Die geloof wat ons dra deur Johannes Mouton
Uitgewer: Bybelkor, 2025
Resensent: Rethie van Niekerk
As ’n dominee is ’n mens altyd op soek na materiaal vir kleingroepe. Wat ek in Die geloof wat ons dra gevind het, was egter ’n besondere riglyn vir persoonlike stiltetyd, eerder as in die eerste plek ’n gids vir kleingroepe.
Johannes Mouton bied “36 ankers vir ’n lewe in Christus”. Hierdie ankers is oor ses weke versprei, elke week met ’n tema, naamlik God, Jesus Christus, die Heilige Gees, die koninkryk van God, die kerk, asook hoe ons ons geloof uitleef. Aan die einde van elke week is daar dan riglyne vir ’n groepsgesprek.
Wat hierdie boek besonders maak, is die manier waarop lesers ingelei word in die beoefening van geestelike dissiplines. Daar is daagliks Lectio Divina, ’n kort inset, gevolg deur ruimte vir die hou van ’n geestelike joernaal en gebed. Die bedoeling is nie net “om jou kennis te verbreed nie, maar veral om jou verhouding met God te verdiep en saam met medegelowiges as geloofsgemeenskap te groei”. As sulks is Die geloof wat ons dra eerder ’n werkboek as ’n leesboek.
Lees ook: Vind God in die gewone: Tom Smith se boek vir doeners wat uit genade, saam soek
Die daaglikse kort insette is kompak, maar elke sin is belangrik en kan oordink word. Die skrywer kies eerder vir toeligting as uitleg van die teks. Veral die bydraes oor die koninkryk van God was vir my treffend. Hoewel dit bemark word as “Vir nuwe gelowiges”, dink ek die taalgebruik en manier waarop die temas aangebied word, sal meer toeganglik wees vir mense wat al ’n ruk lank gelowiges is.
Hierdie is nie “Bybelstudie” soos wat baie mense gewoond is nie. Gevolglik is ook die groepgesprekke nie rondom ’n Skrifgedeelte nie, maar rondom die vorige week se tema – heel spesifiek groeplede se besigwees met die tema die voorafgaande dae.
Agterin is uitstekende kort riglyne vir die lei van ’n Bybelstudiegroep. Veral die riglyne oor Godsvrae en die bewegings van die Gees sal vir enige groepleier baie verrykend wees.
Beskikbaar by Bybelmedia.
Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.
