Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Greta van Rensburg, bestuurder by Huis Piek in Pretoria, skryf:
In samewerking met die NG Kerk Waterkloof het ’n paar inwoners op kort kennisgewing saamgekom om toebroodjies vir die ongedokumenteerde werkers te maak wat tans by die ambassades wag vir busse om uit Suid-Afrika uit te kom. ’n Mens kon sien: vir sommige was dit dalk die eerste keer in maande dat hulle broodjies moes smeer, vir ander ’n japtraptaak, maar elke toebroodjie is met dieselfde gesindheid gemaak: om liefde op ’n praktiese manier uit te leef.
Lees ook: Immigrante-protes: Gelowiges praat met nuanse, stilte én met dade

So ’n vreugde … die stories wat om die tafel gedeel is en die wete dat elkeen van ons steeds ’n bydrae kan lewer. Diensbaarheid het nie ’n ouderdomsperk nie.
Ons leef in ’n tyd waar ouer mense dikwels gedefinieer word deur wat hulle nie meer kan doen nie. Vandag is ons herinner dat ons elkeen steeds ongelooflik baie hét om te gee: tyd, wysheid, deernis, gebed en liefde wat in eenvoudige dade gestalte kry. Spontaan kom die lied uit Lukas 22:19, van Piet Smit by ons op: “U het die brood gebreek … Breek tans die lewensbrood vir my ook, Heer.”
Vir ons inwoners was dit ’n bevestiging dat hulle steeds deel is van God se werk in die wyer wêreld. Wanneer die kerk en ’n tehuis soos Huis Piek só saamwerk, gebeur iets besonders: bejaardes word nie net versorg nie, hulle kry weer die geleentheid om self te dien.
En dalk is dit die mooiste boodskap van alles: God gebruik gewillige hande, of die hande nou jonk is, of ouer. Sy werk gebeur selfs deur iets so eenvoudig soos ’n toebroodjie wat met liefde gemaak is.
- Die brief is verkort.
