Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

jacques louw
Ds Jacques Louw (middel) het onlangs na meer as 25 jaar se betrokkenheid by kerkmusiek uitgetree. In 2019 het hy erelidmaatskap vir sy bydrae tot kerkmusiek van die Suider-Afrikaanse Kerkorreliste Vereniging (Sakov) ontvang. By hom is prof Theo van Wyk (Sakov-sekretaris) en prof Mario Nel, Sakov-voorsitter. Foto's: Verskaf

‘Die skryf van kerkliedere is vir my ’n gawe en ’n roeping’ – in gesprek met Flam- en Vonkk-stigterslid Jacques Louw

Die liedere wat ons in die kerk sing is meer as net wysies en woorde … “dit is ’n kosbare middel waardeur gelowiges gehelp word om God in gees en waarheid te kan aanbid.” So vertel ds Jacques Louw, ’n NG dominee met meer as 140 tekste en/of komposisies vir kerkliedere agter sy naam. Heléne Meissenheimer het gesels met dié pasafgetrede voorsitter van Vonkk, die werkgroep van die NG Kerk wat in 2008 begin is om kontemporêr klassieke liedere vir gebruik in eredienste te skep.

 

HM: Jacques, hoe het jou pad na kerklied-skryf begin, en wanneer het jy besef dit is deel van jou roeping?

JL: Sedert my kinderjare het ek ’n liefde vir kerkmusiek en vir die orrel gehad. Gedurende my laaste hoërskooljare het ek orrellesse geneem by die plaaslike musiekonderwyseres en orrelis op Montagu, Amanda Schwarzendahl. Sy het my geïnspireer en hierdie liefde verder aangewakker.

Ek is vir my teologiese studies na die Universiteit Stellenbosch. My skripsie, vir die behaling van my Lisensiaat in Teologie, was ook oor kerkmusiek met die tema: “Die gereformeerde kerklied in Suid-Afrika”.

Tydens my bediening was ek vir baie jare betrokke by sinodale en algemene sinodale eredienskommissies. Ek het die Vrystaat verteenwoordig by die samestelling van Die Liedboek van die Kerk. Dit is toe dat ek begin het om kerkliedere te skryf en besef het dat naas die bediening, die skep van kerkliedere vir my ’n gawe en ’n roeping is.

Omdat Vonkk veral ook fokus op die skep van meditatiewe liedere vir die mistieke spiritualiteitsgroep, het hulle ook vir samewerking na die Taizé-gemeenskap in Frankryk uitgereik. Ds Jacques Louw (middel), het in 2010 ’n Vonkk-lied, ’n beryming van Psalm 15:15, as geskenk aan broer Jean-Marie (regs) en broer Jean-Marc oorhandig.

HM: Wat is die verskil tussen Flam en Vonkk?

JL: Flam en Vonkk is werkgroepe wat deur die NG Kerk begin is om te voorsien in ’n behoefte wat by lidmate raakgesien is vir kerkliedere wat meer eietyds is. Na die bekendstelling van die Liedboek van die Kerk in 2001 het dit geblyk dat daar ook ’n behoefte was aan meer kontemporêre kerkliedere. Kontemporêr beteken “eietyds, hedendaags, aktueel”. Daar bestaan kontemporêre liedere in ’n meer informele/gospel styl wat verkieslik begelei word deur ’n gemeente-orkes of band), maar wel ook kontemporêr klassieke liedere (gewoonlik begelei deur meer klassieke instrumente soos die orrel en klavier). VONKK en Flam fokus juis op die ontwikkeling van hierdie twee style van kontemporêre liedere.

Die Flam-werkgroep het in 2004 tot stand gekom met my as voorsitter. Ons was getaak om eietydse inheemse liedere in ’n meer informele/gospel styl vir die kerk te skep.

In 2007 roep dr Braam Hanekom ’n kerkmusiek-dinkskrum saam op Wellington om holisties oor die ontwikkeling van kerkmusiek in die NG Kerk te gesels. Hierdie groep (later genoem: die ADGO Projekspan vir Musiek) het besluit daar moet ’n einde kom aan die “worship wars” tussen die aanhangers van die klassieke styl en dié van ’n meer informele styl. Ek en Hanekom het toe met die voorstel gekom vir ’n werkgroep wat verantwoordelik sal wees vir die voortgesette ontwikkeling van nuwe klassieke kerkmusiek (Vonkk). Huidiglik word daar ook wêreldwyd op die ontwikkeling van kerkmusiek in beide style gefokus. Die Algemene Sinode het vervolgens in 2007 vir VONKK die groen lig gegee. Ek was die eerste voorsitter van hierdie werkgroep wat in 2008 begin funksioneer het.

Beide Vonkk en Flam gaan steeds voort met hierdie werk.

Die NG Kerk en Hervormde Kerk werk al vir jare saam met die skep van kerkliedere. Hierdie samewerking is by Vonkk voortgesit. Hier is Vonkk-lede aan die werk, van links: Vonkk-musici aan die werk, van links: prof Daleen Kruger (NG Kerk), Cecilia van Tonder (Hervormde Kerk), dr Gerrit Jordaan (orrelis NG Kerk George) en Pieter van den Berg (orrelis NH Kerk Pretoria-Oos).

