Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Uit my Kerkdagboek: Jan Lubbe: “Jesus, U is hier …”

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

“Days apart end and we return to the demands of our daily ministry that call for our attention.” Só begin Rueben P Job die laaste hoofstuk in sy klassieke werk oor spiritualiteit en die gawe van afsondering, stilte en verkwikking, A guide to retreat for all God’s shepherds (1994). Die Evangelies vertel ook van só ’n terugkeer, ’n afgaan teen die berg; drie van die dissipels wat besef hulle het iets buitegewoon beleef – die verheerlikte Jesus in helderwit, skitterende klere; Moses, die Wet; Elia, die Profete; die wolk en die Stem oor die Uitverkorene. Verward en verskrik is hulle, ja, maar ook Petrus op sy impulsiewe vrymoedigste: “Meester, ons is hier, laat ons drie hutte bou …” Hier is alles. Dít is die volmaakte. Maar Jesus lei die drie berg-af, terug, en sê dat hulle niemand moet vertel nie, totdat … Volgens Matteus en Lukas kom ’n groot skare hulle tegemoet, en word Jesus gevra om ’n siek seun te genees, want “die dissipels is gevra, maar hulle kon nie” (Matt 17:16; Luk 9:40). Volgens Markus loop hulle hulle aan die voet van die berg vas in ’n skare Skrifgeleerdes wat alweer met die ander dissipels staan en redeneer (Mark 9:14). Boonop, daardie onvergeetlike moment van ontmoeting en openbaring bo-op die berg, gebeur tussen die eerste en die tweede kere dat Jesus gesê het dat sý weg eintlik suidwaarts lei, Jerusalem toe, en daar wag ’n houtkruis, haat en hoon (Prophet). Die Berg van Verheerliking en die dal vol skaduwee, stryd, siekte en sterwe. Hoe keer ’n mens terug af daarnatoe?

Kyk ook: ‘Ek was daar’ | Storie-reeks oor SAAMkoms 2026: 7 dominees deel hul indrukke

Terwyl die sterrehemel stil oor die Slanghoekvallei hang, stap ek die berghang af na waar die bus onder wag om ons lughawe toe te neem, Vrydagoggend, 28 Augustus, 02:15. Teen die hang hurk die ander huisies; ons kollegas wat eers later die terugtog na hulle gemeentes ver hiervandaan aanpak, nog slapend. Ander figure met hulle bagasie sluit langs die pad aan, gedempte stemme. In my binneste draal die wysie en woorde, “Jesus, U is hier …” In diepe dank. Die gesigte en name van gespreksgenote die afgelope vyf dae kom weer op; huismaats, skoolmaats, klasmaats, jukgenote wat gehoorsaam was op die roepstem, “Volg My.” Momente dat oë ontmoet het, hart tot hart. Toe daar brood gebreek en aangegee is, wie ookal daar rondom jou was. Toe daar opgestaan is om vir iemand – hoe jy ookal gelei sou wees – te gaan sê: “Die Here het jou lief.” Aanhalings oor die verlede of projeksies oor die toekoms in paneelgesprekke. Stilword by ’n kunswerk. Hoe die netwerke onder jongmense werk, en die generasie van Spoegwolf. Kollegas wat ’n ánder pad oor ouerskap moes leer loop. Twee kinders in die geloof wat opgewonde wag op hulle baba. ’n Kleinseun wat gou kom groet het Maandagmiddag. ’n “Vriend’like vreemdeling” wat aanbied om ’n bekertjie koffie te koop, en of ons gou kan gesels? “Jesus, U is hier …” ’n Boekbespreking. Stoepstories. Wat is egtheid in pastoraat, en hoe gaan Kunsmatige Intelligensie ons bediening laat word? En die reëlmaat drie dae deur: die sewe staanplekke van Jesus uit die Lukas-evangelie. Twee maal per dag gedra deur die sing van Psalm 33 en Psalm 100, en “O Heer, my God” en die Lydensmusiek en die “Onse Vader.” En die voorlesing van Lukas 24 in Sesotho wat ons Vrystaters se oë nat laat. Frieda van den Heever wat sing oor haar swerftogte en haar Dominee Pa en “Tuiskoms”. Hoe keer ’n mens terug?

