Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Die beroep van predikant is ’n ongelooflik dinamiese platform. En in my eie roeping poog ek om elke stukkie van hierdie grondgebied te gebruik en te geniet of dit nou in die kerk, op die sportveld of in besigheid is," vertel ds Deon Els vir Jaco Strydom. Foto's: Verskaf

Deon Els, kopdokter vir rugbyspanne, dominee en vredemaker

Hulle noem hom die kopdoter van die Blitzbokke, die Springbok-sewespan wat onlangs gekroon is as wêreldkampioene. Behalwe vir die Blitzbokke is hy toenemend betrokke by verskeie ander professionele rugbyspanne as hoëprestasieafrigter, asook by leierskapsontwikkeling van nasionale en internasionale handelsmerke.

Deon Els is ook predikant by Helderberg-gemeente in Somerset-Wes waar hy saam met sy vrou en hulle twee dogters woon.

“Ek spot gereeld dat as ek langs die DHL-stadion staan dan verlang ek na die kerk en as ek by die kerk is dan verlang ek na die rugby,” sê hy.

Hy raak passievol wanneer hy praat oor die kerk, sport en die jongmense van Suid-Afrika.Die beroep van predikant is ’n ongelooflik dinamiese platform. En in my eie roeping poog ek om elke stukkie van hierdie grondgebied te gebruik en te geniet of dit nou in die kerk, op die sportveld of in besigheid is. Dit het my ’n rukkie gevat om te besef dat “die hele stuk grond” wat die Here gee deel van my bediening is. My roeping bly dieselfde maar die konteks verskil so nou en dan,” sê hy.

Deon het ’n PhD in Politieke Wetenskappe gefokus op konflikbestuur. Hy vertel van die groot lesse wat hy geleer het gedurende sy navorsing.

“Na 4 jaar se konfliknavorsing in plekke soos Irak, Iran, Soedan, Afganistan en vele meer, het dit duidelik geword dat daar aan beide kante van ’n vredemakingsproses verskillende verwagtinge rondom gelykheid heers. Vredemakers in die magsposisie dink anders as groepe sonder die voordeel van mag.”

Een van die groot draaipunte in sy lewe was toe hy sy vrou Liesel, vandag ’n pediatriese fisioterapeut, ontmoet het.

Ons gesels oor die effek van dikwels misleidende narratiewe oor die waarheid, in Suid-Afrika en die res van die wêreld, waar elkeen ’n stukkie van die waarheid het maar die groter prentjie dikwels ontbreek.

“Die uitdaging wat die wêreld tans in die gesig staar is ’n wêreldoorlog van algoritmes. En as kerk word ons ook hierby ingesluit en beïnvloed,” sê Deon.

Al werk Deon dikwels met konflik, is hy vol hoop vir Suid-Afrika en vertel van die mooi goed wat hy raaksien veral by jongmense in die kerk en op die sportveld.

Ek vra hom oor sy pad tot hier.

Een van die groot draaipunte in sy lewe was toe hy sy vrou Liesel, vandag ’n pediatriese fisioterapeut, ontmoet het.

“Dit het afgespeel in ’n kroeg in Pretoria. Die oomblik toe Liesel daar instap het ek geweet dat ek haar moet leer ken. Dit was nie so maklik nie! Aanvanklik was sy maar versigtig vir my. En dit is binne hierdie vriendskap waar ek besef het hoe die Here my roep. Sy was betrokke by ’n klomp kinders wat in veiligheidsorg geplaas is. Elke Vrydagaand het ons die pad Elandspoort toe gevat om hierdie kinders by die kerksaal daar te ontmoet. Kinders van alle agtergronde en stories. Min het ek geweet dat die Here besig was om ’n fondasie in my eie lewe in plek te sit vir jongmense en kinders. Daar was soveel aande wat ons daai kinders op ’n studente-budget kos gegee het en op een of ander manier het die Here altyd voorsien. Later neem ons die kinders op kampe en reël vir hulle beurse en borge om te studeer,” vertel hy.

Jare daarna sit hy en Liesel by ’n Josh Groban-konsert. ’n Jong studentemeisie het verbygestap. Die volgende oomblik draai sy om en kyk hulle vol in die oë en begin huil. En toe herken hulle haar. Sy was een van die klein dogtertjies wat hulle destyds mee gewerk het by Elandspoort-gemeente in Danville. Hulle kon haar help om ’n beurs te kry om te gaan studeer.

“Sy het pas haar studies voltooi. En net soos so veel kere vantevore, sien ek God se groter plan,” sê hy.

Ons gesels oor die groot rol wat sport speel om mense van verskillende agtergronde en kulture bymekaar te bring. Sy betrokkenheid by sport het hom al groot lewenslesse geleer.

Ek het geleer dat alle mense of jy nou die direkteur van ’n groot maatskappy of ’n Wêreldbeker Springbokwenner of ’n sukkelende student op universiteit is – ons almal beleef uitdagings. Daarmee saam is daar by almal ’n diep soeke om iewers te behoort, om iets te beteken. As gestuurdes het ons die voorreg om daardie stukkie van God in mense raak te sien en mense te help om dit te ontdek,” sê Deon.

Lees ook: Kerknavorsing oor ruimtes vir konneksie: Cheers, Bybel-en-Bier … Hello Koffiekroeg?

Deon praat met groot dankbaarheid oor die mense wat ’n invloed op sy lewe gehad het. Kollegas, die span by Helderberg, die orrelis van Somerset-Oos-gemeente – oom Hansie wat tagtig jaar oud is – en sy ouers.

“Die raamwerk waardeur ek na God kyk is ongetwyfeld neergelê deur ons ouers. Om na die wêreld te kyk en God te kan beleef en sien en geniet, is hoe hulle ons grootgemaak het. Die vermoë om sy lig te vind in mense wat anders is, mense wat dieselfde is, mense wat naby is maar in ’n ander wêreld leef. Ons ouers vind altyd die stukkies van God in ander. En ek dink dit is ’n kosbare deel van hoe ek na die wêreld kyk.”

Ek vra hom uit oor Helderberg-gemeente waar hulle tans ’n groot toename in lidmate sien, hulle het tot 12 eredienste op ’n Sondag.

“Sjoe, as ek dink aan Helderberg-gemeente en haar mense dan raak ek sommer bewoë. Een van die dinge wat Helderberg uniek maak, is dat die hele gemeente deur gemeentelede bestuur en gelei word. Elke bediening word deur ’n gemeentelid gedryf. Die personeel en predikante is aanvullend tot rigting en die passie van daardie bediening. Helderberg Uitreik, onder leiding van Melanie Smit, het 28 projekte wat strek van die Midde-Ooste tot hier op ons voordeur. Maar miskien is die belangrikste dat ons baie tyd spandeer om saam te groei in ons verhouding met Christus.”

Deon Els is ’n besige man. Vir ontspanning geniet hy fietsry en branderplank, maar kry min tyd daarvoor.

Hoe dink hy oor die rol en roeping van die kerk in Suid-Afrika?

“Ek vermoed dat baie kerke reeds ’n belangrike rol speel in hierdie land, maar ek dink ons onderskat wat ons nog alles kan doen. Ons hele bestaan as kerk is bedoel vir ’n land soos hierdie in ’n tyd soos hierdie.”

Ds Jaco Strydom is betrokke by die Echo-jeugbediening en die NG Kerk Villieria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top