Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief | Waar is die Kerk in hierdie storm? In die middel daarvan; besig om Jesus se opdrag uit te leef

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Alex Clark van Ceres skryf: Deur die loop van die weer-chaos van die laaste week in die Wes-Kaap stuur ‘n kollega vir my die skakel van die brief Waar is die NG Kerk in hierdie ramp- en krisistye? op Kerkbode se briewe-afdeling.

Dit laat my dadelik dink aan die Bybelverhaal in Matteus 11 waar ‘n ontnugterde en dalk teleurgestelde Johannes die Doper van sy volgelinge na Jesus stuur met die vraag: Is u die Een wat moes kom of moet ons ‘n ander een verwag? Jesus antwoord nie Johannes se vraag nie, maar stuur die boodskappers terug met hierdie woorde: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig…”

Ek is tans ‘n NG Predikant op Ceres en het dus eerstehands hierdie enorme storm beleef. Die hele gemeenskap was vir bykans vier dae sonder krag en enige kommunikasie- of internetverbinding. Groot dele van ons streek is steeds sonder hierdie dienste. Die toegangspaaie tot die omgewing is beskadig en daar was ‘n tyd wat niemand kon in of uit nie. In hierdie tyd het ek gesien hoe mense ander help om ontwortelde bome en gebreekte takke te help verwyder. Ek het gesien hoe mense vir ander van kos voorsien deur bydraes en self hierdie kos te maak en te versprei. Ek het gesien hoe lidmate hul deure oopmaak om mense te huisves wie se wonings oorstroom het. Ek het gesien hoe die groter kerk deur strukture vinnig reageer om fondse beskikbaar te maak sodat gemeente en maatskaplike organisasies vinnig doelgerigte hulp kan verleen. Dit het ek beleef, en dit het ek gesien. En dit is waarvan ek gaan vertel.

Waar is die Kerk in hierdie storm? In die middel daarvan; besig om Jesus se opdrag uit te leef. Jy gaan nie noodwendig daarvan in die hoofstroommedia lees nie, maar dit verminder nie die waarde van elke stukkie liefde en genade wat deur gelowiges (en lidmate van die NG Kerk) gegee is in hierdie tyd nie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Brief | Waar is die Kerk in hierdie storm? In die middel daarvan; besig om Jesus se opdrag uit te leef”

  1. Barnard Steyn

    Diaconia is ‘n gesamentlike bediening van die NG Kerk Wes-Kaapland en die VG Kerk Kaapland. Die ekologiese diensterrein word deur die Groenspan behartig met rampbestuur as Alex Clark se portefeulje. Die afgelope tyd was daar droogtes, brande, bek-en-klouseer en pas die katastrofiese vloede. Dankie, Alex, vir jou samewerking met Badisa, landbouverenigings en gemeentes om nood te help verlig. Die Groenspan ondersteun tans vir Badisa en sewe gemeentes wat hulp na vloedskade bied met meer wat volg. Mag ons saamstaan in ‘n tyd van nood.

Comments are closed.

Scroll to Top