Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Vandag meer as twintig jaar later is die mense op wie die wêreld opgee, steeds Santie en Henry Tyrer se bediening by Ministry on Wheels. Foto's: Verskaf

Die ontstaansverhaal van Bediening op Wiele … en die mense daaragter | Jaco Strydom gesels met Henry en Santie Tyrer

“Ja, so ons doen maar sulke goeters,” sê Santie Tyrer en lig haar skouers.

Sy vertel van ’n vrou wie se man onlangs oorlede is: “Dit was ’n reënerige Dinsdag, en dit is koud en die vrou is soos amper in ’n trance … jy weet. Maar dis maar hoe sy is. Om te oorleef.

Want haar man het haar vreeslik emosioneel mishandel en vir haar gejok en haar ge-abuse. Ek vat haar toe van die begrafnisondernemer na die plek waar jy betaal vir die graf. Dit is só hartverskeurend om die weerloosheid so te sien. Want alhoewel hy haar rêrig nie goed behandel het nie, mis sy hom.”

“Jinne, maar dit klink amper of jy met Moeder Teresa getroud is,” sê ek vir haar man Henry.

Ons sit in hulle sitkamer op ’n plot buite Nelspruit. Later gaan wys hulle vir my die stoor met rye en rye vrieskaste en yskaste. Hulle gee meer as 1 200 gesinne maandeliks kos en help ’n hele lot hulporganisasies.

“Sy is meer as Moeder Teresa,” lag Henry, “sy help so baie mense. Jy moet die boodskappe sien wat hulle vir haar stuur, hulle sê sy is ’n engel van die hemel. En sy gee nie net kos nie, sy bring ook Woord. Sy gee vir elkeen so ’n kaartjie met ’n versie op en jy moet sien hoe waardeer hulle dit.”

“Hulle het gesê ons moet die bediening iets noem. Ek sê toe eers Kingdom-something, maar iemand sê toe nee, dit klink soos die Jehova’s,” lag Santie. “Toe sê die een dominee, wat van ‘Bediening op Wiele’, want jy’s altyd in die lorrietjie. Toe sê ek ooo … oukei, en toe het dit Bediening op Wiele geword en toe later Ministry on Wheels. Behalwe vir kos, help hulle ook met klere, meubels en op ’n klomp ander maniere.

Die twee vertel my van ’n hawelose man wat op ’n stadium by hulle in die huis gewoon het. Henry sê Santie het hom eers laat bad en geskrop met Jik om hom skoon te kry. Later het hy heeltemal reggekom en ’n werk gekry in Durban.

“Ai weet jy, hy was net die kosbaarste, kosbaarste mens,” sê Santie en skud haar kop. Sy vertel van die dag toe sy gehoor het hy is oorlede: “Sy kleinboet bel my … En ek is benoud! ‘Terug strate toe?’ vra ek. ‘Nee, stil huis toe,’ sê hy. Hy is dood aan ’n hartaanval op 69.”

Santie en Henry se lewe is alles behalwe vervelig. Terwyl ons gesels dink ek aan die ou wat gesê het hy is nóú so besig, hy weet nie waar hy tyd gaan kry vir ’n midlife-crisis nie. Tussen al die “gewone” aksie is Henry eintlik ’n makelaar. Santie werk voltyds met mense in nood, maar kry geen salaris nie.

Hulle vertel hartseer stories, maar hulle oë is vol dankbaarheid en verwondering. Die Here is goed vir hulle, sê hulle keer op keer.

Hulle pad met die haweloses het jare terug begin toe Santie op ’n dag aangemeld het om te help kosmaak by NG Nelspruit se hawelose koskombuis. Sy het by drie “blink gedrinkte” boemelaars gaan sit en gesels.

“My pa was ’n ouderling en hy het gereeld gepreek daar op die plaaskerk. So, ek het as ’n dogtertjie darem altyd die Woord gehoor. Toe gaan sit ek maar daar by die drie manne en praat met hulle. Maar niks gaan in nie, want hulle is gedrink! Maar ek het toe ’n lang pad met hulle begin stap en dit het my hele lewe verander.”

