Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Tussenin | Zander van der Westhuizen: Op pad terug van Noorweë bid ek ’n vreemde gebed

Noorweë is ’n ongelooflike land – veral die noorde. Dit is bekend vir sy fjords, natuurlike inhamme, gletsers, dramatiese kuslyne en beeldskone natuur. In die noorde is daar sekere maande met slegs donkerte en ander met slegs lig – 24 uur per dag. Selfs in die somer is die bergpieke met sneeu bedek, die wind ysig en die seewater helderblou.

LEES OOK: Ons vier te min die lewe. Ons stop te min om dankie te sê

 

Dit is ’n eerstewêreldland waar alles werk. Almal het toegang tot opvoeding, werk en die voordele wat daarmee saamgaan.

Ek het dit besoek as deel van ’n afvaardiging uit Suid-Afrika wat hulle jeugontwikkelingsprogramme gaan verken het. Ons is in Tromsø ontvang en het heelwat tyd saam met jong mense deurgebring. Ons het skole, jeugklubs en programme in die middestad besoek en selfs vir hulle tieners van Suid-Afrika se konteks vertel.

Tydens ’n aanbieding by ’n hoërskool was die tieners verbaas dat tienerswangerskappe so ’n groot uitdaging in Suid-Afrika is (selfs op ’n morele vlak). As jy in Noorweë swanger raak, help die regering jou met subsidies en ondersteuning vir die versorging van jou kind, sodat jy steeds skool kan voltooi en verder kan studeer. Ek weet nie of dit vandag nog so is nie, maar ek het destyds by myself gedink: “In hierdie konteks is baie van die etiek bloot pragmaties.”

LEES OOK: Skuif jou fokus na die foute of die vreugdes?

 

Op een van die dae neem die junior stadsraad ons op ’n bootrit langs die kus. Tussenin die uitsigte raak ek aan die gesels met een van die stad se tienerleiers. Hy vertel my waar hy woon, hoe die skole werk en van sy gesin.

“How do you survive the constant darkness during the winter months?” vra ek.

“We have lights,” antwoord hy asof dit ’n dom vraag is.

“What religion do you belong to?”

“What do you mean, religion?” antwoord hy weer, asof dit nóg ’n dom vraag is.

“I mean, do you believe in God?”

“What is ‘God’?” vra hy.

“Someone bigger than you. A belief in a higher being, a god?” probeer ek verduidelik.

“I don’t understand.”

LEES OOK: Tyd om nuwe musiek te skryf!

Die slim jong man het geen verwysingsraamwerk vir godsdiens, ’n godheid of iets of iemand groter as homself gehad nie. Geen misterie nie. Geen geloof nie. Dit was asof hy eenvoudig ’n “blank” geslaan het.

’n Christen-onderwyser vertel my later dat baie tieners eintlik sukkel. Hulle raak soms depressief en het geen dryfveer nie. Volgens hom leef baie van hulle in ’n wêreld waar min dinge werklik op die spel is, en waar geloof vir baie eenvoudig nie meer nodig voel nie.

Statisties is Noorweë op papier steeds ’n meerderheid Christelike land, maar waar ek destyds was, was die idee van ’n godheid vir sommige mense selfs afwesig of onbegryplik.

Op die vliegtuig terug lees ek vir die eerste keer weer die Suid-Afrikaanse nuus. Oral is daar probleme en uitdagings. Die koerante is vol stories waarvan ek weet dat dit deursettingsvermoë, dryfkrag en baie gebed gaan verg om hoopvol daardeur te kom.

Alles werk nie. Alles is nie maklik nie. Niks word vir jong mense op ’n silwer skinkbord aangebied nie – jy moet daarvoor werk. As jy foute maak en met die gevolge daarvan sit, gaan die regering jou nie kom red nie. Jy moet genade vind en planne maak. En dít is soms goeie motivering om nie weer dieselfde fout te maak nie.

Terwyl hierdie gesprek binne-in my kop afspeel, kom lê daar ’n vreemde emosie in my hart. In plaas van bekommernis, die gebruiklike aggressie oor alles wat sukkel, vrees en die ander emosies wat sulke gewaarwordings gewoonlik by my oproep, gebeur daar iets anders binne my.

Dankbaarheid.

Ek bid ’n vreemde gebed:

“Dankie, Here, vir probleme, uitdagings en goed wat nie altyd werk nie. Dankie vir Afrika, vir die moeilikheid en alles wat soms so sukkel. Dankie dat ek hard moet werk om iewers in die lewe te kom.”

Ek besef dit is waarskynlik nie die beste teologie nie, maar vir daardie oomblik is ek eenvoudig pragmaties dankbaar dat ek die Here nodig het en Hom daarom kon leer ken.


Tussenin is ’n rubriek oor die lewe in die middel van dinge – waar stories, mense, klanke en stilte mekaar ontmoet. Zander van der Westhuizen skryf as pa, getroude, skrywer, musikant, radio-omroeper en predikant oor die oomblikke waar sin en seën onverwags opduik tussenin alles wat ons doen en probeer wees.

No data was found
Scroll to Top