Dit is nou drie weke later. Johann Symington is oorlede en van De la Harpe le Roux moes ons by die Tweetoringkerk in Bloemfontein afskeid neem. ’n Familievriendin skryf uit Nepal oor ’n huismaat wat in die moddervloed weg is. Aan die Sinode van die Gereformeerd-Evangeliese Kerk in Australië dra ek ’n groeteboodskap oor, virtueel (11:00 hier, 19:00 daar in Brisbane); ’n paar bekende gesigte onder hulle. Saam bid ons. Met die Hervormde Kerk en deputate van die Gereformeerde Kerke het ons ’n intense gesprek oor ons onderlinge verhoudinge gehad, en oor die Skrif en Christus se regering in sy Kerk. Doopkategese. Gesprek met ’n egpaar wat skei.

Twee mentorstudente vir koffie. Die Kermiskomitee vergader. Hoopstad-gemeente word 150 en Berg-en-Dal 70. Die Madlanga-kommissie gaan voort en die ANC mis die kieserslys. Skielik saai ’n vermeende reeksmoordenaar(s) verskrikking aan die Oos-Rand, nege liggame al gevind! Kruise of sokkerballe? “The Greatest Rivalry”, die twee vliegtuie, sáám sing ’n nasie “Nkosi sikelel’ iAfrika”. Dít is hoe ons konteks hier onder die berg lyk. Ek lees Steve Hansen, die bekende voormalige All Black-afrigter, sê die Springbokke se “grootste sterkpunt is hulle roeping. Hulle speel vir iets baie groter as hulleself.” Hoe keer óns dan terug na ons huise en kerke?

Goudini was goed, baie goed. Vir dié wat daar was. “Trek uit jou sandale, dit is heilige grond.” Oppas om oor die hart van ’n ander te oordeel (Calvyn). Maar nie almal kón daar wees. Nie alle vrae is geantwoord nie – inteendeel: dit was ook nie die bedoeling nie, en die werklike waarde van daardie week weg sal in die jare wat voorlê vir die NG Kerk duidelik word. Want die lewe van ons kerk en die roeping van ons as dominees, lê nie daarbó (“in die euforie soos ná ’n CSV-kamp destyds”, sê ’n kollega), maar hier onder in die vallei. ’n Gebroke, maar innig-hoopvolle land waarheen Jesus ons self terugstuur. Rueben P Job skryf dat dit wat jy uit jou afsondering terugbring (dit wat jy dáár beleef het), moet die vrugbare gronde word vir ’n daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse afspraak. “To develop a simple pattern of life to give guidance and an own way of living in the companionship with the living Christ.” Sáám.

Die Sondagoggend ná Goudini, terug in ons gemeente, is dit my beurt by die gesinsdiens in die saal; heerlik saam met jong ouers en hulle kinders. Ek vat my kitaar, die woorde kom op die skerm en ek begin sing en so val die kinderstemme spontaan stuk-stuk in asof hulle dit nog altyd geken het: “Jesus, U is hier, U ster skyn deur die nag. Lei ons op u pad, Heer. Jesus, U is hier.” Vers 2, vers 3. “Jesus, U is hier, U Woord is brood wat voed.” Matildie Wium kom sonder bladmusiek, net op gehoor met die klavier by. Geen verduideliking. Nét dié eenvoudige belydenis, ’n diep en troosryke wete: “Jesus, U is hier.” Dan sal dit vir ons goed wees. En vir hulle rondom die kerk. Dank sy die Heer.

Ds Jan Lubbe is voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen en predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top