Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Anton Knoetze skryf: In die media is daar wye dekking gegee aan die Ultimatum wat eis dat “ongedokumenteerde” persone teen 30 Junie die land moet verlaat. Die tonele hieroor vertel van teistering en dreigemente. Dit wil voorkom asof die gebeure van 2008, 2015 en Julie 2021 homself moontlik kan herhaal. Wie sou kon dink dat dit so maklik kan wees om die burgerlike samelewing te mobiliseer, dat politieke leiers openlik opruiende retoriek kan gebruik sonder aanspreeklikheid. Dit is ook interessant dat akdemici die verskoning van armoede en werkloosheid as verskonings vir die gedrag weerspreek.
LEES OOK: Ongedokumenteerde burgers van ander lande: Vrees en koue buite Zim-konsulaat
Daar kan met reg gevra word of die betrokke staatsdepartemente geen lesse uit die verlede geleer het nie. Oortreders, aan beide kante, ervaar min betekenisvolle gevolge vir hul optrede. SA het nie ‘n gebrek aan openbare bewustheid of wetgewing nie. Wat ontbreek is aanspreeklikheid en die toepassing hiervan.
As ons na die kerkgeskiedenis kyk, leer ons dat die Hugenote op Bartolomeus-nag wreed vermoor en vervolg was. Dit het ‘n diep wantroue in die Staat gebring en hul het besluit om hulself goed te organiseer en self verantwoordelikheid te neem en ons kan sekere paralelle hieruit nao ns situasie trek. In sy kern is dit ‘n mislukking van die Suid-Afrikaanse regering om sy grondwetlike verpligtinge na te kom. Ten spyte van soortgelyke probleme in die verlede is wetstoepassing stadig. Die aanvalle in 2008 het minstes 62 mense gedood en duisende geraak. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se verslag berig van 597 sake en dat slegs 159 met ‘n uitspraak afgehandel is, terwyl 218 teruggetrek is. Grenskruisings en swak polisiëring bring nie toevallige mislukking nie, waar afdwinging inkonsekwent is, skep dit probleme. Dit moet onthou word dat die regering alreeds ‘n Nasionale Aksieplan ontwikkel het om Rassisme, Xenofobie en Verwante Onverdraagsaamheid te bestry. Die President en konings het die in openbare verklarings veroordeel. Die probleem is dat niemand aanspreeklik gehou word nie.
LEES OOK: Vreemdelinge en vlugtelinge: Wat vra die Here nou van ons?
Dit is verder vreemd dat die kerk baie sterk uitsprake oor bv. Gasa gemaak het en selfs bereid was om ’n groot bedrag geld beskikbaar te stel maar nou stil is oor iets wat Suid-Afrika wesenlik raak. Die verklaring van die Suid Afrikaanse Raad van Kerke hieroor is duidelik nie sterk genoeg nie. Omdat Christene geroep is om, onder andere, hulp te verleen aan behoeftiges, het gemeentes wat deel is van die Koinonia Netwerk besluit om gemeentes wat in die brandpunte is en ook naby aan grensposte is finansieël te ondersteun in hul hulpverlening. Die berigte wat ons uit bv. uit Swaziland se gemeente ontvang dui op groot getalle wat deur hierdie gebied reis na Mosambiek. Die toets vir Christen dienswerk lê nie in die verklarings na gewelddadige episodes nie, maar in betrokkenheid by die nood.
