Nuwe navorsing oor die gemeentes van die NG Kerk wys tekens van “laer trek”, maar Gawie Gouws bespeur iets verrassend daarin.
In ’n kwantitatiewe studie onder gemeentelike leierskap, Kerkspieël, wat vir die eerste keer weer in vier jaar verskyn, skep tot twee derdes van NG gemeentes die vermoede dat hulle weer laer trek … Dit wil sê: Met allerlei gevaar wat dreig, krul hulle op en keer na binne. Dit laat noodgedwonge die vraag ontstaan: Is die NG Kerk besig om weg te hardloop van haar roeping ten opsigte van die wêreld waarin sy leef?
LEES OOK: Kerkspieël 2026 onthul die stippellyne wat gemeentes sélf moet trek
Ek is ’n dominee in ’n groot plattelandse gemeente en een van ons lidmate, kom ons noem hom, Jannie, is sy lewe lank ’n lidmaat van die NG Kerk op Swellendam. Hy het hier grootgeword en sy familie is geslagte lank al Swellendammers. Jannie noem hierdie dorp en kerk “syne”. Hy het sy kinders hier gedoop, grootgemaak en gedien as diaken en ouderling van hierdie gemeente op meer as een geleentheid. Hy is al deur die eb en vloei van kerkwees en het selfs die samesmelting van die twee NG gemeentes op die dorp beleef. Jannie se kinders is nou al volwassenes en hulle beoog ook om binnekort hulle kinders hier te doop. Dit is dieselfde NG Kerk wat al in die afgelope 10 jaar ongekende seismiese aktiwiteit vanuit beide eie geledere en van buite moes navigeer.
Opskuddings soos die bestaanskrisis waarin Covid gemeentes gedompel het en die meer onlangse gay-debat wat geweldige polarisasie tot gevolg gehad het, het ook in hierdie gemeente sy spoor van verwoesting nagelaat. Dit het daartoe gelei dat hier ook gebeur het waarvan die nuutste Kerkspieëlnavorsing getuig: Gemeentes het weer begin laer trek. Hiervan getuig die jongste statistiek uit sowat 600 NG gemeentes wat oor die hele land versprei is.
LEES OOK: Kerkspieël 2026: ‘Kleiner is nie (altyd) sterwend’ – NG Kerk in Zim

Gemeentes sê hulle fokus al minder daarop om nuwe intrekkers in die gemeenskap op te soek. Die data wys ’n afwaartse tendens vanaf 2022, toe 52% van respondente verklaar het dat hulle nuwe intrekkers opsoek, teenoor die 38% wat volgens 2026 se peiling so maak. ’n Verdere 20% van respondente sê hulle doen dit “nooit”. Die gemeentes voel ook hulle is minder verteenwoordigend van die demografie van hulle gemeenskappe (van 41% in 2018 na 31% in 2026).
Die navorsing wys verder daarop dat gemeentes ervaar hoe hulle aanlyn en in-persoon eredienste beter bygewoon word as voor Covid en dat meer gemeentes glo dat hulle inkomste óf tred hou met inflasie óf groei bo die inflasiekoers.
Nuwe gewoontes wél gekweek
Meer mense wat eredienste bywoon, meer geld in die kollektebordjies en minder verteenwoordigend van die gemeenskap dui net op een ding: Gemeentes se aktiwiteite is weereens na-binne gerig, maar hierdie keer met ’n verrassende doel. Hiervan getuig 75% van die respondente – en dit is meer as 450 gemeentes in die NG Kerk! Hulle rapporteer dat die gemeente besig is om gewoontes by lidmate te skep, sodat ’n kultuur van gasvryheid in die gemeente gekweek kan word.
Leierskap is besig om die potensiaal van lidmate raak te sien en om van gemeentes ’n verwelkomende spasie te maak. Geen wonder dat 56% van gemeentes in 2022 geglo het dat hulle gemeente net besig is met instandhouding en dat dit afgeneem het na 46% in 2026. Die gemeentes wat hulleself nou as groeiend of dinamies groeiend beskryf, het ook toegeneem van 34% in 2022 tot 48% in 2026!
Deesdae verwelkom lidmate erediensgangers by die kerkdeure, dominees verwelkom besoekers van die kansel af, die gemeentelede groet mekaar en drink saam tee in die kerksaal na die diens. Dit gebeur natuurlik nie in alle NG gemeentes presies so nie, maar dit gebeur wel in Jannie s’n. Hy stap saam met nuwe intrekkers en oorsese besoekers na die saal om tee te drink en nooi hulle om saam met hom op die plaas te kom kuier. Hy het selfs ’n selgroep begin wat oor kerkgrense heen strek. Maandeliks eet hulle saam en ervaar hulle die gemeenskap van gelowiges tasbaar.
Ja, dis waar, Jannie se gemeente trek laer, maar nie om mure hoër te maak nie. Hulle trek laer om lidmate toe te rus om mure af te breek.
Ds Gawie Gouws is ’n leraar by NG Kerk Swellendam.
