Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die groot heldinne uit die geskiedenis is die naamlose vroue – hulle wat nie bekend of beroemd geword het nie, vir wie daar nie standbeelde of monumente opgerig is nie, maar wat in kerk en samelewing ’n onmisbare rol gespeel het, skryf Johan van der Merwe.

Johan van der Merwe: Soli Deo gloria vir die vroue in die kerk

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Vrouedag, 9 Augustus, is om die draai. Vir baie is dit ’n polities gelaaide dag, maar dit kan ook meer wees. Dit kan ’n geleentheid wees om onsself te herinner aan die belangrike rol wat vroue in die geskiedenis van die Christendom en daarmee ook in die geskiedenis van die NG Kerk gespeel het.

Lees ’n mens die verhaal van die vroeë kerk, kom jy vining agter hoe belangrik die rol was wat vroue soos Priscilla, Phoebe en Lidia gespeel het. Perpetua was byvoorbeeld ’n jong ma en edelvrou in Kartago (Noord-Afrika) wat in ongeveer 203 nC geleef het. Sy is gearresteer omdat sy ’n Christen was en het verkies om in die arena doodgemaak te word, eerder as om haar geloof in Jesus prys te gee. So het sy een van die bekendste vroulike martelare van die vroeë kerk geword.

Die rol wat vroue in die geskiedenis in Suid-Afrika gespeel het is alombekend. ’n Mens dink onwillekeurig aan die verhaal van die “Kaalvoetvrou”, Susanna Smit, suster van die Voortrekkerleier Gert Maritz, wat in 1837 gesê het dat sy eerder kaalvoet terug oor die Drakensberge sou stap as om weer onder die Britse vlag te leef. ’n Mens onthou Emily Hobhouse, die Britse Christenvrou en die rol wat sy tydens die Tweede Suid-Afrikaanse oorlog (1899-1902) gespeel het. Miskien minder bekend, Annette Marais, wat in die Bethulie-konsentrasiekamp met haar boodskap oor mossies uit Matteus 10 die vroue in die kamp bemoedig het. Haar verhaal het genl Jan Smuts so aangegryp dat hy gesorg het dat mossies baie lank as beeld op die eensentmuntstuk gebruik is.

Die groot heldinne uit die geskiedenis is egter die naamlose vroue – hulle wat nie bekend of beroemd geword het nie, vir wie daar nie standbeelde of monumente opgerig is nie, maar wat in kerk en samelewing ’n onmisbare rol gespeel het. Die voortbestaan van elke gemeente van die NG Kerk sonder die rol wat vroue in die gemeente gespeel het en steeds speel, is haas ondenkbaar. Dink vir ’n oomblik aan die verkondiging van die Woord, onderlinge sorg, uitreike en die insameling van fondse. Dink aan preke wat gepreek is, gemeentekuiers wat gereël is, truie wat gebrei is, borde kos en koppies sop wat uitgedeel is, en aan elke pannekoek wat gebak is om fondse vir die kerk in te samel. Onthou ons die rol van vroue so, word elke kerkgebou van die NG Kerk in die stede en dorpe van Suid-Afrika ’n lewende monument vir die naamlose vroue en vir die rol wat hulle in die geskiedenis van die NG Kerk gespeel het.

Vanjaar val 9 Augustus op ’n Sondag. Miskien is dit ’n unieke geleentheid om met oorgawe te sê: “Soli Deo gloria” vir die vroue in die kerk.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top