KB: Vertel meer oor van julle vennootskappe en ander hoogtepunte

JL: Die NG Kerk en Hervormde Kerk werk al vir jare saam met die skep van kerkliedere. Altwee kerke was medewerkers in die skep van Die Liedboek van die Kerk. Hierdie samewerking is by Vonkk voortgesit. Ons is opreg dankbaar vir hierdie wonderlike interkerklike samewerking.

Omdat Vonkk veral ook fokus op die skep van meditatiewe liedere vir die mistieke spiritualiteitsgroep, het ons ook vir samewerking na Ateliers et Presses de Taizé in Frankryk uitgereik. Hierdie ekumeniese gemeenskap het ’n sterk fokus op meditasie en gebed. Ons het baie van hulle liedere in Afrikaans vertaal. Vonkk het ’n spesifieke meditatiewe VONKK-lied geskep en aan Taizé opgedra as blyk van waardering vir ons kosbare onderlinge samewerking. Dit is VONKK 102, wat ’n beryming van Psalm 15:15 met ’n Afrikaanse, Engelse, Duitse, Franse en ’n Sotho-teks is. Ek het die voorreg gehad om in 2010 dié lied persoonlik aan die Taizé-broers in Frankryk te gaan oorhandig.

Daar bestaan ook ’n uitstekende samewerking tussen Vonkk en die Suider-Afrikaanse Kerkorreliste Vereniging (Sakov). Nie net het verskeie Sakov-musici in die Vonkk-werkgroep gedien nie, maar is Sakov ’n goeie vennoot van Vonkk wat baie help met die bemarking van die Vonkk-liedere. In 2019 het ek die toekenning van erelidmaatskap by Sakov ontvang as erkenning vir my bydrae tot kerkmusiek oor die jare.

Lees ook: Orrels en orreliste is ook (musiek)instrumente in die koninkryk

KB: Hoeveel kerkliedere het jy help skep?

JL: Tot op hierdie staduim het ek reeds meer as 140 tekste en/of komposisies vir die Liedboek, Flam, Vonkk en Sing praises all you people – a multilingual hymn book gelewer. Laasgenoemde bundel, gesamentlik uitgegee deur Christelike Lektuurfonds Uitgewers (CLF) en Bybel-Media, het in 2019 verskyn. Ek en dr Gideon van der Watt die bundel saamgestel en daarvoor het ons in 2020 die Andrew Murray-FAK-toekenning vir Christelike Musiek ontvang. (Bestel Sing praises all you people – a multilingual hymn book (R250) HIER.)

KB: Wat bring kerkliedere na mense se belewenis van die erediens?

JL: Vir Martin Luther, die vader van die Hervorming, was die kerklied se doel eerstens: lofprysing en aanbidding. Tweedens moes dit ook ’n hulp tot die beoefening van toewyding en piëteit vir die gelowige wees en derdens ’n opvoedkundige instrument om die evangelie te verkondig. Die kerklied moet vandag nog lidmate help om God in gees en waarheid te kan aanbid, met elke mens se persoonlike spiritualiteit in gedagte. Ons moet ook onthou dat kerkliedere “die dogmatiekhandboek” van ’n gewone lidmaat is en dus lidmate moet help om die Bybelse boodskap reg te verstaan. Daarom is dit belangrik dat die teksinhoud van kerkliedere teologies korrek moet wees. Volgens Calvyn is musiek dan die tregter waarmee hierdie boodskap in die hart van gelowiges ingegiet word.

Lees ook: Kerkmusiek: Kan hierdie paar oefeninge jou lofsang en aanbidding verdiep?

KB: Wat hou die toekoms in vir die skep van kerkliedere in Afrikaans?

JL: Die doel van Flam en Vonkk was juis om kerkliedere vanuit verskillende aanbiddingstyle vir gelowiges in Afrikaans, ons moedertaal, te voorsien. Die gevaar bestaan dat Afrikaanse kerkliedere deur allerlei Engelse liedere (baie keer met ’n onsuiwer en vreemde teologie wat dikwels bedenklik is) verdring mag word.

Sedert godsdiensonderrig, musiekonderwysers en sang in skole verdwyn het, word kinders al minder blootgestel aan sang en liedere waarmee hulle God kan aanbid en wat hulle geloof verwoord. My raad aan jong liedskrywers van kerkliedere sou wees om aan te hou met die skep van nuwe liedere. Hou die oor op die grond sodat hierdie liedere die moderne mens se behoeftes in hulle aanbidding sal kan aanspreek.

Wat is jou gebed vir die toekoms van Afrikaanse kerkliedere?

JL: My gebed is dat teksdigters en komponiste sal volhou met die skep van goeie kerkliedere wat die eis van die tyd sal deurstaan. Hou aan met die skep van eietydse liedere vanuit die verskillende aanbiddingstyle wat die moderne mens se behoeftes in hulle aanbidding sal aanspreek. Verder hoop ek ook dat lidmate en leraars die rykdom van liedereskat van Die Liedboek, Flam en Vonkk sal ontdek en sinvol in hulle erediensliturgieë sal gebruik, en dat dié liedere gelowiges se aanbiddingslewe sal verryk.

  • Bybel-Media is ook die uitgewer van Kerkbode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top