“Johann Symington mag nou dalk aan die ouer kant wees, effens gekniehalter deur ’n gesondheiduitdaging of twee, maar jy sal hom steeds in ’n reuse-skare aan sy lag kan uitken. Daar is baie om oor hierdie dominee te vertel,” skryf Rudi Swanepoel.
Ek weet nie waar om te begin nie, want begin, móét ek, omdat daar iets in my is wat nie kan of mag wag tot hy oorstap nie.
Oor hierdie man is dit noodsaaklik om iets te sê, nie omdat hy belangrik of groot of invloedryk of slim of wys is nie, maar omdat hy liefgehad het.
My eerste indrukke van hom kom van baie vroeg in my lewe af. Was dit radio? TV?
Lees ook: Dominee bied blik op Japan
Hy was ’n publieke dominee, bekend as jy wil. Hy het gematig en kalm gepraat met ’n byna permanente glimlag op sy gesig en oë en wenkbroue en hande wat propvol lewe inkleur wat sy woorde skilder.
Ek sou later jare sy lag vir die eerste keer hoor: ontwapenend en vol vreugde soos die beste lagte op aarde altyd het.
Johann Symington mag nou dalk aan die ouer kant wees, effens gekniehalter deur ’n gesondheid-uitdaging of twee, maar jy sal hom steeds in ’n reuse-skare aan sy lag kan uitken.
Daar is baie om oor hierdie dominee te vertel.
Omdat ons hom gister (29 Junie 2026), twee weke na sy 78ste verjaarsdag, by sy huis gaan groet het, meld talle prentjies, indrukke en stories hulle by my aan.
In November 2009 begin ek by Andrew Murray-gemeente in Johannesburg werk, daar waar Johann ’n betreklik lang stuk van sy Woordbediening in die NG Kerk uitgeleef het.
Ek onthou hoe nuuskierig ek was oor hom, juis omdat sy spore so diep en mooi was.
Baie dinge is oorvertel, sonder uitsondering met bewonderende waardering.
Keer op keer op keer op keer was liefde die ontwerp, die fondasie, die sement en die poort.
Soos toe hy (was dit die laat 80s? Die vroeë 90s?) sonder die goedkeuring van enige sinode of die aanmoediging (na deeglike oorweging) van ’n kerkraad die siekes en sterwendes by die VIGS-hospies in Observatory besoek en bevriend en (uiteindelik) begrawe het.
Skaars ’n jaar later is ek en Carina getuies by die ATKV Woordveertjie-toekenningsgeleentheid toe daar by een tafel – die geleentheid is by Vodaworld in Midrand gehou met sulke groot ronde tafels en ’n skare glansryke gaste – na ete ’n lang ry mense vorm.
Ons het gewonder vir watter celebrity daar gewag word, net om agter te kom dat hulle geduldig wag om vir Johann en Hennie te groet.
Tekenend.
’n Paar jaar voor dit (was dit 2004?) is Johann een van die hoofsprekers by ’n nasionale saamtrek van NG predikante in die Callie Human-saal in Bloemfontein.
Terwyl die meeste ander sprekers akademies-rige taal praat en plek-plek neig om baie gekerk en effens valerig voor te kom, verruk Johann die gehoor met verwysings na Marilyn Monroe (by ’n kerkfunksie, die absolute skande!) en die eenmalige wonder van die gesproke woord.
Verstommend.
Ek sou later ontdek dat daardie warm glimlag enige komplimente of erkenning sou terugkaats na die gewer.
Hy het ’n baie vreemde manier om dit oor jóú te maak, al gaan dit oor hom.
Net gister vra ek hom of hy weet watter enorme invloed hy op my gehad het.
Hy antwoord dat ’n mens nie invloed kan meet nie en dat dit aan die einde van die dag nie oor hom gaan of gegaan het nie. (Hy het dit wel met ontroerende emosie en gewigtige nadruk gesê, wat ek nie eens sal probeer herhaal of naboots nie.)
Ek het nog sulke stories. Eintlik nogal ’n paar.
Maar ek gaan volstaan.
Johann, ek salueer jou. Nie omdat jy indrukwekkend of enigiets behalwe ’n volgeling van Jesus was nie.
Jou liefde vir mense skitter.
Dit sal vir altyd bly skitter.
En dankie.
Ds Rudi Swanepoel is predikant van die NG Kerk Aan-die-Berg in Johannesburg.
- Ds Symington was van 2004-2008 ook ondermeer direkteur van kommunikasie van die NG Kerk soos berig in die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE). Sy pos het redakteurskap van Kerkbode en LiG ingesluit.

Ek en Johan was toentertyd Admissie-klasmaats by Tukkies; hy is daarna Stellenbosch toe vir die teologie-opleiding, ek het by Tukkies gebly. Ek kan bevestig: Reeds as student het daar ‘n aansteeklike en opregte openheid en hartlikheid uit Johan gestraal. Dis eenvoudig wie hy is.
So lekker om weer iets oor jou te lees, Johan. Jammer om te hoor van die gesondheidsteruglae. Sterkte.