Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Nelus Niemandt onhou: Ek het Johann Symington dikwels gehoor preek en menige keer ná die diens gevra: “Johann, kan ek asseblief ’n afskrif van daardie preek kry?” Dan sou hy die stukkie papier waarop hy gepreek het, vir my wys – soms net ’n paar notas op ’n klein velletjie papier. Die preek was in sy kop en in sy hart.

Huldeblyk aan Johann Symington: ’n Kerkman met verbeelding, warmte en ’n hart vir mense

Mense wat Johann Symington oor die jare in Johannesburg, Welgemoed, Tokio, Wellington en op talle ander plekke hoor preek het, sal die helder, deurdagte, menslike prediking onthou, skryf Nelus Niemandt.

 

Met ds Johann Symington se afsterwe vandeesweek het die NG Kerk een van sy mees oorspronklike, kreatiewe en hartlike kerkmanne verloor. Johann was predikant, moderator, redakteur, skrywer, televisiepersoonlikheid en kerkleier. Maar dié beskrywings sê nog nie naastenby genoeg nie. Vir baie van ons wat die voorreg gehad het om ’n stuk pad saam met hom te loop, was hy bowenal ’n vriend, ’n medereisiger en iemand wat altyd nuwe moontlikhede kon raaksien.

LEES OOK: ’n Kuier by skrywer en kerkman Johann Symington

 

As ek aan Johann terugdink, is die eerste woord wat by my opkom kreatiwiteit. Kort daarna volg innovasie.

Johann het ’n besondere vermoë gehad om na iets waarmee almal reeds jare lank saamgeleef het te kyk en dan te vra: Maar móét dit regtig só wees? Kan ons dit nie anders doen nie? Beter doen nie? Meer menslik doen nie?

Ek dink veral aan sy vernuwende denke oor kerkvergaderings. Sy blootstelling aan groot organisasies en stelsels deur konsultasiewerk het hom intens laat nadink oor die manier waarop groot groepe mense saam besluite neem. Saam met mense soos Johan Herholdt en Marius Ungerer het hy begin eksperimenteer met nuwe vorme van gesprek, deelname en besluitneming.

Vir my was die sinodevergaderings van die laat negentigerjare en vroeë 2000’s van die vreugdevolste kerklike vergaderings wat ek ooit bygewoon het. Dit was deels te danke aan Johann en sy medewerkers se kreatiewe denke. Weg met lang rye mense wat na ’n verhoog kyk. Weg, sover moontlik, met die Westminster-styl van debat waar iemand wen en iemand anders verloor. Ons het rondom ronde tafels gaan sit. Ons het geleer om na verskillende stemme te luister. Ons het probeer om nie bloot meerderhede te mobiliseer nie, maar konsensus te soek.

Dit klink vandag amper vanselfsprekend. Destyds was dit nie.

Dié manier van dink het later ook sy weg na sittings van die Algemene Sinode gevind en ’n blywende invloed gelaat op hoe ons in die NG Kerk oor groot vergaderings, dialoog en onderskeiding begin dink het. Johann het verstaan dat die wyse waarop die kerk vergader, iets moet weerspieël van die kerk wat ons glo ons is.

Daar was nog ’n droom wat baie diep in Johann se hart gelê het: kerkeenheid.

Hy het intens omgegee oor die verhouding tussen die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk. In die jare toe ernstige en soms moeilike gesprekke tussen die twee kerke nog gereeld plaasgevind het, veral tussen die destydse Suid-Transvaalse sinodale gebiede, het Johann met oorgawe probeer om mense oor grense heen aan mekaar te verbind.

Een van my kosbaarste herinneringe uit daardie tyd is waarskynlik ook een van die mees tipies Johann-agtige idees denkbaar: Ons het ’n hele trein gehuur en predikante van die NG Kerk en VGK saam op reis na die Krugerwildtuin geneem.

Die kompartemente is doelbewus só ingedeel dat NG en VGK-predikante dit met mekaar gedeel het. Ure en ure saam in ’n trein. Saam eet. Saam praat. Saam lag. Saam reis. En dan weer die lang rit terug.

Glo my: teen die einde van daardie reis het ons mekaar geken.

Nie as verteenwoordigers van twee instellings nie, maar as mense. As broers en susters in Christus.

Dit was Johann. Waar ander ’n vergadering sou reël, het hy ’n reis bedink. Waar ander strukture wou onderhandel, wou hy mense aan mekaar voorstel.

