Op die vooraand van die PredikanteSAAMkoms in Augustus dink Zander van der Westhuizen aan wat ’n reis na Turkye hom oor die kerk se wortels geleer het.
Ons neem onlangs ‘n Nuwe Testament-toer na Turkye en besoek Kappadosië. Dit is my eerste keer in dié ongelooflike omgewing. Ek is ietwat uit die veld geslaan deur die landskappe waar torings van sand en klip oral om my uit die aarde opreis. Dit is só anders. Ek oortuig myself dit moet wees waar Star Wars inspirasie vir die planeet Tatooine vandaan gekry het – al weet ek dit is in Tunisië verfilm.
LEES OOK: Zander van der Westhuizen: Op pad terug van Noorweë bid ek ’n vreemde gebed
Ons besoek die ondergrondse stad Kaymaklı en word meegevoer deur die verskuilde argitektuur. Ons loop gebuk deur die tonnels en verdwyn al hoe dieper ondergronds – diep bewus daarvan dat Christene waarskynlik ook hier weggekruip het. Almal in die groep kan na die tyd nie uitgepraat raak oor wat dit moes beteken om so diep onder die grond vir weke te moes woon nie.
Ons verkyk ons aan die kerkies en grotte van die Göreme Ooplugmuseum, waar die monnike en kerkvaders se diep teologiese wortels lê. Hier is fresko’s en ikone wat jou in stilte laat besef hoe betekenisvol die monastieke gemeenskappe was in die vorming van die kerk.
LEES OOK: Zander van der Westhuizen: Tyd om nuwe musiek te skryf!
Die ervaring is eintlik te moeilik om in woorde te beskryf, en tussen al die inligting en besienswaardighede stop ons by ‘n grotrestaurant.
Jy het reg gelees. ‘n Restaurant in ‘n grot.
Ons stap deur ‘n lang gang wat oopmaak in hierdie grot – netjies uitgevoer en belig. Daar is verskillende inhamme waarin lang tafels gedek is. Ons klomp neem die hele een deel van die grot oor en wag in spanning vir die drankies om te arriveer.
Na ‘n heerlike lensiesop as voorgereg is dit die groot oomblik. Kebab in ‘n kleipot.
Die Turkse gasheer stoot ‘n trollie met ‘n groot kleipot tussen ons tafels in en begin verduidelik. Hierdie kleipot is aan die binnekant met deeg uitgevoer en gevul met beesvleis en allerhande bestanddele soos tamatie, aartappels, groente, speserye en kruie. Die pot word dan letterlik geseël en vir meer as agt ure gebak.
Vir die “vertoning” word ‘n groeplid gevra om die nek van die pot letterlik af te breek – natuurlik tot almal se vermaak om te sien wie die sterkste is. Die pot breek oop en die kebab (die vleis) word dan uitgeskep en na die tafels gebring. Ons almal eet saam uit dieselfde kleipot.
En dit tref my.
Saam.
Niemand kry sy eie pot nie. Daar word vir ons almal uit dieselfde kleipot geskep. Dieselfde kos. Dieselfde tafel.
Dalk is dit juis hoe die kerk begin het. Nie rondom ‘n preekstoel nie, maar rondom ‘n tafel. Nie in indrukwekkende geboue nie, maar in grotte. Nie met elkeen wat sy eie ding doen nie, maar met mense wat hul geloof, hul brood en hul lewens met mekaar gedeel het. Hulle het saam weggekruip. Saam geworstel met die groot geloofsvrae van hul tyd. Saam die Drie-eenheidsleer help formuleer. Saam aanbid totdat hul stemme teen die grot se mure weerklink het.
Vandag leef ons maklik anders. Ons is individualisties. Selfs in die kerk dink ons dikwels eerste aan óns gemeente, óns bediening, óns manier van doen. Dit geld ook vir my. Ek is die eerste een wat my eie uniekheid koester.
Binnekort kom honderde predikante van reg oor Suid-Afrika bymekaar vir ons SAAMkoms. Ná Kappadosië hoor ek daardie woord anders. Saam is nie bloot die tema van ‘n konferensie nie. Dit is die manier waarop die kerk gebore is. Rondom tafels. In grotte. Met mense wat geleer het om hul geloof én hul lewens met mekaar te deel.
Miskien het ons vandag meer programme as potte. Meer vergaderings as gedeelde etes. Meer bedienings as gemeenskap.
Dalk is dit tyd dat ons weer leer om uit dieselfde kleipot te eet.
Tussenin is ’n rubriek oor die lewe in die middel van dinge – waar stories, mense, klanke en stilte mekaar ontmoet. Zander van der Westhuizen skryf as pa, getroude, skrywer, musikant, radio-omroeper en predikant oor die oomblikke waar sin en seën onverwags opduik tussenin alles wat ons doen en probeer wees.
