtste dekade die redakteur is. Het daardie baie werk (op een kol het hy drie verskillende kantore gehad en die land vol gevlieg, hoor ’n mens) ’n skadu oor sy persoonlike lewe gegooi? “Ons het te veel goed probeer doen,” sê Gaum nadenkend. “Televisie en radio … Ek het te groot gedink vir die kerk. Ons wou gehad het die kerk moet op die mediaterrein ’n rol speel.” En sy gesinslewe? “Ek voel soms dat ek my gesin … nie genoegsaam pa vir hulle was nie. Hoewel ek en Laurie (sy een seun) ’n boek geskryf het waarin hy sê dit is nie so nie.”
Die hofsaak teen die kerk het beide Gaum se insider én outsider-status geproblematiseer en sy eie “storie” met die NG Kerk is steeds aan ’t ontwikkel. “Die hofuitspraak het regsekerheid gegee oor hoe appèlle in die kerk hanteer moet word, dat nuwe besluite nie geneem kan word sonder om voriges oor dieselfde saak in soveel woorde te vervang of te wysig nie, en dat onbillike diskriminasie teenoor haar lidmate vir die kerk taboe is,” skryf Gaum op bl 229 van Kerk oor die muur of oor die rubicon?
Wat van diegene binne die kerk wat nie sy Skrifverstaan oor die gay-saak deel nie, wil ’n mens by hom weet. “Ek dink ’n mens moet aanvaar, in die kerk sal daar meningsverskil wees. En nie mekaar beskuldig van goed, soos dat jy die Bybel minag nie … Ek dink ’n mens moet probeer eerlik, respekvol en geduldig met mekaar wees. Maar ons sal mekaar waarskynlik nie oortuig nie. Daar is nou nog ouens wat dink apartheid was okei, soos dit toegepas is. In die kerk ook. Hulle is onoortuigbaar.”
84 is ’n goeie ouderdom
Die twee koppies tee wat ons bestel het, arriveer so 60 minute laat vanuit die bedrywige eetsaalkombuis en een spanningslyn is daarmee heen. Wanneer die gesprek effens eb vra ek uit na iets wat opval binne ’n ander voormalige Kerkbode-redakteur se memoir oor dié se 16 jaar as redakteur van Die Kerkbode. Die skrywer wy een bladsy en twee paragrawe aan die onderwerp: Blapse en humoristiese insidente … Kan dit wees, wil ek weet, dat anderhalf-dekade so ’n humorvrye sone kon wees? ’n Moedige poging volg waarin Gaum verduidelik oor strokiesprente wat hy ten minste probeer inbring het, en tonge wat wel in kieste was … “Ek het probeer dat dit nie net dodelike ernstige sake was nie …” Hy dwaal af en ons drink saam tee.
Die storie van die dag is ten slotte Gaum se gesondheid. Hy praat woord-ekonomies daaroor. “Toe ek ’n jong ou was, toe ek 35 was het ek kanker gekry … en gelukkig ontslae geraak daarvan, het ek gereken, maar mettertyd het dit begin lol en nou regtig ernstiger afmetings aangeneem,” vertel Gaum. Dan in ’n harder stem: “Ek sê baie keer, hoe oud wil ’n mens nou word! 84 is ’n goeie ouderdom. Ek het baie gedoen, baie foute gemaak, baie goed wat miskien ook nie foute was nie. Maar ek het baie om voor dankbaar te wees. En ’n mens kan nou ook nie vir ewig hierso lewe nie.”
Miskien was die apartheid en gay debatte nie al waaroor die kerk gegaan het nie.
Intyds is daar die armoede; werkloosheid; korrupsie en blatante mens mishandeling deur mense in magsposisies.
Sekerlik moet die kerk nie net praat nie maar doen?
Waar is die strategie; taktiese stappe; tyd lyn; verantwoordelikheid?
Vergeet van lang uitgerekte sinodes; ringe en kerk vergaderings en kry ‘n plan wat deur werk tot grand vlak; verantwoordelikheid toegeken; tyd en prestasie gemeet word en kerk aksies om te slaag