Dit bly vir my hartseer dat die groter kerkeenheid waarvan hy so diep gedroom het, nog nie werklikheid geword het nie.

G’n koue intellektueel

Johann se kreatiwiteit het ook op ’n besondere manier tot uitdrukking gekom in sy tyd in die kerklike media. Hy het ’n fyn aanvoeling vir taal gehad, ’n liefde vir die woord en ’n instinktiewe begrip van die belang van goeie kerklike joernalistiek. As redakteur en kommunikasieleier het hy verstaan dat ’n kerkkoerant nie bloot ’n kennisgewingblad kan wees nie. Die kerk moet met homself en met die wêreld in gesprek tree.

Wanneer ’n mens vandag deur ou uitgawes van Kerkbode uit Johann se tyd blaai, val sy belangstelling in nuwe idees, veranderende kulture en die groot vrae waarmee die kerk geworstel het steeds op. Hy was nuuskierig. Hy het wyd gelees. Hy het die wêreld dopgehou. En hy het nooit gedink die kerk hoef bang te wees vir ’n goeie vraag nie.

Johann was inderdaad ’n intellektueel – maar nooit ’n koue een nie.

Daar was eintlik ’n akademikus in hom wat, na my mening, nooit heeltemal die loopbaan kon volg waarvoor hy die gawes gehad het nie. Hy was vir ’n tyd lank dosent in praktiese teologie en het later in Nederland aan doktorale navorsing gewerk. Uit daardie tyd kom een van die pynlikste stories wat hy my ooit vertel het.

Navorsing het destyds nog baie anders gewerk. ’n Mens het jou notas met die hand op klein kaartjies geskryf en dit sistematies in houtkissies georden. Ná ongeveer agtien maande se intensiewe navorsing het Johann ná ’n kort afwesigheid na sy studieplek teruggekeer – en ontdek dat sy navorsingsmateriaal verdwyn het.

Alles.

Maande se leeswerk, notas, gedagtes en verbande was weg.

Hy het later vertel dat hy gemeen het hy herken iets van sy denke in ’n ander publikasie, maar hy kon niks bewys nie en daar was eenvoudig nie genoeg tyd en geld om agtien maande se navorsing van voor af te doen nie. Ek weet hoe hartseer hy oor hierdie terugslag was.

Maar miskien het daardie praktiese teoloog tog op ander maniere sy werk gedoen.

Hy was immers ’n uitmuntende prediker.

Ek het hom dikwels gehoor preek en menige keer ná die diens gevra: “Johann, kan ek asseblief ’n afskrif van daardie preek kry?”

Dan sou hy die stukkie papier waarop hy gepreek het, vir my wys – soms net ’n paar notas op ’n klein velletjie papier.

Die preek was in sy kop en in sy hart.

En dan, tot my frustrasie, het hy soms die papiertjie opgefrommel. ’n Preek, het hy gesê, moet ná die tyd maar in die wind gegooi word.

Dit was tipies Johann. Die Woord moes geleef en gehoor word. Dit was nie in die eerste plek ’n teks om geargiveer te word nie.

Mense wat hom oor die jare in Andrew Murray, Welgemoed, Tokio, Wellington en op talle ander plekke hoor preek het, sal daardie helder, deurdagte, menslike prediking onthou. Hy het die Bybel baie goed geken. Sy jare in televisie, onder meer met programme waarin hy die Bybel vir gewone mense ontsluit het, het iets daarvan sigbaar gemaak: die vermoë om diep dinge eenvoudig te sê sonder om dit oppervlakkig te maak.

Maar wanneer ek Johann onthou, onthou ek miskien bo alles sy hartlikheid.

Ek het hom twee keer in Tokio besoek toe hy predikant van die Tokyo Union Church was. Japan is ’n samelewing waarin hoflikheid, formaliteit en persoonlike ruimte baie belangrik is. Jy leer hoe om korrek te buig. Mense groet mekaar met respek. Liggaamlike aanraking is veel minder vanselfsprekend as by ons.

Op ’n dag het ek saam met Johann in die straat naby die kerk gestap.

En toe sien ek iets merkwaardigs.

Van die gemeentelede wat ons teëgekom het – ook Japannese lidmate – het Johann nie net hoflik gegroet en voor hom gebuig nie.

Hulle het hom omhels.

Dit het vir my alles gesê wat ek oor sy bediening in Tokio nodig gehad het om te weet.

