Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Vanjaar was Pase ánders, in my dagboek opgeskryf tussen twee woorde: Verwondering en verskrikking, skryf Jan Lubbe.

Uit my Kerkdagboek | Jan Lubbe: Tussen verwondering en verskrikking met die volmaan van Pase 2026

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Vanjaar was die Pase ánders, baie anders.

Weer was dit só dat ons vroeg elke oggend van die Groot Lydensweek ’n stil gebedsgeleentheid in die kerk gehad het: ’n Taizélied; die lees van Psalm 118 oor die dag van die Here, die fees wat gaan begin, die palmtakke; dan ’n teks uit die onderrig van Jesus daardie laaste week by die tempel in Jerusalem; ’n kort meditasie daaroor en stilte vir gebed; weer ’n Taizélied en dan die “Kyrie eleison” – “Here, ontferm U oor ons.” En dan gaan almal uit, met ’n gedempte, vriend’like groet, werk toe. Buite, elke oggend, in die koel oggendlug (want dit word herfs en die jaar ryp), hang die maan skuins bokant die kerkdak. Waarop daar, terloops, Woensdagoggend vanjaar, elf duiwe gesit het. Die Evangelies vertel dat die Woensdag van daardie laaste week, Jesus en sy dissipels waarskynlik in Betanië gerus het, maar één nie daar nie; in sy gedagtes in elk geval nie; agteraf besig met ’n sameswering, hy en die priesterhoofde om Jesus uit te lewer (Lukas 22:1-6). Soos in ’n sinistêre WhatsAppgroepie.

LEES OOK | Kollig-podsending: ‘’n Christen se primêre uitgangspunt is, ons is vredemakers’ – Gesprek met Stephan Joubert

Maar terug na die maan, die volmaan. Want dít is eie aan Groot Lydensweek en die aftelling van Palmsondag na Donkerdonderdagaand, Vrydag van Verslaentheid, Stille Saterdag. Deur Groot Lydensweek loop ’n spanningslyn. ’n Week van haastigheid om als gereed te kry vir die Paasnaweek; destyds in Jerusalem al die pelgrims wat arriveer; die stad rumoerig en die Romeinse soldate geïrriteer. Onder die dissipels, ’n voorgevoel: Hierdie Pasga is ánders; Jesus se woorde op pad uit die noorde die afgelope maande, onheilspellend: “Die Seun van die Mens gaan oorgelewer word …” (Lukas 9:22, 44; 18:31). Vanouds het dit al met die maan te doen gehad: Die datum vir die Pasga is bereken vanaf Nuwemaan van die lentemaand Abib (Eksodus 12:1-2); veertien nagte later – volmaan. Die maan, die “mindere lig”, wat deur God in die hemelruim geplaas is om vaste tye mee af te merk, seisoene en jare (Genesis 1:14-18); om feestye aan te kondig (Psalm 104:19); blaas die ramshoring (Psalm 81:3)! Daar verskyn sy, sy mooiste, “mooi soos die volmaan”, sing die koor die Hooglied (6:10). “Luna”, het die Romeine hulle godin genoem. In die Kalahari waar ek grootgeword het met die verhale van Jan J van der Post oor Gaub en Agarob en die Sanmense se geloof oor ’n Skepper wat sy oog oopmaak – volmaan – om sy goedheid vir die mense te wys. “Prys die Here, wat die groot ligte gemaak het, die maan en sterre – vir ewig duur sy troue liefde” (Psalm 136:7-9).

