Ek staan op my stoep met ’n koppie koffie in my hand. Dit is Saterdagoggend vroeg en wat ek sien, is ’n helderblou dag wat voorlê. Maar op my foon wys al die bronne dat die weer glad nie goed lyk nie.
Ek begin in my kop vooruit dink. As ons die fees moet uitstel, teen wanneer neem ons die besluit? Wat is die groter verlies: afstel, uitstel of aangaan – met die risiko dat mense nie kaartjies by die hekke koop nie en dié wat wel opdaag, vries of natreën?
LEES OOK: Huldeblyk aan Patrick R Keifert: ’n Teoloog wat die kerk geleer het om te luister
Ons gemeente hou jaarliks ’n fees in die gemeenskap. Dit gebeur oor drie dae, waarvan die Vrydag buite op ons vennoot, die laerskool, se sportgronde plaasvind. Ons praat hier van ’n pretpark, markte, kos, tente, ’n buitelugverhoog, mediavennote, borge, projekte saam met Vodacom, kunstenaars, musiekgroepe en en en … Laasjaar was daar meer as 2 200 mense. Daar is sekuriteit, versekeringspolisse, eregaste, verkeersreëlings en stadsraadgoedkeuring. Jy kry die idee.
Die koffie is op en ek begin oproepe maak. Ek probeer al die moontlike scenario’s antisipeer. Wat sê die kontrakte? Wat is ons opsies? Ek praat met KI oor scenario’s en hou elke tien minute die weervoorspelling dop – asof dit so vinnig gaan verander.
LEES OOK: Tussenin | Het ons hierdie aspek van kerkwees verleer?
So verloop die res van die naweek min of meer. Die inligting word al hoe meer, die opsies al hoe minder. Tussenin is daar kerk, familie-ete en radio-aanbied.
Teen Sondagaand lyk die weervoorspelling nog erger en ek het reeds ’n WhatsApp-groep met die sleutelrolspelers wat begin beplan vir die moontlikheid dat ons moet kanselleer of uitstel. Sosiale media is vol waarskuwings. Die hele land word geraak. Hulle voorspel selfs sneeu.
Maandag skryf ek reeds mediaverklarings en is ek heeltyd in gesprek met die verhoogmaatskappy. Die grootste probleem is nie net die Vrydagfees self nie. Die verhoog, tente en ander strukture moet reeds vooraf op die skoolvelde opgerig word. Ons kan nie die velde beskadig nie, en hulle kan nie begin oprig as dit nat is of reën nie.
Die kunstenaars is reeds oor die langnaweek gekontak en ons probeer agente in die hande kry om al die opsies op die tafel te hê.
Maandagaand staan ek weer op my stoep. Nog koffie in my hand. Ek kyk na die skoon lug en sonsondergang en wonder hoeveel ek hierdie weervoorspelling moet vertrou.
Middernag maak die harde reën op ons sinkdak ons wakker.
Teen 08:00 Dinsdagoggend is die mediaverklaring uit: Vrydag se fees word uitgestel.
Deur die loop van die dag ontvang ons net simpatie, gebede en ondersteuning – selfs van mense wat ek nie ken nie. Buitediensverskaffers stuur boodskappe. Almal help planne maak en kom ons tegemoet terwyl die land vries, dit sopnat reën en foto’s van sneeu oral op sosiale media verskyn.
En oor my hang daar, tot almal se verbasing, ’n heel rustige vrede. Almal het gedink ek gaan stres. Maar ek het iets bevrydends besef: Daar is nog goed wat nie in enigeen van ons se beheer is nie.
In ’n wêreld waarin ons heeltyd moet beplan, vir alles verantwoordelikheid moet neem – en verantwoordelik gehou word – is dit ’n wonderlike gevoel as jy soms kan sê: Hieraan kan ek niks doen nie. Dit is buite my hande. Ek bestuur net wat ek kan.
Jy lees dalk hierdie verhaal vandag en het self al menige kere vir die kerk ’n funksie, fees, basaar of fondsinsameling gereël.
Hier is my raad wanneer die krisis kom:
- Kry betyds al die inligting.
- Omring jou met die regte mense, met die regte insig en opinies – maar sorg dat hulle nie te veel is nie.
- Moenie die welwillendheid van vreemdelinge onderskat nie.
- Kommunikeer. Met almal. Die gemeente, leiers, vrywilligers, diensverskaffers en die “kliënt”.
- Pas aan en wees vloeibaar. Maak nuwe planne. Dink buite die boks.
En uiteindelik: weet dit. Jy is nie eintlik in beheer nie.
Doen wat jy kan. Bestuur wat binne jou hande is.
En met die res?
Ontspan. En bid.
Tussenin is ’n rubriek oor die lewe in die middel van dinge – waar stories, mense, klanke en stilte mekaar ontmoet. Zander van der Westhuizen skryf as pa, getroude, skrywer, musikant, radio-omroeper en predikant oor die oomblikke waar sin en seën onverwags opduik tussenin alles wat ons doen en probeer wees.