Johann het die kulturele afstand tussen mense met warmte oorbrug. Mense het geweet hierdie dominee het hulle lief.

Dieselfde warmte het sy bediening in Andrew Murray gekenmerk. Hy het daardie gemeente met onderskeiding, passie, verbeelding en liefde gedien. Ook daar het sy belangstelling in spiritualiteit en vernuwing konkrete gestalte gekry, onder meer in die ontwikkeling van ruimtes waar mense uit die gejaag van die stad kon terugtrek om stil te word. Ek onthou kosbare geleenthede waar ons saam diep geestelike reise onderneem en oor kerk, geloof, roeping en ons eie lewe nagedink het.

Johann het mense verbind.

Hy was ’n ongelooflike netwerker lank voordat “netwerking” ’n modewoord geword het. Sy wêreld het wyd gestrek – van predikante en teoloë tot kunstenaars, joernaliste, televisiepersoonlikhede, sakelui en bekendes. Deur sy televisiewerk het hy ’n verstommende aantal bekende Suid-Afrikaners leer ken. Hy het van hulle getrou, hulle kinders gedoop, families begelei en sommige uiteindelik begrawe.

Dit het soms gevoel asof Johann omtrent almal ken.

Ek het hom eenkeer tong in die kies gevra: “Maar Johann, ken jy dan vir koningin Elizabeth ook?”

“Nee, nee,” was sy antwoord. “Ek ken háár nie. Maar ek ken een van haar boesemvriende baie goed.”

Dit was Johann.

En agter daardie enorme netwerk was iets belangriker as kontakte: ’n opregte belangstelling in mense.

Johann het die prominentes geken, maar sy hart was net so oop vir die mens op die rand. Ek kan hom steeds hoor bid. Op sy besonder innige, soms ontroerende manier het hy gebid vir die eenheid van die kerk, vir mense wat uitgesluit word, vir die geringes, vir dié wat nie maklik ’n plek aan die tafel kry nie.

Daardie hart vir mense het tot aan die einde deel van hom gebly.

En dan was daar Hennie.

Johann het haar innig liefgehad. Haar afsterwe het hom diep getref. Hulle het ’n lang lewe en ’n merkwaardige bediening saam gedeel, ook ver van Suid-Afrika af. ’n Mens kan kwalik oor Johann se reis praat sonder om ook aan Hennie te dink.

Ons dink nou met besondere deernis aan Pieter-Jan, Suna en Claire, aan die kleinkinders en aan die hele familie.

Die NG Kerk groet in Johann Symington een van sy besondere seuns: ’n predikant met ’n fyn verstand en ’n groot hart; ’n vernuwer wat gedurig nuwe moontlikhede raakgesien het; ’n kerkman wat diep lief was vir die kerk maar juis daarom nooit tevrede was dat die kerk eenvoudig moes bly soos dit is nie; ’n prediker wat die Bybel geken en mense verstaan het; ’n vriend wat mense oor grense heen aan mekaar verbind het.

Miskien is dit wat ek die meeste by Johann sal onthou: hy het altyd geglo dat daar ’n ander moontlikheid is.

’n Vergadering kan anders werk.
Kerke wat vreemd vir mekaar geword het, kan mekaar leer ken.
Joernalistiek kan nuwe gesprekke oopmaak.
’n Gemeente kan ’n ruimte van gasvryheid word.
Mense wat normaalweg net voor mekaar sou buig, kan mekaar uiteindelik omhels.

Johann het geweet dat die kerk op sy beste is wanneer mense nader aan God én nader aan mekaar beweeg.

Ons groet ’n besondere predikant, kerkman, vernuwer, mentor en vriend met diepe dankbaarheid.

En dalk, Johann, was jy tog verkeerd oor die preke.

Party preke kan nie sommer in die wind weggegooi word nie.

Party woorde bly.

Party mense se lewens word self ’n preek.

Joune was een daarvan.


Prof. Nelus Niemandt beskryf homself as “vriend, kollega, reisgenoot van Johann Symington.”

 

 

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Huldeblyk aan Johann Symington: ’n Kerkman met verbeelding, warmte en ’n hart vir mense”

  1. Dankie Nelus vir die mooi lied oor Johann se mooi lewe.
    So het ons hom leer en so het hy ook ons jonger predikante geinspireer om ruimer te dink, eerder in te sluit as uit te sluit, eerder met mense as oor mense te praat.
    Hy was die verpersoonliking van wat dit beteken om Lief te he.

Comments are closed.

Scroll to Top