Johann Symington, die bekende predikant en skrywer wat op sy dag ondermeer ook TV-aanbieder en Kerkbode-redakteur was, is op 78 oorlede.
Symington is ná ’n lang siekbed aan hartversaking oorlede, het sy jongste dogter Suna Symington op Dinsdag 8 September aan Kerkbode gesê. Sy vrou Hennie is in Maart vanjaar oorlede. Die egpaar was die laaste paar jaar inwoners van die Kokanje aftree-oord in Modimolle in Limpopo.
Oor haar pa het Suna gesê hy was ’n merkwaardige, wyse persoon wat altyd die mooi in alles raakgesien het. “Hy het ons geleer om die mooi in kuns, musiek en in die lewe raak te sien. Hy was fenomenaal,” het sy bygevoeg.
Hy en sy vrou laat drie kinders agter. Die oudste, Pieter-Jan woon in die VSA met die twee susters, Suna en Claire in Suid-Afrika. Suna het bevestig daar sal ’n roudiens wees – meer besonderhede sal volg sodra die finale reëlings getref is.
Op 30 Junie vanjaar het Kerkbode ’n artikel oor ’n besoek aan Symington onder die opskrif ’n Kuier by skrywer en kerkman Johann Symington gepubliseer. Lees die artikel hier.
Symington het sy loopbaan in 1974 begin as gemeentepredikant by gemeentes op Colesberg, Parksig, Lynnwood en Andrew Murray (Johannesburg). Hy was hierna ook ondermeer moderator van die Sinode van Suid-Transvaal (vandag Sinode Hoëveld) en direkteur van kommunikasie in die NG Kerk, ’n pos wat onder andere redakteurskap van Kerkbode en LiG ingesluit het.
Tussendeur het hy op televisie hy bekendheid verwerf as aanbieder van reekse soos Bybelbloktyd en Die huwelik is ’n vervelige gewoonte, asook later die Ja-nee-reekse oor kykNET luidens die eCKE (elektroniese Christelike Kernensiklopedie).
- Hou Kerkbode dop vir ‘n In Memoriam.
- Berig na publikasie aangepas .