Lees ook: Brief | Waar is die Kerk in hierdie storm? In die middel daarvan; besig om Jesus se opdrag uit te leef

Vandag meer as twintig jaar later is die mense op wie die wêreld opgee, steeds haar en Henry se bediening. Ministry on Wheels is vandag ’n geregistreerde Artikel 18A maatskappy. Hulle skakel steeds by NG Nelspruit in en die gemeente ondersteun hulle bediening.

“Dit voel vir my dit is my familie. Almal is altyd so vriendelik en ons musiekbediening is puik. Ons is ook al die jare geseënd met puik dominees,” sê Henry.

Ek vra waar die naam Ministry on Wheels vandaan kom?

“Hulle het gesê ons moet die bediening iets noem. Ek sê toe eers Kingdom-something, maar iemand sê toe nee, dit klink soos die Jehova’s,” lag Santie. “Toe sê die een dominee, wat van ‘Bediening op Wiele’, want jy’s altyd in die lorrietjie. Toe sê ek ooo … oukei, en toe het dit Bediening op Wiele geword en toe later Ministry on Wheels.

Behalwe vir kos, help hulle ook met klere, meubels en op ’n klomp ander maniere.

“As die klerekas by die NG Moedergemeente Nelspruit vol is, dan gooi Koekie en Elsie dit vir my in sulke sakke en stuur ’n foto en sê: Kom, maak leeg!” sê Santie.

Tussen dit alles gebeur die gewone lewe.

Hulle vertel van die lang pad met hulle seun, Christiaan, wat breinskade opgedoen het met geboorte, van ’n wonderwerk later in sy lewe, en hoe hy vandag deel is van die bediening.

Santie sê sy was baie hartseer toe haar dogter onlangs Amerika toe geëmigreer het. “En toe ek een môre weer so tjank, toe sê die Here so ín my siel in: “Weet jy toe hulle hier gebly het by Alkmaar, het ek mos mooi na haar gekyk, dink jy nou rêrig ek gaan nie nou ook mooi na haar daar anderkant kyk nie?’”

Ek vra wanneer laas hulle op vakansie was.

Die twee probeer dink. Vyftien jaar gelede? Nee, twaalf jaar terug een keer by ’n familielid se plekkie by die see. Hulle was darem ook al by Marlothpark, net die Vrydag en Saterdag, sê Henry.

“Wat is julle grootste behoefte?” vra ek.

Hande, sê hulle, mense wat kan help en aanhou help – en kan uithou saam met hulle!

Wat maak hulle moedeloos?

“Wel, gemeentemense wat actually kan help en sê, oeee, dis so wonderlik wat julle doen! Maar hulle gaan liewerster nóg ’n quilt-lessie doen of nog ’n tea-party hou … en kan nie een dag per week inval, net van agtuur tot vieruur, en kom help nie,” sê Santie.

Hulle bedien oor kerkgrense heen. Party gemeentes sê hulle sal help, solank die projek hulle gemeentelede wat swaarkry ondersteun.

“Ons doen dit,” sê Santie, “maar die meeste van my mense sê reguit hulle glo nie. So, ek gaan aanhou kos aflaai tot hulle begin glo! Ek help enigeen.”

Hulle groot droom is om eendag die stukkie grond, wat hulle tans huur, te koop en dit te ontwikkel in laekostebehuising om mense in nood te help.

Ek is geen makelaar soos Henry nie, maar ek kan nie dink aan ’n groter belegging van hoop in die lewe van mense in nood, as hierdie bediening van die twee interessante mense van Nelspruit nie.

Dit was Pinksterweek in Nelspruit. Ons het onder andere gesels oor hoe baie die vroeë kerk gedoen het met min. Wat ’n voorreg om te sien hoe Santie en Henry Tyrer iets hiervan ook in ons tyd uitleef.

 

Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeugbediening en die NG Gemeente Villieria.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top