LEES OOK: Brief | Oor Trump en die pous: ‘Niemand kan God se oorlog met mensgemaakte wapens veg nie’

Maar die maan kán ook onheil spel. Onder die profete was dít ’n skrikbeeld, apokalipites: Die maan wat “verleë” en donker en rooi sal word – só by Jesaja (24:23), by Joël (2:31), by Jesus (Lukas 21:25), by Johannes op die eiland Patmos (Openbaring 6:12). Onder mense van Judea en Galilea – landbouers en vissers – wat naby die grond en onder ’n oop hemelruim geleef het, wás daar die wete dat die maan nie net ons plant- en oesseisoen en die eb en vloed van die see bepaal nie, maar ook óns kan beïnvloed; dink maar aan die ou Bybelvertalers se woord in Matteus 17 vir die seun van die desperate pa wat hom na Jesus wend, “want hy was maansiek”. Of ander woorde en begrippe in vandag se tale: “manies”, “lunatic”. Daarom die diepe troos vir geteisterdes uit Psalm 121, vir ons álmal: “Bedags sal die son jou nie skaad, snags ook nie die maan; die Here is jou Beskermer.”

LEES OOK: ‘Die skryf van kerkliedere is vir my ’n gawe en ’n roeping’ – in gesprek met Flam- en Vonkk-stigterslid Jacques Louw

Op een videotjie wat die rondte gedoen het, hoor jy die Amerikaanse “Oh my God!”-uitroep toe ’n vrou deur hulle vliegtuigvenster, hoog bo die wolke, hoog bo die nasies, die vuurpyl met Artemis II die hemelruim in sien styg, hoër en hoër, Woensdag, 1 April 2026. Iemand het kommentaar op Instagram geskryf: “Cool view of a little piece of history.” ’n Maansending, ná soveel jare weer. Vir ’n wyle – tien dae oor die Paasnaweek heen – het ons ons verwonder aan dié beelde van hoe die maan aan die anderkant lyk, 384 000 kilometer van hier, en vandáár na die aarde gekyk, ons enigste, lieflike woning in die uitspansel. “Wanneer ek na u hemelruim kyk, die werk van u vingers, die maan en sterre wat U gevestig het, o Heer, wat is die mensekind dat U aan ons dink?”, beaam Psalm 8. Die verwondering van hierdie afgelope Pase: Dat God kórt ná die Midde-Oosterse volmaan oor Jerusalem daardie jaar, die graf laat oopgaan het; ons nie vergeet het nie. Ja, om vir ’n moment nog in Totius se beryming te verwyl: “Daar is geen land so ver of woes geleë, geen strand of wilde waterweë, geen hemelsfeer in die oneindigheid” – soos sê nou maar, selfs Persië, die land van die Ballingskap, of die Straat van Hormoes – “of orals blink u Naam en majesteit.” Van, “hoe, deur U toeberei, die skugter maan met stille gang oor sterrevelde gaan.”

Iewers egter, uit hierdie dae rondom die volmaan van Pase 2026, wás daar ook foto’s deur ’n vliegtuigvenster van missiele wat so deur ’n wolkedak breek, vreesaanjaend, rigting die staat Israel. Vanjaar was Pase ánders, in my dagboek opgeskryf tussen twee woorde: Verwondering en verskrikking. Tussen die Woensdag van Artemis II en die Sondag se Truth Social Lunacy. Ek wonder of goewerneur Pontius Pilatus vreeslik gevloek het daardie Sondag toe hy moes hoor sy beste soldate het aan die slaap geraak? Dalk inderhaas sy nuwe vriend Herodes (Lukas 23:12) geskakel en gevra wat aangaan? Want in die Sondagkoerant verkoop die Jode nou ’n narratief dat “daardie bedrieër se dissipels sy liggaam kom steel het!”

Hoe die propaganda ookal gelui het, uiteindelik was dit die evangelie wat gebly het. Nóg Pilatus, nóg ander heersers se verdraaiings of dreigemente kon dié goeie nuus gedra deur die vroue, bangerige dissipels, eenvoudiges en armes en andertaliges stilkry. Dié getuienis van die Vroeë Kerk téén die magtigste Ryk in: “Jesus is die Here!” En elke jaar, wanneer die volmaan opkom kort vóór Paasnaweek, kom buig ons daar in stil aanbidding, voor Jesus, die Lewende.


Ds Jan Lubbe is predikant by die NG Kerk Berg-en-Dal en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top