*Grace is vyf jaar oud en droom daarvan om skool toe te gaan, haar naam te leer skryf en met maats te speel. Gedurende die tweede week van Januarie 2026 het Grace en haar ma by een van CMR Gauteng-Oos se kantore aangekom. Hulle is vergesel deur die eienaar van ’n hawelose-skuiling op ’n plaas, wat die organisasie genader het omdat die gesin basiese benodigdhede soos kos en klere dringend nodig gehad het. Hierdie verhaal wys dat maatskaplike werkers nie net intree by krisisse nie, maar dat mense en gemeenskapslede ook self uitreik vir hulp wanneer omstandighede te moeilik raak om alleen te hanteer.
Wanneer mense uitreik vir hulp
Die eienaar van die skuiling het verduidelik dat sy en haar man voorheen self die inwoners soos Grace en haar ma kon ondersteun, maar weens veranderde omstandighede hulle nou self van ’n ouderdomstoelae moes leef. Grace se biologiese pa het geen kontak met haar nie en bied geen ondersteuning nie. Haar ma leef met ’n intellektuele gestremdheid, wat dit moeilik maak om volhoubare werk te behou of finansiële stabiliteit te verseker. Ten spyte hiervan verdien Grace die kans om te leer, skool toe te gaan en haar kinderjare te geniet. Die maatskaplike werker en die eienaar van die skuiling het onmiddellik saamgespan om kos en klere vir hulle te kry.
’n Klein geskenk, ’n groot oomblik
Tydens hulle eerste besoek het die maatskaplike werker vir Grace ’n groot teddiebeer gegee. Haar gesig het dadelik opgehelder. Dit was die grootste geskenk wat sy nog ooit gekry het. Hierdie klein gebaar was ’n bewys dat sy saak maak. Na intense gesprekke het Grace se ma die moeilike besluit geneem om Grace in alternatiewe sorg te laat plaas vir die nodige stabiliteit en om te verseker dat sy skool kan bywoon.
Die maatskaplike werker het haar bestuurder ingelig en die amptelike stappe met Grace se beste belange as die absolute prioriteit, is dadelik gedoen.
’n Moeilike besluit uit liefde geneem
In Mei 2026 is die hofbevel vir haar plasing in alternatiewe sorg uitgereik. Dit was ’n uiters emosionele dag.
Grace se ma het haar nie weggegee omdat sy haar nie liefhet nie. Sy het ’n reuse-opoffering gemaak sodat Grace geleenthede kan kry wat sy self nie kan bied nie. Ná ’n aanvanklike verblyf in ’n plek van veiligheid, is Grace einde Julie na haar permanente nuwe tuiste by ’n kinderhuis in Pretoria geplaas. Op pad soontoe het sy saggies vir die maatskaplike werker gefluister: “Ek wil my ma weer sien.” Die maatskaplike werker het haar dadelik gerusgestel dat kontakreëlings getref sal word.
’n Toekoms vol hoop
Grace se verhaal wys dat maatskaplike werk oor meer as net krisisse gaan. Dit gaan oor luister, gesinne ondersteun en oplossings vind wat ’n kind eerste stel. Vir Grace is hoop nou ’n skoolloopbaan wat wag, ’n klaskamer waar sy kan leer om haar naam te skryf, en ’n veilige plek om groot te word. Om hulp te vra is nie ’n teken van mislukking nie, maar ’n daad van moed en liefde. Soms begin hoop wanneer iemand eenvoudig sê: “Help ons asseblief.” Dit is die eerste groot tree wat lei na die deur vir ’n nuwe hoofstuk om te begin. ’n Hoofstuk gevul met leergeleenthede, stabiliteit en hoop.
*Naam verander om kind se identiteit te beskerm.
Meer oor Kerkbode se *storievennote
By die Christelike Maatskaplike Raad Gauteng-Oos glo ons dat elke storie van hoop die potensiaal het om ander te inspireer. Daarom deel een van ons personeellede elke maand ’n verhaal wat haar diep geraak het, ’n oomblik wat haar laat stilstaan en anders laat kyk het, en wat ons herinner aan die veerkragtigheid en menswaardigheid wat in elke gemeenskap leef.
Meer oor ons: As ’n nie-winsgewende organisasie lewer ons al meer as 40 jaar lank omvattende maatskaplike dienste wat daarop gerig is om mense sosiaal, emosioneel en ekonomies te bemagtig – ongeag ras, ouderdom, geslag of agtergrond. Met sewe kantore wat ’n wye gebied bedien, raak ’n toegewyde span van 15 maatskaplike werkers en vyf maatskaplike hulpwerkers daagliks lewens aan op maniere wat nie altyd in woorde vasgevang kan word nie.
