Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Johannes de Villiers van Evertsdal skryf: Ds Jan Lubbe se rubriek getiteld “Gebed vir Goudini” lees mooi. Dit klink vroom, pastoraal en Christusgerig. Maar juis daarom moet ’n mens vra: Wat word beklemtoon – en wat bly buite beeld?
LEES OOK | Uit my Kerkdagboek: Jan Lubbe: Op die vooraand van PredikanteSAAMkoms, ’n Gebed vir Goudini
Lubbe neem ons terug na Worcester 1860, toe predikante bekommerd was oor geestelike vervlakking en die opkoms van die Moderne Teologie. Die ironie is dat hy hierdie geskiedenis gebruik, maar die huidige teologiese storm binne die NG Kerk grootliks onbenoem laat.
Hy noem oorlog, geweld, korrupsie, staatsverval, droogte, vloedskade en gemeentelike druk. Alles werklik. Maar waar is die vrae oor die kerk self? Waar staan die NG Kerk met die gesag van die Skrif, die belydenis, Christus, sonde, bekering en die grense van die gereformeerde leer?
Daarom is sy stelling dat Goudini “nie vir groot teologiese debatte of vreeslike sinodebesluite” is nie, opvallend. Predikante het rus nodig, maar rus mag nie ’n manier word om moeilike teologiese vrae te vermy nie.
LEES OOK |Regstreeks: In aanloop tot PredikanteSAAMkoms 24-28 Augustus
Lubbe bring ook prof Hanna Reichel prominent in die gesprek. Sy werk onder andere met queer theology en identifiseer haarself as nie-binêr. Dit beteken nie dat alles wat sy sê summier verwerp moet word nie, maar haar teologiese raamwerk is beslis relevante konteks. Die vraag is: Watter teologiese uitgangspunte word saam met hierdie stem die gesprek binnegebring?
Die slotaanhaling oor “totalitarianism” maak die saak nog skerper. As ideologiese oorheersing gevaarlik is, moet ons ook vra of dit binne die kerk kan gebeur wanneer sekere teologiese standpunte al hoe moeiliker gehoor word.
Daar is ook ’n konkrete Skriffout. Lubbe verwys na Lukas 4:25 vir Jesus se vraag: “Waar is julle geloof?” Die korrekte verwysing is Lukas 8:25. Waarskynlik bloot ’n redaksionele fout, maar dit herinner ons dat Skrifgebruik akkuraat en kontekstueel moet wees. (Die fout is intussen reggestel. – Red.)
My beswaar is dus nie teen gebed, rus of saamwees nie. Dit is teen ’n raamwerk waarin die storms buite die kerk maklik benoem word, terwyl oor die storm binne die kerk grotendeels stilgebly word.
Waar staan ons met die Skrif?
Waar staan ons met ons belydenis?
Watter invloede vorm ons teologie?
Lees Lubbe se brief daarom onderskeidend. Vra watter stemme ingebring word, watter vrae gestel word – en veral watter vrae nie gestel word nie.
Want die gevaarlikste storm is nie altyd die een wat buite raas nie. Soms kom dit stilweg binne terwyl almal dink hulle is besig om vrede te vind.
