Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

As ons as dissipels van Christus funksioneer, sal ons weer die klanke hoor van Handelinge 5:13: “… die volk (het) hoë agting vir hulle gehad”.

Brief: Soms is oorlog die enigste manier om vrede te herstel

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Henrietta Klaasing van Randfontein skryf: Diverse skrywes rakende oorlog en vrede het betrekking. In The Daily Maverick van 15 April 2026 sê kardinaal Stephan Brislin dat daar verby die politiek ’n dieper vraag lê, een wat elke leier en elke burger in die gesig staar: “Hoe bereik ons vrede en die morele herstel (Brislin noem dit “moral reset”) wat ons wêreld so dringend nodig het?”

LEES OOK: Uit my Kerkdagboek | Jan Lubbe: Tussen verwondering en verskrikking met die volmaan van Pase 2026

Iran se tentakels bestaan uit ’n netwerk van uiters militante groepe wat deur Teheran bewapen en opgelei word om op die mees wreedaardige wyse alle nie-Moslems dood te maak – veral deur die Libanese Hezbollah, Jemen se Houthi’s, Hamas en Palestynse Islamitiese Jihad. Van hierdie terreurgroepe het lande regoor die wêreld binnegedring deur migrasie. Doelbewuste massamoorde word gepleeg op burgerlikes (dink aan die Jode op Bondistrand in Australië), insluitend families en kwesbare groepe, en gaan gepaard met gyselaarneming (7 Oktober 2023 in Israel), marteling, seksuele en ander geweld (veral teen vroue), verminking en ander wreedhede. Daar is nie net ’n stryd vir bevryding van Israel nie, maar ’n stryd om die oorlewing van die Westerse beskawing.

Selfs Luther het besef dat geweld soms die enigste manier is om die kwade uit te roei: Die Duitse “Peasants’ War” (1524-1525) was ’n wydverspreide opstand in Sentraal-Europa tydens Martin Luther se era, waar boere, mynwerkers en stedelinge teen die adel en geestelikes gerebelleer het. Hy het die prinse aangespoor om die rebelle te “slaan, verwurg en steek”, en hulle vergelyk met “mal honde”.

LEES OOK | Elders gesien | Gospelsanger en omroeper Johnny Davids oorlede

Josua hoofstukke 11 en 21 wys dat daar in Israel uiteindelik rus en vrede dwarsdeur die Heilige Land was deurdat hulle geveg en hulle vyande verslaan het soos God beveel en belowe het. In Psalm 144 dank Dawid God dat Hy sy hande vir oorlog en sy vingers vir stryd geoefen het. In net 44 verse in 1 Kronieke hoofstukke 18-20 word minstens ’n dosyn van Dawid se veldslae beskryf. Gideon het morele herstel gebring deur die uitroei van afgodery maar ook deur oorlog. Elia het ’n keerpunt in Israel veroorsaak deur 450 Baälpriesters dood te slaan. Ons sal baie blaaie van die Bybel moet uitskeur om van oorlog en geweld ontslae te raak!

In Matteus 10:34 sê Jesus Christus: “Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.” As Christene weet ons: oorlog is aaklig, wreed en hartverskeurend en dat Jesus, die Prins van Vrede, hoop en genesing bring, maar soms is oorlog die enigste manier vir vrede en morele herstel (Brislin se “moral reset”).

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top