Waarom is nie altyd daarom nie – Job vir elkeen van ons deur Pieter van Jaarsveld
Uitgewer: CLF, 2025
Resensent: Petro Jonker
Onlangs is ’n kosbare vriend van my gediagnoseer met kanker. Tydens ’n hospitaalbesoek aan hom, het Abigail Rian Evans se vraag in my gedagtes opgekom: Is God still at the bedside? Hierdie vraag verwoord die eerlike soeke na die versekering dat God steeds teenwoordig is by ’n siekbed, in pyn en worsteling.
Lees ook: Boek | Treffende geloofslens op werkverwante pyn
In verband hiermee bied dr Pieter van Jaarsveld se boek ’n waardevolle bydrae. Met ’n pastoraal-teologiese perspektief neem hy die leser sistematies deur die boek Job: eers deur die agtergrond van die boek te verduidelik, daarna deur te fokus op Job se worsteling en die verskillende gesprekke tussen Job en sy vriende.
Van Jaarsveld help die leser om die denke van Job se vriende te verstaan, asook om die gevaar te sien van simplistiese oorsaak-en-gevolg-verklarings. Die werklikheid van menslike lyding is dikwels baie meer kompleks en alle worstelvrae word nie altyd beantwoord nie.
Job is nie ’n voorbeeld van ’n maklike geloof nie, maar van ’n eerlike geloof. Job kla, worstel en stry. Daar is onbeantwoorde vrae. Tog ontdek hy hoe getrou God in alles is. Daar kan gereken word op God se teenwoordigheid en medelydende nabyheid te midde van worsteling. Dit laat reg geskied aan die uitdrukking “Immanuel”, God met ons.
In God se almag staan God nie apaties teenoor die worstelvrae en lyding van mense nie. Troos ten tye van siekte en lyding lê nie in maklike verklarings en antwoorde nie, maar daarin dat God naby is, mee-ly. Op God se trou kan gereken word, al kan ons nie alles verklaar nie.
Om te sê dat God teenwoordig is in die oomblik van siekte en lyding, al kan dit nie logies verklaar word nie, is genoeg. Om te sê dat God se hande rondom die lydende gevou is, is genoeg. Van Jaarsveld se boek is waardevol vir elkeen wat worstel met siekte en swaarkry, en opnuut die versekering wil hê dat God teenwoordig is.
Beskikbaar by CLF.
Ds Petro Jonker is predikant by die NG Rietfontein-Suid in Pretoria.
