Kerkmusiek is vir almal in ’n mindere of meerdere mate belangrik. Vir sommiges inspireer dit en vir ander irriteer dit. Maar min mense is neutraal oor musiek. Dit blyk duidelik uit die struwelinge waarvan menige gemeente kan getuig wanneer gepraat word oor die styl van aanbiddingsmusiek en moontlike veranderinge daaraan. Deona Aucamp berig.
Die Amerikaanse teoloog Thomas G Long het dit raak opgesom in sy 2001-boek Beyond the worship wars toe hy op p 53 gesê het:
“Music is the nuclear reactor of congregational worship. It is where much of the radioactive material is stored, where a good bit of the energy is generated, and, alas, where congregational meltdown is most likely to occur. Change the order of worship, and you may set off a debate. Change the style of music, and you may split the congregation.”
Long se beeld van ’n kernreaktor is baie handig wanneer ons praat oor die impak wat kerkmusiek in ’n gemeente het. Die manier waarop die musiek uitgevoer word, of die stadium van die erediens wanneer dit gebruik word, kan bepaal of jy ’n veilige koolstofbedreaktor of ’n Chernobyl op hande het.

Die multidissiplinêre studieveld van neuroteologie bied waardevolle insigte om die pad na ’n veilige reaktor te vind. Wetenskap en teologie vat hande in hierdie veld en ondersoek die effek wat musiek, en die aanbieding daarvan, op die menslike brein en optrede het. Wetenskaplikes in neuroteologie gebruik tegnologie soos MRI-skanderings en EEG-toetse om breinaktiwiteite tydens verskillende fasette van aanbidding te monitor. Dié inligting kan kerk- en aanbiddingsleiers help in hulle musiekkeuse vir spesifieke geleenthede, asook om te bepaal presies wanneer in ’n diens om watter musiek in te span.
Toegegee, die term neuroteologie is nie sonder kontroversie nie, maar dit is stof vir ’n artikel op sy eie. Onderliggend aan hierdie artikel is die veronderstelling dat daar ’n holistiese, meetbare verband is tussen geloofsbelewing en -uitlewing aan die een kant, en fisiologiese reaksies en gevolge aan die ander kant.

Die een ononderhandelbare beginsel van kerkmusiek is dat God altyd die middelpunt moet wees. Alle musiek wat in ’n samekoms van gelowiges gebruik word, moet in die diens van die Here staan en Hom aan die woord stel. ’n Lied wat suiwer vir die emosionele effek gesing of gespeel word, voldoen nie hieraan nie. Die inligting waarna ons dus soek deur middel van neuroteologie, is nie primêr emosioneel nie. Enige emosies wat ontlok word deur kerkmusiek moet lei na ’n dieper ontmoeting met die Here vir sowel die individu as die gemeente in geheel.
Met bostaande in die oog, kan ons oorgaan na enkele voorbeelde van die praktiese toepassing van neuroteologiese bevindings.
-
Haal asem saam met musiek
- Die oefening kan heel in die begin, voor die preek of net voor die slotseën in die erediens gedoen word.
- Laat die begeleier/orkes ’n rustige melodie baie sag speel. Vra die gemeente om asem te haal saam met die ritme van die musiek.
- Die neurologiese effek wat plaasvind word ritmiese meesleuring (“rhythmic entrainment”) genoem. Dit sinchroniseer hartklop met die rustigheid van die musiek en die gepaardgaande dieper asemhaling bevorder ontspanne, helder fokus. Dit kan veral effektief wees indien dit net voor die preek gebruik word.
-
Beweeg saam met musiek
- Dit kan voor die diens begin of heel aan die einde ingespan word.
- Kies ’n lewendige lied wat vir die mense bekend is en laat hulle dit sing. Wanneer die lirieke by ’n spesifieke betekenisvolle frase wat vooraf afgespreek is, kom, moet elkeen na iemand anders draai, hulle vol in die oë kyk en die woorde direk vir daardie persoon sing. Voorbeelde is lied 547, “Alle volke, klap jul hande,” of Flam 295, “Daar is niemand soos Hy.” In plaas van sing kan mense ook vir iemand anders waai, maar hulle moet steeds die persoon in die oë kyk. Wanneer die tegniek aan die einde van ’n diens gebruik word, sal die musiek heelwat rustiger wees en moontlik ’n uitstuurseën bevat.
- Neuroteologiese navorsing het gevind dat die oogkontak, gekoppel aan die bekendheid van die lied, die vrystelling van die hormoon oksitosien in sowel mans as vroue bevorder. In sosiale kontekste sorg oksitosien vir gevoelens van vertroue, veiligheid en samehorigheid. Die erediens word dus onbewustelik geassosieer met hierdie positiewe gevoelens.

-
Herhaal Bybelgedeeltes in sang
- Die effektiefste gebruik vir dié oefening is net voor of net na die Skriflesing.
- Verduidelik die fokusbegrip/pe indien nodig en laat die gemeente dan ’n lied sing wat daaroor handel.
- Die volgorde van luister na ’n voorlesing en die sing daarvan direk daarna aktiveer die taalarea van die brein. Dit word dan makliker om die inhoud van die gedeelte of begrip te onthou. Indien die melodie bekend is, word die assosiasie nog makliker.
-
Beurtsang
- Beurtsang werk goed net na die preek.
- Die gemeente word in groepe verdeel wat beurte maak om te sing. Beurtsang moet nie verwar word met ’n kanon nie. In ’n kanon sing almal op stadiums gelyk. In beurtsang sing net een groep op ’n slag. Die indeling van die groepe hang van die liturg/aanbiddingsleier af en hoef nie net die tradisionele man-vrou-verdeling te wees nie. Dit kan dinge wees soos almal wat ’n spesifieke kleur aan het in een groep, of almal wat tekkies aan het.
- Beurtsang betrek mense aktief by die erediens. ’n Suksesvolle beurt aktiveer vir elke groep die beloningsnetwerk van die brein. Dit bring genot (’n positiewe assosiasie), terwyl dit ook die kognitiewe netwerk wakkermaak. Die boodskap word dus makliker én met groter bevrediging onthou.
Die paar oefeninge is maar ’n druppel in die emmer van alles wat reeds beskikbaar is. Aanvaar neuroteologie as ’n nuttige stuk gereedskap wat God ons gee om onsself steeds meer volledig aan Hom oor te gee.

Dankie hiervoor Deona! Ek resoneer sterk hiermee. Ons vergeet te maklik watter crucial rol musiek (nie net sang) in ons erediens speel. Musiek bypass ‘n klomp filters in ‘n mens en tref soms baie dieper as ‘n preek.