Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ons vra hoe ons relevant kan bly, miskien behoort ons eerder te vra of ons nog herkenbaar is as volgelinge van Jesus, skryf Johan Botes.

Kerkspieël 2026: Hoekom ek ongemaklik wil bly met die taal van bemarking en besigheid

Ek is meer bekommerd dat ons puik inhoudskeppers en handelsmerkbestuurders word, maar vergeet het hoe om voete te was, skryf Johan Botes op grond van die jongste Kerkspieëldata.

 

Daar is ’n sekere woordeskat wat my fisies en geestelik uitput. Sodra iemand begin praat oor die kerk se “branding” of bemarking of bestuur kriewel my vel. Dit is nie dat ek iets teen bemarking en kommersiële besigheidsbeginsels het nie. Besighede het natuurlik bemarking en goeie bestuur nodig. Ek het ook niks teen goeie bestuur nie. Gemeentes behoort verantwoordelik bestuur te word.

Maar iets gebeur in ’n kerkvergadering wanneer ons hierdie taal begin gebruik. Taal is mos nooit net taal nie. Woorde skep wêrelde en raamwerke en invalshoeke. Woorde bepaal nie net hoe ons praat nie, dit bepaal uiteindelik hoe ons dink.

LEES OOK | Kerknavorsing oor ruimtes vir konneksie: Cheers, Bybel-en-Bier … Hello Koffiekroeg?

 

As ons die taal van besigheid begin praat, begin ons die kerk ook maklik soos ’n besigheid sien. Lidmate word kliënte. Predikante of voorsitters word bestuurders. ’n Gemeente word ’n brand. Eredienste word dienste gelewer aan kliënte. Lidmaatgetalle word ’n bewys van markaandeel. Die evangelie (of Jesus) word ’n produk wat net goed genoeg verpak, verkoop en versprei moet word sodat meer mense dit wil koop.

Maar kom ons aanvaar vir ’n oomblik dat hierdie manier van dink presies is wat die kerk nodig het. Kom ons aanvaar die kerk ís inderdaad net nog ’n besigheid op die markplein wat haar bes doen om kliënte te probeer lok om in te kom. Dan is die jongste Kerkspieël-navorsing eintlik fantastiese nuus. Ons kan nou bevestig wat die meeste van ons sekerlik sien of aanvoel: Die NG Kerk is besig om te vergrys en die NG Kerk pas goed aan by die bediening aan seniors. Met die perspektief van ’n markontleder wat strategies wil beplan vir die toekoms van die NG Kerk, kan ons die NG Kerk geluk wens, dinge lyk goed.

Ds Johan Botes is ’n leraar by NG Kerk Hermanus. Hy was een van die deelnemers by vanjaar se skryfslypskool (28-30 Julie) onder leiding van Kerkbode en die NG Kerk se Taakspan Navorsing. Hierdie skrywe is deel van ‘n reeks wat insigte uit die jongste navorsing ontgin.

Die wêreld is buitendien besig om vinnig ouer te word. Byna oral daal geboortesyfers en mense leef langer. In baie lande is ouer volwassenes die vinnigste groeiende deel van die bevolking. Die voorspelling is dat hierdie verskuiwing een van die bepalende werklikhede van die een-en-twintigste eeu gaan wees.

Vanuit ’n markperspektief beteken dit net een ding. Die NG Kerk is reeds uitstekend geposisioneer. Ons is reeds waar die mark heen op pad is. As markaandeel ons doel is, behoort ons eintlik baie optimisties te wees. Ons hoef nie so bekommerd te wees oor waar die jongmense is nie, ons kan onsself die moeite spaar om hulle te bereik of in kliënte te verander. Ons behoort eerder ons bestaande mark verder te ontwikkel. Ons ken ons kliënte goed. Ons verstaan hulle behoeftes. Ons het dekades se ervaring in hierdie segment van die mark. Uit ’n besigheidsoogpunt het ons eintlik ’n uitstekende, doeltreffende en effektiewe strategie. As ons waarde, groei, sukses en effektiwiteit deur opbrengs en markaandeel bepaal word en so gemeet word, kan ons maar net aanhou soos ons nou aanhou en vasbyt.

LEES OOK: Kerkspieël 2026 onthul die stippellyne wat gemeentes sélf moet trek

 

Wat my vel laat kriewel, is wanneer ek wonder of dit nie juis hierdie wêreld is waarteen Jesus Hom voortdurend verset het nie. Jesus het nooit gelyk asof Hy baie belang gestel het in markaandeel vir sy “koninkryk van God” produk nie. Hy het sy ‘bestuurspan’ gekies uit mense met min invloed en begrip. Hy het sy tyd gemors met mense wat niks kon teruggee nie, soos kinders. Hy het saam met tollenaars geëet en melaatses aangeraak wat sleg was vir sy handelsmerk. Hy het rykes aangeraai om alles te verkoop, nie sodat hulle dit vir sy beweging kon gee nie maar aan die armes. Hy het geleer dat jy moet leen aan enige een wat vra sonder om iets terug te verwag, rente en belegging en opbrengs was skynbaar nie in sy woordeskat nie. Hy het stories vertel van kinders wat ouers se geld mors sonder om daarvoor gestraf te word, inteendeel. Stories oor hoe dié wat van vroegdag af gewerk het dieselfde loon ontvang as dié wat net voor uitsaktyd begin het. Van ’n onnosel boer wat sy saad saai op die pad en tussen die klippe en onkruid ook.

As die woordeskat wat ons gebruik ook ons fokus bepaal laat dit ons te dikwels wonder hoe ons die kerk kan laat groei terwyl ons dalk moet wonder wie die een is waarvoor ons die 99 kan agterlaat. Ons vra hoe ons relevant kan bly, miskien behoort ons eerder te vra of ons nog herkenbaar is as volgelinge van Jesus. Ons vra hoe ons ons markaandeel kan beskerm, maar die koninkryk van God het nog nooit oor markaandeel gegaan nie.

Wêreldryke is afhanklik van markte. Wêreldryke moet toenemend groei en beheer. Wêreldryke maak staat op alles wat gemeet, bestuur en geoptimaliseer kan word. Maar die koninkryk van God is ’n tafel waar almal welkom is. Brood vir almal wat honger is. ’n Beker wat oorloop. ’n Handdoek vir vuil voete. ’n Kruis.

Ek is nie bang dat die NG Kerk kleiner gaan word nie. Ek is baie meer bekommerd oor iets anders. Ek is bekommerd dat ons eendag goeie skeppers van inhoud en handelsmerke is, maar vergeet het hoe om voete te was. Dat ons presies sal weet hoe om ons markaandeel te beskerm of te verhoog, maar nie meer weet hoe om ons kruis op te neem nie. Dat ons uiteindelik só gemaklik sal raak met die taal van die mark dat ons nie meer sal hoor hoe vreemd die taal van die koninkryk werklik is nie.


Ds Johan Botes is predikant by die NG Kerk Hermanus.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top