Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dit het Gert Oosthuizen 15 keer se probeer gekos voor hy sy eie rybewys in Augustus in sy hand kon vashou. Baie kere wou hy moed opgee maar hulle jongste sien van babadae af kans vir uitdagings, vertel sy ma Elzet, lidmaat van Bloubergstrand-gemeente. Foto’s: Verskaf

Getuienis: ‘Ons wonderwerkkind ken van deurdruk, aanhou en geduldig wees’

Om jou eerste bestuurslisensie te kry is vir die meeste van ons iets om te vier, maar Elzet Oosthuizen van Bloubergstrand-gemeente vertel hulle gesin se vreugde was ekstra groot toe Gert, hulle jongste, deur 15 probeerslae vasgebyt het om sy eie rybewys te kan vashou.

“Gert Oosthuizen, jy het deurgekom. Jy het jou lisensie!” Dit was die woorde van die hoof van die Atlantis Verkeersdepartement. Die ander personeel het entoesiasties hande geklap. Almal was opgewonde dat hy uiteindelik deurgekom het. Dit was na drie lang jare van weer en weer probeer!

Toe hy 22 jaar terug vroeggebore is het ons as ouers nie geweet wat is die pad wat sou voorlê nie. Ek was 25 weke swanger toe hy skielik in die wêreld ingekom het – net ’n brose 795 gram.
Sy lyfie was so klein dat sy pappa se ring om sy armpie kon pas.

Die meeste dinge kom maar swaarder vir ons jongste, dit vat soms langer as vir ander. Toe hy 22 jaar terug vroeggebore is het ons as ouers nie geweet wat is die pad wat sou voorlê nie. Ek was 25 weke swanger toe hy skielik in die wêreld ingekom het – net ’n brose 795 gram.

Sy lyfie was so klein dat sy pappa se ring om sy armpie kon pas. Hy is onmiddellik op ’n ventilator geplaas om hom te help asemhaal. Sy vel was amper deurskynend en sy vinger- en toonnaeltjies was nog nie eens uit nie. Maar God het ’n volmaakte klein mensie geskep. Wat ’n voorreg om sy skeppingswerk voor ons oë te sien gebeur!

Lees ook: Huldeblyk aan Johann Symington: ’n Kerkman met verbeelding, warmte en ’n hart vir mense

Toe hy drie weke oud was, het hy ’n buikinfeksie ontwikkel wat sy derms geperforeer het. ’n Spesialis pediatriese snydokter moes ’n deel van die derms verwyder en Gert het ’n kolostomie gekry. Dit het 17 maande geneem sodat hy 5 kg kon weeg totdat die kolostomie toegemaak kon word.

Hierdie wonderwerkkind van die Here sien kans vir uitdagings. Hy het al twee keer die 42 km Kaapstadfietstoer klaargemaak.

Dit is natuurlik ’n kritieke tyd van ontwikkeling vir enige kind, maar Gert kon nie op sy magie lê nie. Dit het veroorsaak dat daardie kritiese nek- en armspiere eers later sou ontwikkel. Almal was bekommerd dat hy dalk nie sou kon loop nie, maar kort na sy tweede verjaarsdag neem hy sy eerste treë.

As gevolg van ’n matige gehoorgestremdheid, kon hy op 3 jarige ouderdom net ses woorde sê. Ons kon hom inskryf by die Carel du Toit-sentrum in Kaapstad, waar hulle ’n wêreldklasprogram aanbied om Dowe kinders te leer praat. Stadig maar seker verander die “geskree uit frustrasie” na taal wat ’n mens kan begin verstaan.

Dit is vir ons genade van die Here toe hy ’n plek in Jan Krielskool vir graad R kry. Hulle volg die hoofstroomkurikulum, maar akkommodeer al Gert se uitdagings wat insluit: outisme (ASD), aandagafleibaarheid (ADHD), probleme met sensoriese integrasie, angs en lae spiertonus aan die linkerkant. Dit sluit ook in die Department van Onderwys wat ’n skrywer/leser en meer tyd tydens eksamens toestaan. Hulle is engele uit die hemel – al die personeel by die skool!

Gert saam met sy ouers, Archie en Elzet, asook sy ouer suster Wilmari.

Gert se pappa moes voltyds “onderwyser” by die huis wees, aangesien Gert ouditief leer. Hy kom matriek deur – nog ’n wonderwerk van die Here, en antwoord op baie mense se gebede.

Hy is tans besig met ’n vakleerlingskap in sweis. Hoewel hy die teorie uitdagend vind, geniet hy die prakties baie. Hierdie wonderwerkkind van die Here sien kans vir uitdagings. Hy het al twee keer die 42 km Kaapstadfietstoer klaargemaak.

So was die kry van ’n eie bestuurslisensie ook ’n doelwit. Dit het drie jaar en 15 keer se probeer gekos voor hy al die fynere details wat die K53-toets vereis kon regkry. Baie kere wou hy moed opgee. Drie verskillende ryskole het probeer help. Deurlopend moes pa Archie ook help. Dit is maar die verloop van die lewe vir hierdie wonderwerk van God. Deurdruk, aanhou, nooit opgee nie, geduldig wees.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top