Die belang van interpersoonlike verhoudings, vrae oor nuwe soorte teologiese opleiding en ’n tekort aan vakkundigheid op kerkrade … Dit is drie van die temas in ’n praatjie oor belangrike tendense in die kerk wat prof Marius Nel op 14 Oktober by die NG Kerk in Noord-Kaapland se sinodesitting op Kimberley gelewer het. Heléne Meissenheimer deel ’n paar notas uit die vergadering.
Met verwysing na die jongste uitslae van die NG Kerk se vierjaarlikse Kerkspieëlopname het Nel gesê die data wys dat meer as 70% van lidmate ervaar hulle het ’n ontmoeting met God in die erediens.
Nel meen: Hoewel mense toenemend nie meer elke Sondag kerk toe gaan nie dink hulle nie aan hulleself as kerklos nie. Navorsing wys daar is by baie mense ’n diep soeke na outentieke ontmoetings met God wat nie deur tegnologie gefasiliteer word nie.
Nel is die ondervoorsitter van die sinode van Wes-Kaapland asook ’n teoloog verbonde aan Universiteit Stellenbosch, waar hy Nuwe Testament doseer.
Nel het ook die belang van verhoudings vanuit die data beklemtoon. Dit is outentieke verhoudings, “mense wat mekaar se naam ken”, wat mense aan ’n kerk verbind – nie programme nie.
Daar is ook tendense wat kommer wek, het Nel verduidelik.
- Kundigheid: Al hoe minder mense stel hulself beskikbaar as kerkraadslede. Dit laat ’n tekort aan kundigheid met finansiele bestuur en diensverhoudings. Die vraag ontstaan of Ringe die verantwoordelik moet oorneem.
- Fondse: Die era dat net dankoffers en kollektes gemeentes befonds is vinnig aan die verbygaan. Handelsaktiwiteite maak jaarliks ’n al groter deel van gemeentes se inkomste uit. Die NG Kerk sal meer gespesialiseerde advies oor die besigheidskant van gemeentes dringend moet deurgee. Nel gebruik dié beeld: Gemeentes is nou tentmakers.
’n Mens hoor by hom die pleidooi dat gemeentes aanpasbaar is: Die kerk moet mense ontmoet waar hulle is. Dit is die groter behoefte – nie om meer programme of strukture uit te dink in die hoop dat mense dan gaan kerk toe kom nie. “Ons moet plavei waar mense loop” het Nel aan die hand van ’n boumetafoor gesê.
’n Laaste twee tendense wat die besoekende teoloog uitgelig het, was rondom teologiese opleiding en die ouderdom van lidmate.
- Daar is ’n lewendige gesprek in die kerk oor die nuwe bane vir teologiese opleiding en bediening (die verskynsel van diensleraars en bedienaars, as aanvulling tot leraarposte). Die verskeidenheid saam met die tradisionele opleiding help die kerk. Dit gaan ook by die Algemene Sinode ’n besprekingspunt wees.
- Navorsing wys die gemiddelde NG Kerk se lidmaat leef 15-20 jaar langer as die algemene bevolking van SA. Die kerk het meer afgetrede lidmate as jongmense. Hulle kan in aktiewe bediening betrek word. Nel het gesê dit is ’n gawe van die Here.
