In 2026 is die grootste groep gemeentes binne die NG Kerk van Suider-Afrika dié met net 300 of minder lidmate, maar kleiner beteken nie noodwendig kwynend of sterwend nie. Daar is klein gemeentes wat selfs floreer, vertel dr Lourens Bosman aan Heléne Meissenheimer.
Dit was sy belewenis toe hy laasjaar as brugleraar eerstehandse ervaring opgedoen het van hoe dit met gemeentes in Zimbabwe gaan. Tans vervul hy ’n soortgelyke rol in Pretoria. Bosman praat met ervaring wat oor jare aankom – hy het onlangs as algemene bestuurder van die NG Kerk uitgetree en het ’n jarelange betrokkenheid by die ontleding van statistiese opnames oor die stand van gemeentelewe in die NG Kerk.
Zim se mikro-gemeentes
Sommige gemeentes in Zimbabwe het skaars 50 of minder lidmate. So skryf hy daaroor in ’n onlangse verslag: “Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) in Zimbabwe bevind hom in ’n kritiese oorgangsfase, gekenmerk deur die knellende realiteit van gemeentes wat “ouer, kleiner en armer” word. Hierdie demografiese en ekonomiese uitdagings is gewortel in Zimbabwe se onlangse geskiedenis van grondhervorming, ekonomiese inploffing en ’n kultuur van wanbetaling. Ten spyte hiervan toon kleiner, ‘familiegrootte’ gemeentes merkwaardige veerkragtigheid deur hoë eienaarskap en informele bediening.”

Familiegrootte bedoel gewoonlik gemeentes met minder as 300 lidmate. Dit is die kleinste van die vier modelle wat binne die NG Kerk gebruik word om oor lidmaatgetalle te praat. Die ander sluit in Pastoraal (300-700), wat tot so ’n paar jaar terug die een was waarbinne die meeste gemeentes geval het. Dan is daar ook Program (600-1 500 lidmate) en Korporatief (ook Makro genoem) (meer as 1 500 lidmate).

‘Vervelige’ data wat tot stories lei
Bosman was deel van ’n span kerklike navorsers wat onlangs ’n groepie aspirantskrywers, vyf dominees en ’n paar ander, kom toelig het oor ’n paar van die uitslae van die nuutste Kerkspieël, ’n omvattende vraelys wat predikante en ander in leiersposisies binne gemeentes elke vier jaar moet voltooi. Prof Kobus Schoeman van die Taakspan Navorsing het vertel van 1981 tot en met 2006 was Kerkspieël se uitslae in ’n blykbaar lywige verslag verwerk, maar dit is toe gestop “omdat amper niemand dit gelees het nie”. So ses jaar gelede het die taakspan met Kerkbode hande gevat om jaarliks ’n Slypskool-geleentheid aan te bied. Predikante met ’n belangstelling in skryf word genooi om ’n hap van die data-appel te vat, te herkou en dan stories te skryf wat poog om ‘sensemaking’ te doen oor wat opnames soos Kerkspieël en ander vir die kerk wil wys.
Soos Bosman opgemerk het: “Data is vervelig, daarom is die artikels wat julle skryf belangrik. Skryf stories wat mense emosioneel raak en die kerk ten goede kan dien. Ground our stories with data and enliven our data with stories.”

Zim se mikroklein gemeentes se ‘nuwe’ drie G’s
Gemeentegrootte is een van die datapunte wat Kerkspieël meet. Familiegrootte-gemeentes is sedert 2022 meer as die aantal pastorale gemeentes – die twee kategorieë met die meeste gemeentes.
Bosman meen dit is ’n skuif wat die kerk nie mismoedig hoef te maak nie. Hy het vertel die drie G’s, Getalle, Geboue en Geld, was vir lank tydens sy jare as predikant die merkers vir hoe ’n suksesvolle gemeente lyk, maar in Zimbabwe het hy gesien hoe veerkragtig van die klein gemeentes daar is.
Navorsing wys ook dat wat gemeentes lewenskragtig maak eerder gaan oor merkers soos om ’n duidelike verstaan te hê van roeping, “wat maak ons hier”. Eweneens is dat lidmate hulle gawes binne hulle gemeenskap uitleef en ook dat die gemeente een is wat na buite leef. Dit wil sê hulle dink missionaal – hulle is oop vir handevat met ander gemeentes, kerke en organisasies binne hulle gemeenskap.
“Met ander woorde hulle is nie geïsoleerd nie,” sê Bosman. Dit is wat hy laasjaar as brugleraar in Zimbabwe beleef het. Hy noem sy nuwe drie G’s: Gemeenskapbetrokkenheid, Gestuurdheid en Gawes.
Ter illustrasie vertel hy die storie van Kadoma-gemeente in Masjonaland in Zimbabawe. Hierdie gemeente van sowat 50 lidmate het nie ’n voltydse predikant nie. Ds Dawie Rotteveel van Harare kom slegs drie dae per maand daar uit. Nogtans is hierdie die kerk waar almal welkom is, nie net NG lidmate nie. Soos ’n ouderling vir hom vertel het: “If we had a full time minister, we would have relinquished our power and ability to organise ourselves.”
In hierdie land waar Afrikaanssprekendes al minder geraak het, het baie gemeentes na Engels oorgeskakel.
Maar daar is ook iets anders wat hy waargeneem het. Dat kleiner gemeentes tog kan sterf of toemaak. Hy sê: “Ek het waargeneem gemeentes wat hulle in die gemeenskap posisioneer as vír die gemeenskap oorleef. Hulle behou hulle vitaliteit al is hulle klein.
“Dié wat dit nie doen nie gaan dood”.
